Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 73483 articles
Browse latest View live

Matriekvraestel lek uit

$
0
0
skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die departement van basiese onderwys het bekend gemaak dat ʼn matriekvraestel in Limpopo uitgelek het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het tydens ʼn mediakonferensie gesê die departement het omstreeks 06:00 Maandagoggend verneem dat die tweede vraestel vir lewenswetenskap uitgelek het. Alle Gr. 12’s om 09:00 dié vraestel geskryf.

Motshekga het aangekondig dat ʼn taakspan onmiddellik op die been gebring is om ondersoek in te stel na hoe die vraestel uitgelek het en wie almal daartoe toegang gehad het en voorstelle te maak oor die geloofwaardigheid van eksamens in die distrik en hoe die uitlek van vraestelle in die toekoms verhoed kan word.

Die minister het ook ʼn oorsigspan aangestel om, in samewerking met die provinsiale eksamenspan, die vraestelle wat nog geskryf moet word, te beskerm. Die skole wat onder verdenking is, word intussen onder “kwarantyn” geplaas.

Intussen word die skool wat onder verdenking is en die onderwysdistrik waarin dit val, nou ook onder eksamen-kwarantyn geplaas. Dit beteken leerders van die skole se vraestelle sal geoudit word om die leerders wat moontlik gekul het, te identifiseer. Die polisie en die Staatsveiligheidsagentskap sal die departement bystaan in hul ondersoek.

Die uitslag van die ondersoek kan onder meer bepaal dat leerders by die betrokke skole of leerders in die distrik of alle leerders in die provinsie, versoek kan word om weer die eksamen te skryf.


Nuuskommentaar: Terreur: Is ons reeds verslaan en verslaaf?

$
0
0

terreur-terrorismeMet die oë van die wêreld op die IS-aanvalle in Parys is dit ook nodig om te besin of die voortslepende studentegeweld in Suid-Afrika nie ook reeds grootliks op ’n sielkundige oorwinning vir die anargis dui nie. Daar is immers duidelike tekens van sielkundige en geestelike kapitulasie. Herman Toerien bekyk die situasie deur self bietjie oorkant die onkantlyn te speel.

Wanneer aanvalle soos dié van die IS op Frankryk plaasvind, kan ons maklik vergeet dat terreur ook ander manifestasies het – manifestasies waarvan Suid-Afrika nou ’n oordosis het en wat ten minste deels deur die #FeesMustFall-veldtog losgemaak is.

In haar rubriek in Netwerk 24, “Die aard van universiteite”, lys prof. Amanda Gouws van die US enkele van die vorme van geweld wat nou in die land onder die ontleedmes deurloop namate dit soos bont masels manifesteer:

“Die afgelope week, nadat die senaatsvergadering aan die UK ont­wrig is en studente op verskeie kampusse by geweld betrokke geraak het en ook polisiegeweld sigbaar was, was daar debatte waarin die konsep geweld op baie verskillende maniere gebruik is: studentegeweld, strukturele geweld, polisiegeweld, die geweld van bestuursbesluite, epistemiese geweld (van die kurrikulum), ekonomiese geweld, die geweld van die Westerse blik (hoe Westerlinge na die wêreld kyk) en verbale geweld.

“Al die tipes geweld is die afgelope week in skrywes vermeld. Wat ons hieruit kan aflei, is dat geen ruimte sonder geweld is nie. Maar beteken dit dat daar ’n hiërargie van geweld is of dat sekere tipes geweld geregverdig kan word? Is dit geregverdig om waterbottels in die gesig van ’n rektor te gooi omdat hy nie aan sekere eise kan toegee nie? Is die vandalisering van geboue en busse geregverdig omdat dit ’n uiting van ontevredenheid is? Of word die konsep geweld só breed gebruik dat dit betekenisloos word?”

Dit is goed en reg dat aspekte soos die oorsaak, manifestasies en oplossings van geweld deurlopend ondersoek word. Om die verworwe kennis sinvol in die aanspreek daarvan te konsolideer en toe te pas blyk ’n groot probleem te wees, soos die eerste instink ook ná die aanvalle op Parys om met wapengeweld toe te slaan en die oorsaak met geweld van die aardbol te vee – terwyl daar stemme opgaan dat dit niks sal help solank die oorsake nie aangespreek word nie. So ’n reaksie is, onvolledig soos dit mag wees, natuurlik belangrik, want dit tap in op die opgewelde emosies en toon ook aan die terroriste dat dit nie ’n geval van hulpelose slaansakke is nie – die wêreld kan immers verhinder dat terreurbewegings grondgebied beset en sogenaamde “no go”-sones vestig – met die nodige wil wat nou duidelik manifesteer.

Maroela Media het reeds tevore breedvoerig die onderliggende oorsake vir die opkoms van die IS en soortgelyke bewegings toegelig en gaan dit nie nou herhaal nie.

Die voortrollende manifestasie van studente-onrus by veral sommige universiteite beteken nie noodwendig die polisie en ander veiligheidsmagte moes die studente – en in besonder diegene wat hulle tot geweld gewend het (al was baie van hierdie boosdoeners eintlik ANC-agente soos sommige ontleders beweer) – genadeloos laat vervolg het vir onder meer die verbreking van hofinterdikte nie. Maar word die prys nie nou vir ongekende verdraagsaamheid betaal met hierdie voortgesette voortsnellende aksie waarin vandalisme nog gereeld manifesteer nie?

