Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

Polisie op verdagtes se spoor ná Haenertsburg-plaasaanval

$
0
0

Argieffoto: ER24

ʼn Soektog is tans aan die gang nadat ʼn groep aanvallers Woensdagaand ʼn man en sy vrou op ʼn plaas in die Haenertsburg-omgewing buite Tzaneen so erg aangerand het, dat die man ure later aan sy beserings beswyk het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die aanval het op ʼn plaas gebeur en nie op ʼn kleinhoewe soos vroeër berig nie. Volgens Ngoepe het die aanvallers ná 22:00 by die huis op die Cheerio-plaas ingebreek en die egpaar, in hul 60’s, met onbekende voorwerpe aangerand. Die man is ook in sy been geskiet.

Die aanvallers het daarna met vuurwapens op die vlug geslaan.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het by hul aankoms op die toneel die man in die kombuis aangetref terwyl sy vrou in die kamer gelê het. “Die man het ʼn skietwond in sy been gehad asook groot wonde en frakture wat hom in ʼn kritieke toestand gelaat het. Die vrou het geringe beserings opgedoen,” het Meiring gesê.

Hy het gesê die man is op die toneel gestabiliseer voordat die egpaar na die Mediclinic Tzaneen gehaas is. Die man het egter ure ná sy aankoms by die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Ngoepe het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie is steeds op die spoor van die verdagtes. Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan ao. Andrew Ngamuni by 082 414 3031 of 015 276 6140 bel.


Republikeine-hoofsweep se skieter was ‘eenkantmens’

$
0
0

Steve Scalise. Foto: AP Photo/J. Scott Applewhite, File

Die man wat Steve Scalise, die Republikeine se hoofsweep in die Amerikaanse kongres, tydens ʼn bofbaloefening geskiet het, was ʼn “eenkantmens” en het glo in ʼn bussie gewoon.

Scalise het Woensdag ná die skietery ʼn operasie in die Medstar Washington Hospital ondergaan en is in ʼn stabiele toestand.

James T. Hodgkinson het Scalise Woensdag in Alexandria, Virginië, geskiet voordat hy deur polisiebeamptes doodgeskiet is. Die skietery het plaasgevind tydens ’n oefening van die Republikeine in die kongres se bofbalspan.

James T. Hodgkinson

Volgens die owerhede het die 66-jarige Hodgkinson glo sedert Maart in ʼn bussie gebly. Hy het glo ook aanlyn sy griewe bekend gemaak oor pres. Donald Trump en die Republikeine.

Trump het Scalise as ʼn “ware vriend en patriot” beskryf en gesê sy gedagtes en gebede is by hom.

Hodgkinson het ʼn handwapen en jaggeweer by hom gehad en ondersoekers probeer tans om die geskiedenis van die wapens vas te stel.

Hodgkinson is verskeie keer geskiet nadat hy op die groep mense losgebrand het. Twee polisiebeamptes en twee omstanders is ook geskiet. Volgens berigte is meer as 20 skote gehoor.

Gaan Donald Trump sy termyn kan uitdien?

$
0
0
donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com.

Nog lank voor Donald Trump ’n ernstige aanspraakmaker sou wees om die Republikeinse Party se kandidaat vir die presidentskap te wees, het sy mededingers veral aan die linkerkant van die politieke spektrum hom al afgeskryf. Die Huffington Post het byvoorbeeld aangedui as iemand iets oor Trump se verkiesingsveldtog wil lees, moet hulle die publikasie se vermaaklikheidsblaaie raadpleeg.

Trump was nie beïndruk nie.

Trump het deurgedruk en is tot president verkies, al het hy ’n lang rits flaters begaan. Sy vyande het egter nie by die verkiesingsuitslag berus nie, en druk word op elke denkbare en ondenkbare wyse op hom volgehou.

Die jongste klip in Trump se maag is ’n senaatskomitee se ondersoek na Trump se verkiesingspan se beweerde Russiese betrokkenheid. ’n Baie belangrike getuie is James Comey wat onlangs deur Trump as direkteur van die FBI afgedank is.