Wat lees ons? Vandag plaas Netwerk24 weer ’n rubriek van Max du Preez met die titel, “Kyk koelkop na legitieme eise”. Dit is maar deel van ’n koor wat vanuit die aanvang van #FeesMustFall deur verskeie ontleders aangeraak is, en wel reeds deeglik deur die politiek verreken is. Maar wanneer raak die hamer op die eentonige deuntjie nie meer bydraes tot die openbare diskoers nie, maar ’n vorm van kapitulasie waar die anargis as die alleen-oorwinnaar met sy buit van die toneel wegstap?

Was die openlike omarming van #OpenStellenbosch se “bydraes” en die oë-toemaak vir AfriForum Jeug, die DA se Daso en Adam Tas deur die rektor van die US en sy bestuurspan nie ook ’n vorm van kapitulasie nie?

’n Belangrike les is dat geweld – ook strukturele en sielkundige geweld – op kapitulasie teer, maar daar is ander aspekte ook ter sprake.

’n Kommerwekkende aspek is jong mense – ook studente – wat hulle in rubrieke uitdruk om nie net te kapituleer nie, maar dié standpunte “regverdig” deur dit te koppel aan “die groeiende swart woede”. Natuurlik is die “groeiende swart woede” ’n aspek wat deeglik onder oë geneem moet word, en die oorsake soos oorgeërfde armoede aangespreek moet word. Maar hoe lyk dit nou as ’n struktureel bevoorregte wit student (want nie alle wit studente is [meer] struktureel bevoorreg nie) die simpatie opeis ten koste van bepalings in die Grondwet, empiriese werklikhede soos alternatiewe keuse feitlik binne loopafstand, en vele meer? Watter ruggraatlose leier word so aan die samelewing gelewer terwyl op die aarde niks opgelos word deur “maklike uitweë” nie?

Dit is goed en wel om versoening ’n hupstoot  te gee deur ook “die pyn te deel”, maar dit is darem te dik vir ’n daalder om te verwag ander wat geen aandeel aan die pyn gehad het nie, moet ad infinitum met skuldgevoelens opgesaal sit en in die proses net meer en meer grondwetlike regte op die altaar plaas.

Daar is egter bepaalde tekens dat ’n groter deel van die samelewing van die harde werklikhede probeer ontsnap deur nuusblind te word, en dit neem verskillende manifestasies aan. Wanneer na tabelle en ander aanduiders van nuusgewildheid gekyk word, is dit baie dikwels nie die werklike groot nuusstories wat onder die gewildste tel nie. ’n Voos-geskryfde storie soos die Oscar Pistorius-sage skuif maklik bo iets soos die studentegeweld of stryd om Afrikaans in, en selfs die bloedbad in Parys. Haelskade verdring die droogte-impak en die gevolge vir die ekonomie wat elkeen gaan raak.

Zuma-bashing bly gewild eerder as dat die openbare debat oor die land se toekoms werklik behoorlik kan nes skrop by lesers.

Ander hou eenvoudig op om koerante te koop en druk die radio-knoppie as dit nuustyd is om iewers anders musiek of “musiek” te luister.

“Verdomming” is hierdie verskynsel al genoem – mense wat werklik nie meer kontekstueel weet wat hul, en hul nageslag se lewens en belange raak nie, maar steeds stembus toe mag opruk.

Dit moet nog ontleed word, maar wanneer laas is bemerk dat rubrieke soos dié van Blou Willem Theron en Petro Hansen onder die gewildstes in ’n publikasie tel soos voorheen gereeld gebeur het? Skrywers wat op hul eie manier ook daarop wys dat daar in Suid-Afrika ’n ander werklikheid as net die swaar en onaangename is. Wanneer laas het die idealistiese Ilse Bigalke haar hand aan die pen gewaag?

As verdomming, ontsnapping en kapitulasie ’n toonlose vlak van hulpeloosheid beskryf, kan die vraag gevra word of die anargis nie reeds gewen het nie. Uit lesersreaksies bly dit verontrustend in hoe ’n mate baie mense taai is om nuuswerklikhede in die oë te kyk, maar bereid is om die allergrootste bog blindelings te glo wat iemand vir hulle op hul selfone aanstuur. Ooglopende vals profesieë word gereeld vir soetkoek opgevreet en aangestuur sonder om vir ’n oomblik te bedink dis byvoorbeeld die allergrootste bog dat Kalifornië op ’n bepaalde datum deur ’n ongekende groot aardbewing getref gaan word net omdat twee planete na bewering in ’n lyn gaan verkeer nie. En dit het geblyk bog te wees. Jaar ná jaar word mense met die Mars-“grap” uitgevang.

Vandag stel Die Burger en Beeld teleur met ’n hoofartikel wat doodgewoon die populistiese siening oor die opkoms van die IS verwoord en niks rep oor die werklike onderliggende oorsaak soos die opkoms van die neo-Salafiste en die impak daarvan nie. In hul eie publikasies was daar immers volop uitstekende stof wat die geykte opvattings in duideliker perspektiewe stel.

Daar is silwer randjies. ’n Plan B waarvan die steunvlakke wyd sny en skynbaar groter word – mense wat nié wil kapituleer nie; Maroela Media se godsdiens- en soortgelyke rubrieke wat gewild bly, want in Hom is daar immers versekering en hoop. Oop koppe met verruimde insigte is egter ook belangrik.

Verslawing kom maklik. Die jongste Rasmussenpeiling dui daarop dat al hoe minder Amerikaners veilig voel – en dié opname is voor die aanvalle in Parys gedoen.

Griekse aardbewing eis lewens

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Na berig word is minstens twee mense dood na ’n aardbewing van 6,1 en verskeie naskokke in die see by Griekeland voorgekom het.

Die groot aardbewing was 14 km noordwes van Nidri aan die westekant van Griekeland.

Beide sterftes het op die eiland Lefkada voorgekom. In een geval is ’n sestigjarige vrou dood toe ’n muur op haar geval het, maar dit is nie duidelik hoe die ander vrou dood is nie.

Duisende mense het die strate ingevlug met die eerste aardbewing. Die eiland Korfu en die hawestad Patras het ook erg deurgeloop.

Aardbewings is ʼn redelik algemene verskynsel in Griekeland, maar lei selde tot sterftes. In 1999 is meer as 100 mense dood ná ʼn groot aardbewing Athene getref het.

Bronne: USGS en Trouw

Spur sê oor gerugte van kinderontvoerings

$
0
0
Argieffoto.

Argieffoto.

Gerugte doen weer die rondte op SMS’e en sosiale media dat kinders by speelareas van Spur-restaurante ontvoer word. Die restaurantgroep het mense weer gerusgestel dat dié ‘waarskuwing’ net bog is.

Die jongste “waarskuwing” lees: “Die GPF het berig dat pogings plaasvind om kinders by Spur-restaurante se speelareas te ontvoer. Kelners word eintlik betaal om klante se aandag af te lei en die kinders te ontvoer terwyl die ouers by die tafels sit. Moet asseblief nie kinders in enige stadium sonder toesig laat nie. Dit wil voorkom of ontvoerings toeneem met verskeie voorvalle wat in die Pretoria-omgewing aangemeld is. Wees asseblief waaksaam.

“N702[sic] het ʼn nuusstorie gedoen oor ʼn sindikaat wat in verskeie winkelsentrums landwyd bedrywig is en kinders ontvoer. Ouers word gewaarsku om hul kinders te alle tye by hulle te hou. Speelareas vir kinders is die maklikste plekke om kinders te gryp. Met die vakansie op hande waarsku die polisie dat ouers ekstra waaksaam moet wees as hulle gaan inkopies doen.”

Die restaurantgroep het in ʼn verklaring gesê die gerugte is vals.

“Ons is bewus dat valse gerugte weer op sosiale media versprei word oor kinders wat ontvoer word. Ons wil mense verseker dat die gerugte heeltemal onwaar, ongegrond en sensasioneel is. Daar was nog nie ʼn ontvoering of ʼn gepoogde ontvoering by ʼn Spur-restaurant nie,” lui die verklaring.

“Dié ondeunde ‘waarskuwings’ het twee jaar gelede begin kopuitsteek. Die saak is baie ernstig opgeneem en twee maatskappye wat spesialiseer in digitale speurwerk, is aangestel om die oorsprong daarvan te ondersoek. Die ondersoekers het vasgestel dit spruit uit verskeie vervalste sosiale media profiele.

“Geen klante het nog oor ʼn ontvoering gekla nie en geen voorvalle is by die polisie aangemeld nie.”

Die restaurantgroep het mense verseker dat kinders se veiligheid ʼn hoë prioriteit vir hulle is en daarom is kameras en oppassers by alle speelareas om die kinders se veiligheid te verseker.

Die groep het ʼn beroep op mense gedoen om die geldigheid of bron van ʼn boodskap te bepaal, voordat waarskuwings gedeel word. Hulle het mense ook versoek om nie dié ‘waarskuwing’ rond te stuur nie.

In Maart verlede jaar moes die groep ook soortgelyke bewerings ontken. Lees meer hier.

Swede stel weer grensbeheer in

$
0
0
Argieffoto/Jaz O'Hara/Facebook

Argieffoto/Jaz O’Hara/Facebook

As vlugtelinge gevra word waarheen hulle op pad is, is die antwoord meestal Duitsland of Swede.

Swede het egter intussen aangekondig dat sy grense strenger beheer gaan word. Alle treine, motors en veerbote, veral van die suide, sal vir 10 dae lank beheer word en daarna kan die noodmaatreëls herhaal word vir 20 dae op ʼn slag. Swede is deel van die Schengen-state en het reeds jare lank geen grenskontroles nie.

Sedert September het ʼn geskatte 80 000 vlugtelinge Swede bereik en die situasie is besig om buite beheer te raak. Die Sweedse minister, Anders Ygeman, het gesê die maatreëls is nodig omdat ʼn rekordgetal vlugtelinge die afgelope weke Swede binnegestroom het.