Soos te verwagte, was Comey se getuienis tot dusver erg skadelik vir Trump. Trump se pogings – ook deur sy gebruiklike twiets – om die angel uit Comey se getuienis te haal, was nie baie suksesvol nie.

In dié stadium, so lyk dit, kom Trump as’t ware te staan teen iemand wat wyd in die VSA gerespekteer word, en meer geloofwaardigheid as Trump geniet. Comey het so ver gegaan om Trump as ’n opperste leuenaar uit te maak.

En Comey kom tot dusver die beste daarvan af, hoewel die meerderheid Republikeine hom nog steun.

Volgens ’n nuwe Rasmussenpeiling beskou 45% van alle Amerikaanse kiesers Comey as meer geloofwaardig as Trump, en 37% weer Trump as meer geloofwaardig. Waar Trump aanvanklik gesê het Comey moet maar bid dat ’n gesprek tussen hulle nie op band opgeneem is nie, kon Comey nou met groot selfvertroue terugkap en sê hy sal die Here dank as die gesprek wél op band opgeneem is. Weer eens knak Trump se geloofwaardigheid.

Trump het teruggekap en aan ’n gehoor van ondersteuners gesê sy administrasie is onder beleg. Hy het ’n beroep op die groep konserwatiewe Evangelistiese Christene gedoen dat hulle wedersyds mekaar nie in die steek moet laat nie.

Uit nog ʼn peiling blyk dit dat net 46% van die kiesers tevrede is met hoe Trump sy werk doen, teenoor die 54% wat ontevrede is. Die werklike slegte nuus vir Trump is dat 43% van die kiesers erg ontevrede is, en net 29% baie tevrede is met hoe hy sy werk doen.

Altesaam 60% van die kiesers meen die Kongres, eerder as Trump, moet besluit of die VSA uit die internasionale Parys-klimaatverdrag moet tree.

Intussen, seker tot die verbasing van sy felste teenstanders, staan Amerika nog, en is Trump steeds in die stoel, al moet hy al meer en meer gaatjies in die dyk stop, gaatjies waarvan hy self ’n hele rits gemaak het.

As Trump nog lank president wil wees, sal hy moet leer om ’n wag voor die mond in te span, en na sy raadgewers te luister.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Lesotho-premier se vrou kort voor inhuldiging doodgeskiet

$
0
0

Foto: Google Earth

Die vrou van Tom Thabane, premier van Lesotho, is Donderdagoggend, ʼn dag voor Thabane se inhuldiging, dood nadat sy Woensdagaand geskiet is.

Lipolelo Thabane het in ʼn hospitaal aan haar beserings gesterf.

Hoewel daar nog min besonderhede oor die voorval beskikbaar is, word daar beweer dié voorval waarin sy en nog ʼn ander vrou gewond is, is polities gemotiveerd.

Dié voorval het vrese vir onstabiliteit in die bergkoninkryk net verder aangewakker. Thabane het in 2014 na Suid-Afrika gevlug omdat hy vir sy lewe gevrees het na ʼn poging tot ʼn staatsgreep. Thabane het eers vroeër vanjaar na Lesotho teruggekeer.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting Thabane se inhuldiging bywoon. Sy kantoor het in ʼn verklaring gesê hy sal die inhuldiging bywoon as verteenwoordiger van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het gewaarsku dat die SAOG nie enige staatsgrepe sal duld nie. “Dit is twee weke gelede baie duidelik gemaak aan almal in Lesotho,” het Nkoana-Mashabane gesê.

In Maart het Lesotho se parlement ʼn mosie van wantroue in die uittredende premier, Pakalithi Mosili, aanvaar. Dit het die weg gebaan vir die verkiesing wat op 3 Junie gehou is waartydens Thabane gewen het. Sy ABC-party het 48 van die 120 setels in die parlement verower, maar kon nie die 61 setels bekom wat benodig word om ʼn regering te vorm nie.

Thabane het gesê die ABC sal ʼn koalisieregering vorm saam met die Alliance Democrats, Basotho National Party en die Reformed Congress of Lesotho.