Swede het nie nog geskikte behuising vir al die vlugtelinge nie en dit is nou winter in Swede, volgens Mikael Hvinlung, spreker vir die Sweedse departement van migrasie. Die Sweedse minister, Morgan Johansson, het reeds onlangs genoem dat die grens van hulp vir vlugtelinge reeds bereik en uitgeput is.

ToekomsVenster: Laat u Naam geheilig word

$
0
0
gebed

Argieffoto.

Lees Matteus 6:9

Mense vind dit dikwels moeilik om te verstaan wat dit beteken om aan jouself te ‘sterf’, of om jou ‘kruis op te neem’. Wanneer ons egter na die oorhoofse temas van die Bybel kyk, word dit baie duidelik. Ons is geskep as God se verteenwoordigers. Dit beteken ons is veronderstel om sy Naam groot te maak, sy koninkryk te dien en sy wil te doen. Die versoeking om self soos God te wees het egter meegebring dat ons net vir onsself wil leef. Om te sterf aan jouself beteken dus onder meer dat jy moet sterf aan jou begeerte om self ‘n ‘godjie’ te wees wat net vir jouself leef en na jouself omsien, en dat jy weer sal begin leef as God se verteenwoordiger.

Ek glo dit is waarom Jesus sy dissipels geleer het om hulle gebed op dié manier te begin. Dit gaan oor die hart van die dinge waaraan ons vasklou en wat ons moet afsterf om weer te kan leef as sy verteenwoordigers.

 

[Foto’s] Bokke, skape beseer in ongeluk

$
0
0
Paramedikus C Lennox en N Scott van die padverkeersinspektoraat probeer om ʼn beseerde bok te kalmeer Foto: Rescue Care

Paramedikus C Lennox en N Scott van die padverkeersinspektoraat probeer om ʼn beseerde bok te kalmeer Foto: Rescue Care

Drie mense en talle bokke en skape is Dinsdag beseer toe ʼn vragmotor op die M7 naby die N2 in ʼn suidelike rigting in KwaZulu-Natal omgeslaan het.

“Die vragmotor het op sy sy gelê toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê. “Van die vee het op die besige snelweg rondgestaan. Talle vee het ernstige beserings opgedoen en moes deur beamptes van die Dierebeskermingsvereniging van kant gemaak word.”

Volgens Jamieson het die drie insittendes van die vragmotor ook matige beserings opgedoen en hulle is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die afrit na die N2-suid is gesluit terwyl nooddienste die toneel opgeruim het.

Dit is nog nie duidelik waarom die vragmotor omgeslaan het nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.
Die toneel op die M7 naby die N2-afrit in KwaZulu-Natal Foto: Rescue Care Paramedikus C Lennox en N Scott van die padverkeersinspektoraat probeer om ʼn beseerde bok te kalmeer Foto: Rescue Care

[Video’s] Wit Maties-studente afgejak; probeer standbeeld skoonmaak

$
0
0
Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Wit studente van die Universiteit Stellenbosch het Dinsdag gepoog om die standbeeld van JH Marais skoon te maak nadat ʼn band by die standbeeld aan die brand gesteek is.

Verskeie video’s is op sosiale media gedeel, waaronder ʼn video van die gebruiker @LudweMtakati wat wys hoe die studente uitgejou word.

Maroela Media het vroeër berig werkers en studente het Dinsdag asblikke en ander voorwerpe aan die brand gesteek tydens ʼn betoging by die universiteit.

Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê die werkers van buitemaatskappye betoog oor uitkontraktering. ʼn Groep studente het hulle by die werkers aangesluit.

WAARSKUWING: Kru taal kan in die video’s gehoor word en sensitiewe kykers en kinders word ontmoedig om daarna te kyk.


Sê jou sê oor US-taalbeleid

$
0
0
Stellenbosch-University

Universiteit Stellenbosch Foto: Cair.za.net

Verskeie oudstudente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandag, in samewerking met die vakbond Solidariteit, ʼn referendum oor die voorgestelde wysiging aan die US se taalbeleid van stapel gestuur. Studente, oudstudente en belanghebbendes word aangemoedig om hulle stem voor die raadsvergadering van 30 November te laat hoor.

Na druk uit verskeie oorde het die uitvoerende komitee van die US se Raad ’n mosie aanvaar waarvolgens Afrikaans se posisie nie gaan verswak nie. Dit het gevolg nadat die rektor, professor Wim de Villiers, aangekondig het dat Engels die verstektaal by die US gaan word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is dit nou noodsaaklik dat studente, oud-studente en die Afrikaanse gemeenskap se stem gehoor word. “Prof. de Villiers beweer dat dit uit gesprekke met studente-organisasies, insluitend Open Stellenbosch, geblyk het dat Matie-studente Engels as die universiteit se amptelike voertaal steun. Randdrukgroepe soos Open Stellenbosch, wat slegs ʼn paar honderd ondersteuners het, kan nie namens duisende Afrikaanssprekende studente praat nie,” het hy gesê.

Solidariteit het voorts aangedui dat die mosie wat pas deur die universiteit se uitvoerende komitee (UK) aanvaar is, ʼn positiewe tussenstap is. “Dit is ʼn belangrike veldslag, maar die groot oorlog lê nog voor. Die besluit van die uitvoerende komitee volg op druk uit verskeie oorde. Dit bevestig egter ook hoekom dit noodsaaklik is om druk te verhoog,” het hy bygevoeg.

Die referendum, waarvan die uitslae aan die Universiteitsraad voorgelê sal word om tydens die vergadering van 30 November te bespreek, sal die volgende twee vrae daarstel:

1. Moet Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch behou en uitgebou word?
2. Vertrou jy die huidige bestuur van die Universiteit van Stellenbosch om Afrikaans te beskerm?
Klik hier om aan die referendum deel te neem.

Lees alle vorige berigte oor die Universiteit Stellenbosch op Maroela Media.

Staking by parlement opgeskort

$
0
0
Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Nehawu-betoging by die parlement (November 2015) Foto: Twitter

Nehawu en die wetgewer se bestuur het Dinsdag bevestig die staking deur personeel by die parlement is opgeskort.

“Ons besluit om die staking op te skort spruit uit ʼn ooreenkoms wat ons met bestuur bereik het,” het Sthembiso Tembe, voorsitter van die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu)-vakbond se parlementêre tak, gesê tydens ʼn perskonferensie nadat hy die werkers toegespreek het.

Personeel by die parlement staak oor ʼn dispuut oor hoe hulle bonusse bereken word.

“Die ooreenkoms bevestig die vakbond se posisie in terme van die ooreenkoms wat ons in Maart onderteken het waarin aangedui word dat prestasiebonusse betaal sal word gebaseer op die jaarlikse pakket,” het hy verduidelik. “Die bestuur het dit goedgekeur.”

Nehawu en die parlement het ook ingestem om ʼn taakspan saam te stel, waar albei kante verteenwoordig word en buitepartye ingesluit sal word indien nodig, om die persentasie uit te werk wat aan werknemers uitbetaal sal word.

Gengezi Mgidlana, sekretaris van die parlement, het ook die ooreenkoms bevestig.

Die taakspan moet voor Vrydag aan werknemers terugrapporteer en hulle sal dan besluit of hulle bestuur se aanbod aanvaar of verwerp. Intussen sal die werknemers Woensdagoggend weer vir diens aanmeld.

Man spring na sy dood by Bloukransbrug

$
0
0
Bloukransbrug deur NJR ZA - Eie werk via Wikimedia Commons

Bloukransbrug deur NJR ZA – Eie werk via Wikimedia Commons

ʼn 36-jarige man, glo van Oos-Londen, het Dinsdag na sy dood gespring by die Bloukransbrug op die N2 naby Stormsrivier op die grens tussen die Wes-Kaap en die Oos-Kaap.

Volgens ooggetuies het die man sy silwerkleure VW Amarok naby die 216 meter hoë brug parkeer voor hy afgespring het.

Nooddienste was op die toneel om na die man se liggaam te soek.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die brug is bekend vir die hoogste kommersiële reksprong ter wêreld wat sedert 1997 deur Face Adrenalin aangebied word.
– TMG Digital/The Herald

Die land se 10 duurste voorstede

$
0
0
Clifton, Kaapstad (Foto: Bevan Langley)

Clifton, Kaapstad (Foto: Bevan Langley)

Indien jy in een van Suid-Afrika se tien duurste voorstede wil bly, gaan jy minstens R10 miljoen moet opdok vir ʼn huis.

Volgens FNB het die nasionale gemiddeld vir ʼn huis in Suid-Afrika vroeër vanjaar die R1 miljoen-kerf bereik, maar die gemiddelde prys in ʼn meer gegoede woonbuurt is R10 miljoen.

Sewe van die voorstede is in Kaapstad. Dit is Clifton‚ Bantry Bay‚ Kampsbaai‚ Fresnaye‚ Llandudno‚ Bishopscourt en Constantia (nie in volgorde van prys nie).

In Johannesburg bly die elite in Sandhurst, Westcliff en Dunkeld.

Volgens Seeff-eiendomsgroep word al hierdie eiendomme ná 2007/8 as Blue Chip-eiendomme beskou. Talle van die eiendomme, veral dié in die Kaap, word deur uitlanders besit. Eiendomme in Clifton, Bantry Bay, Fresnaye, Kampsbaai en die V&A Waterfront se gemiddeld is selfs meer as R10 miljoen.

‘n Huis in Kampsbaai is vanjaar vir $35 miljoen te koop aangebied.

Hiermee die lys van gemiddelde pryse:

1. Clifton (R19.75 miljoen)
2. Sandhurst (R14.9 miljoen)
3. Llandudno (R11.2 miljoen)
4. Bantry Bay (R11 miljoen)
5. Westcliff (R11 miljoen)
6. Bishopscourt (R11 miljoen)
7. Constantia (R11 miljoen)
8. Dunkeld (R10.5 miljoen)
9. Fresnaye (R10.5 miljoen)
10. Kampsbaai (R10 miljoen)

Roudiens vir vermoorde man kort voor troudatum

$
0
0
Nadia Treeby en Gavin Wolfswinkel. Foto: Facebook.

Nadia Treeby en Gavin Wolfswinkel. Foto: Facebook.

Gavin Wolfswinkel (32), wat Sondagaand op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria vermoor is, word Vrydag ter ruste gelê.

Sandra Wolfswinkel, Gavin se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy roudiens vind in die kerkgebou van die Collage-gemeente op die hoek van Gypsum- en Hornblendstraat in Elarduspark, in die ooste van Pretoria, plaas.

Maroela Media het vroeër berig Gavin en Lucky Sithome, sy vriend en kollega wat in ʼn afsonderlike huis op die kleinhoewe gewoon het, is Sondagaand omstreeks 19:45 deur drie gewapende mans doodgeskiet.

Die verdagtes het toegang tot die kleinhoewe gekry deur ʼn gat in die heining te knip. Die alarm het afgegaan en die twee slagoffers, albei in die boubedryf, is deur die aanvallers verras en oorval toe hulle gaan ondersoek instel het. Gavin is in die kop geskiet en Lucky in die bors. Hulle is albei op die toneel dood. Die verdagtes het gevlug sonder om iets te buit.

Gavin se verloofde, Nadia Treeby (33), was tydens die voorval in die huis. Hulle sou 12 Desember trou. Lees meer hier.

Gavin laat benewens Nadia ook sy ouers, Hennie en Sandra Wolfswinkel, sy broer en skoonsuster, Sean (40) en Marilyn Wolfswinkel en hul kinders Mia (4) en Ane (7), en sy suster en swaer, Chnay (36) en Deon Coetzer en Chnay se dogter, Merize Wolfswinkel (15), agter.

Reëlings vir Sithome se begrafnis is nog nie bekend nie.

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die Boschkop-polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die dubbelmoord in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

EFF-LP uitgegooi oor ‘wit seun’-uitlating

$
0
0
Mbuyiseni Ndlozi. Foto: Twitter

Mbuyiseni Ndlozi. Foto: Twitter

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, is uit die Nasionale Vergadering gegooi nadat hy geweier het om sy uitlating terug te trek.

Dean Macpherson, DA-LP, het tydens ʼn stemming oor die begrotingsoorsigverslag van die departement van kuns en kultuur opgestaan en daarop gewys dat Ndlozi nie in sy aangewese sitplek sit nie. Ndlozi het in die voorste ry gesit waar Julius Malema, leier van die EFF, en Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, gewoonlik sit.

Ndlozi het opgestaan en terwyl hy na Macperson gewys het, gesê: “Ek sal nie gemonitor word deur ʼn wit seun nie.” John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het beswaar aangeteken en die voorsittende beampte, Thoko Didiza, versoek om Ndlozi te dwing om die aanmerking terug te trek.

Didiza het ingestem en Ndlozi gevra om dit terug te trek. Ndlozi het Didiza egter uitgedaag om die naam te noem van die persoon na wie hy glo verwys het. Volgens Ndlozi verbied die parlementêre reëls nie veralgemening nie. “Dit was ʼn veralgemening, ons sal nie deur wit seuns gemonitor word nie.”

Didiza het Ndlozi hierna versoek om die Nasionale Vergadering te verlaat. Hy het geweier waarna hy verwyder is.

Parys-aanvalle: Vrou sterf tydens klopjag in ontploffing

$
0
0
Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys Vrydagaand. Foto: AP/Thibault Camus

Een van die tonele tydens die aanvalle op Parys Vrydagaand. Foto: AP/Thibault Camus

ʼn Vrou het haarself glo Woensdag in ʼn noordelike voorstad van Parys in Frankryk opgeblaas waar die Franse polisie besig is met klopjagte in hul soektog na die moontlike meesterbrein agter Vrydagaand se terreuraanvalle in dié stad.

Die klopjagte is by ʼn woonstelblok in Saint-Denis uitgevoer. Veiligheidsmagte vermoed dat een van die hoofverdagtes, Abdelhamid Abaaoud (28), en sy medepligtiges in die woonstelblok woon.

Die vrou het haarself glo opgeblaas kort nadat veiligheidsmagte op die woonstelblok toegeslaan het. Joernaliste wat naby die toneel was het die ontploffing en geweerskote gehoor. Franse media berig dat ʼn tweede persoon volgens gerugte doodgeskiet is en dat ʼn derde persoon in die woonstelblok vasgekeer is. Daar word bespiegel dat dié persoon Abaaoud is.

Drie mans wat in die woonstelblok was, is in hegtenis geneem. Hul identiteit is nog nie bekend nie. Drie polisiebeamptes is tydens die voorval ligtelik beseer. Die woonstelblok is naby aan die Stade de France-sokkerstadion, wat een van die teikens in die aanval was.

Tot dusver is 129 mense dood en meer as 350 mense beseer tydens ʼn reeks georganiseerde selfmoordbom- en vuurwapenaanvalle Vrydagaand by ses plekke in Parys. Minstens sewe van die aanvallers is in selfmoordbomontploffings dood en een is doodgeskiet. Speurders is steeds besig om van die aanvallers se identiteit te bepaal.

Militante van die Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar. Abaaoud het vir die IS-militante in Sirië geveg.

Die Franse polisie het vroeër aangekondig sewe mense is reeds in hegtenis geneem en die soektog na nóg verdagtes gaan onverpoosd voort.


Gedig: Ode aan die deur

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Louis Esterhuizen (Geb. 1955)

By die ingang, uitgang, sygang –
oraloor, by die voorkant
in, sydelings of agter uit, as toegang
tot al die ruimtes van gang:
die deur.

En die deur open op vertrekke
wat uitloop op die oopgelate deure
van agterkamers en ons loop
deur deure van hout, staal of glas –
enkeldeure, dubbeldeure, skuifdeure
of geheime deure, verbode deure
sonder sleutel of greep.

Uiteindelik, wanneer die stok
daarteen tik, die deur aan die bopunt
wat oopkraak, die deur van jou
drom, die deur wat almal vrylaat
die deur wat inperk, toesluit, bewaar –
gegraveerde deure, toegespykerde deure
traliehekke (deursigtig soos deure).
Aan die einde van die tyd
die deur

oopgelaat vir die nag
om sterre binne te laat, die deur
wat van jóú ʼn deur maak, smal of wyd.
En ek loop jou deur of loop
deur jou na die oorkant, anderkant

dit wat moontlik is verby –
my oomblik met jou in hierdie
tydskarnier

wat uiteraard eensaam is.
Soos ʼn deur.

Joost bring hulde aan Jonah Lomu

$
0
0
Lomu het Van der Westhuizen vroeër vanjaar besoek. Foto: @9Joost/Twitter

Lomu het Van der Westhuizen vroeër vanjaar besoek. Foto: @9Joost/Twitter

In 1995 het Joost van der Westhuizen gesê die voormalige Nieu-Seelandse vleuel, Jonah Lomu, het hom uitgedaag om sy beste spel te lewer.

“Vandag is dit vir my moeilik om met oë vol trane te skryf op my oogbegeleide-vertaler. Baie dankie vir alles Jonah. Rus in vrede my vriend,” het Van der Westhuizen op Twitter geskryf ná Lomu se skielike dood.

Die voormalige All Black het Dinsdag in Nieu-Seeland aangekom ná afloop van sy reis na die Brittanje vir die 2015 Wêreldbekerrugbytoernooi.

Lomu (40) is in 1997 diagnoseer met ʼn ernstige nierkwaal.

Die 1,9 m lange Lomu het sy opponente tydens die 1995 Wêreldbekerrugbytoernooi betower met sy spoed en krag, hoewel die Springbokke nietemin die eindstryd teen die All Blacks op Ellis Park gewen het met ʼn telling van 15-12.

Lomu het vroeër vanjaar ʼn dokumentêre prent Jonah Lomu: Back to South Africa in Suid-Afrika verfilm waarin hy besoek gebring het aan voormalige Springbokke van 1995. Aan die einde van die prent het Lomu by Van der Westhuizen, wat in 2011 gediagnoseer is met ʼn vorm van ʼn motorneuron-siekte, gekuier. In die dokkie beskryf Lomu vir Van der Westhuizen as ʼn goeie vriend en iemand wat hom op Ellis Park in sy spore gestuit het.

Van der Westhuizen het met behulp van ʼn oogbegeleide-vertaler teenoor Lomu erken dat hy hom altyd uitgedaag het hom sy beste spel te lewer.

In die emosionele toneel het die twee rugbyhelde herinneringe van die geskiedkundige oomblikke uit die eindstryd opgehaal. “Almal wat in daardie wedstryd gespeel het, het ʼn groot verskil gemaak in hierdie land en in wêreldrugby. Ek het jou nooit vertel watter voorreg dit was om teen jou te speel nie, my vriend,” het Lomu gesê.

Van der Westhuizen het erken dat vir hom net so ʼn voorreg was om teen die bekende held te speel.

Lomu het nederig gereageer en vertel hy onthou hoe baie Van der Westhuizen tydens die eindstryd gepraat het. “Ek het by myself gedink hierdie man kan nie ophou praat nie. Toe ek deur die lyn gehardloop het, het ek niemand om my gesien nie. Toe dink ek op ʼn stadium: ‘Waar is my bene heen?’ Dit was toe jy wat my platgeduik het.”

“Ek ken jou Joost, jy was die nommer nege wat my verhoed het om ʼn drie te druk. Jy het gekeer dat ons die Wêreldbeker wen. Ek weet jy gaan hierdie siekte oorkom, jy het daardie rugby-veggees in jou.”

Lomu het Van der Westhuizen geprys vir sy uitmuntende prestasies en hom gegroet met trane in sy oë.

Lomu het sy kort besoek beëindig deur ʼn foto van die eindstryd wat teen Van der Westhuizen se muur hang, te teken. “Belowe my dat jy sal aanhou veg, ek belowe ek sal dieselfde doen,” was sy woorde.

[Foto’s] Vrou sterf ná bus by steilte afrol

$
0
0
Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Vrou in haar 30s is dood en 17 mense is beseer, nadat ʼn bus Woensdag teen ʼn steilte naby Tzaneen in Limpopo afgerol het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die bus het die Deer Park-pad verlaat, verskeie kere gerol en op sy dak tot stilstand gekom.

“Die vrou is weens verskeie beserings dood nadat sy onder die bus beland het. Die brandweer moes deur die bus se dak sny om by haar liggaam uit te kom,” het Meiring gesê.

Die 17 beseerdes, waarvan twee kritiek was, is op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling.

Bus rolls down embankment killing one, injuring 17 (1)

Foto: ER24

 

Klein skoonheid wil mense help

$
0
0
Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Dunja Sargent (10), wat vanjaar in Mei as Miss Pre-Teen gekroon is, is tans besig met ʼn skoendoos-projek vir minderbevoorregtes. Dié jong meisie wat van Kempton Park afkomstig is, gesels passievol oor haar kroning en dié projek.

Vir Dunja was dit lekker om deel te neem en was sy vol selfvertroue en het geglo dat sy kan wen. “Dit was nogal ʼn moeilike kompetisie, want daar was ander meisies wat baie sterk was en wat verlede jaar ook deelgeneem het, maar met my vasberadenheid kon ek dit doen.” Die lekkerste deel van dié kompetisie, sê Dunja, is die feit dat sy soveel mooi rokke kon dra en al die maats wat sy tydens die geleentheid kon maak.

Miss Pre-Teen is nie net ʼn titel nie en sluit ook heelwat verantwoordelikheid in. Dunja is by verskeie organisasies betrokke en bring ook graag tyd deur saam met minderbevoorregte kinders. Die projek waarmee sy tans besig is, nooi mense om skoenbokse met toiletware te skenk. Dunja en haar gesin sal van Desember dié skoenbokse begin uitdeel. “Mense kan verskillende goed, soos waslappies, spuitgoed, tandeborsels en skeermesse in die boks sit. Ek wil graag soveel as moontlik bokse insamel – almal wat kan help sal ʼn groot verskil maak.”

As jy ʼn skoendoos met toiletware wil skenk, skakel gerus vir Yolandi by 076 180 6876 of besoek Dunja se Facebook-blad.

Woord van die jaar is… nie ʼn woord nie

$
0
0
Oxford Dictionaries se "Woord" van die jaar vir 2015

Oxford Dictionaries se “Woord” van die jaar vir 2015

Oxford Dictionaries het sopas hul “Woord van die jaar” vir 2015 aangekondig, en dit is nie ʼn woord nie.

Vir die eerste keer ooit is die woord van die jaar ʼn prentjie, ʼn “emoji”, en spesifiek die laggende gesiggie met trane van vreugde (sien aangehegte prentjie).

“Daar was ʼn hele aantal sterk aanspraakmakers, maar dié emoji is uiteindelik gekies as die “woord” wat die etos en bui en dit waarmee mense hulself besig gehou het in 2015, uitbeeld,” lui ʼn verklaring op die maatskappy se webwerf.

Volgens Oxford Dictionaries word “emojis” (die meervoud kan óf emoji óf emojis wees) al sedert die laat 1990’s gebruik, maar die gebruik daarvan, en die gebruik van die woord “emoji” het in 2015 skerp toegeneem.

“Oxford University Press het vanjaar met die tegnologie-onderneming SwiftKey saamgewerk om die frekwensie en gebruikstatistiek van die gewildste emojis dwarsoor die wêreld te bekom,” lui die verklaring verder. “Die ‘Face with Tears of Joy’ is gekies omdat dit in 2015 wêreldwyd die meeste gebruik is.”

Emojis is ʼn klein digitale prentjie of ikoon wat gebruik word om ʼn idee of emosie in elektroniese kommunikasie uit te beeld. Die begrip “emoji” is ʼn leenwoord uit Japannees, en is gevorm uit e (“prentjie”) + moji (letter, karakter). Dit klink ook soos die Engelse woord “emoticon” wat ʼn gesigsuitdrukking met sleutelbordkarakters uitbeeld, soos ;) of :) (eerder as ʼn gestileerde prentjie). “Emoticon” is geskep uit twee Engelse woorde, “emotion” + “icon”.

Die ander woorde wat ook oorweeg is, is:
ad blocker: ʼn stuk sagteware wat ontwerp is om te verhoed dat advertensies op ʼn webwerf vertoon
Brexit: ʼn begrip wat gebruik word vir die moontlike of hipotetiese onttrekking van die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie (gevorm uit British + exit)
Dark Web: dié gedeelte van die wêreldwye web wat slegs toeganklik is deur middel van spesiale sagteware, wat gebruikers en webwerfoperateurs in staat stel om anoniem en onopspoorbaar te bly
on fleek: uiters goed, aantreklik of stylvol
lumbersexual: ʼn stedelike jongman wat gesteld is op sy voorkoms en kleredrag (het gewoonlik ook ʼn baard en ʼn blokkieshemp) wat die indruk skep dat hy ʼn rowwe buitelewe-leefstyl het
refugee: ʼn persoon wat gedwing is om sy/haar land te verlaat om oorlog, vervolging of ʼn natuurlike ramp te ontvlug
sharing economy: ʼn ekonomiese stelsel waar bates of dienste gratis of teen ʼn fooi tussen privaat individue gedeel word, gewoonlik deur middel van die internet
they (enkelvoud): word gebruik om na ʼn persoon van ʼn ongespesifiseerde geslag te verwys
Lees meer oor die woorde op die kortlys

Viewing all 73483 articles
Browse latest View live