Die land met ʼn bevolking van sowat 2 miljoen mense was sedert onafhanklikheid in 1966 die slagoffer van verskeie staatsgrepe.

Londen-brand: Dodetal styg

$
0
0

Die uitgebrande Grenfell Tower-gebou in Londen (15 Junie 2017). Foto: AP Photo/Frank Augstein

Brandbestryders het Donderdag die laaste vlamme geblus van die brand wat ʼn 24-verdieping woonstelblok in die weste van Londen verwoes en tot die dood van minstens 17 mense gelei het.

Dany Cotton, Londense brandweerkommissaris, het gesê brandbestryders is besig om na nog slagoffers te soek, aangesien gesinne steeds vermis word. Volgens Cotton weet die owerhede nog nie presies hoeveel mense in die brand gesterf het nie en is brandbestryders getraumatiseerd omdat hulle nie meer mense kon red nie.

“Dit is baie tragies, maar ons verwag nie om nog iemand lewend te vind nie,” het Cotton aan Sky News gesê. “Die felheid en hitte van die brand was so erg, dit sal ʼn absolute wonderwerk wees indien enigiemand lewend gevind word.”

Meer as 200 brandbestryders het deur die nag gewerk en dele van die gebou is steeds nie veilig verklaar nie. Al wat nou oorbly is die massiewe uitgebrande gebou in die middel van die werkersklasbuurt.

Maroela Media het vroeër berig die brand het Woensdag in die vroeë oggendure in die Grenfell Tower-woonstelgebou in Noord-Kensington begin. Altesaam 74 mense is beseer, van wie 18 nog kritiek is. ʼn Onbekende aantal mense word vermis.

Die uitgebrande Grenfell Tower-gebou in Londen (15 Junie 2017). Foto: AP Photo/Frank Augstein

Ongeveer 600 mense het in die 120 woonstelle in Grenfell Tower gewoon. Verskeie huurders het jare lank gekla dat die gebou ʼn brandrisiko inhou.

Theresa May, Brittanje se premier, het onderneem dat ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand gedoen sal word. Sy het gesê sy beplan om vandag die toneel te besoek. Sadiq Khan, burgemeester van Londen, het gesê baie vrae moet beantwoord word oor die veiligheid van verskeie woonstelgeboue in die stad.

Muna Ali (45), ʼn vrou wat die brand oorleef het, het gesê die brand het haar aan die 9/11-tragedie herinner. “Die vlamme, ek het nog nooit so iets gesien nie. Die brand het op die hoër vloere begin. Goeiste, dit het so vinnig versprei. Dit het binne ʼn halfuur oral versprei.”

Meer as £1 miljoen (meer as R16 miljoen) is reeds ingesamel om slagoffers van die tragedie by te staan en vrywilligers en liefdadigheidsorganisasies het deur die nag gewerk om skuiling en kos vir die mense te kry wat hul woonplekke verloor het.

ʼn Mengelmoes idees vir koue winters

$
0
0

Winterdoendinge (Foto: Lekkeslaap)

As jy reken ’n Suid-Afrikaanse winter is vaal, vervelig en alewig snerpend koud, sit jy die pot effens mis! Ons winter is ’n mengelmoes van ysige droë dae op die Hoëveld, ’n subtropiese paradys aan die Olifant- en Dolfynkus en gietende reën in die Moederstad*. Bome skud hulle blare af, die bergspitse kry spierwit sneeukombersies, wild is makliker sigbaar en die reuk van vars grond hang orals in die lug.

Dis boonop buiteseisoen en spesiale aanbiedings is volop. Daar is ook ’n skoolvakansie in die hartjie van die winter wat ideaal is vir ’n gesinswegbreek. So, wonder jy nog wat jy dié winter kan doen om die koue te verdryf? Hier is 15 doendinge eie aan ’n winter in Suid-Afrika wat hope pret en plesier vir jonk en oud beloof!

1. Wildkyk

My Bushhouse (Bayt AlGaba) (Foto: LekkeSlaap)

Winter en wildkyk is sinoniem in Suid-Afrika. Die Bosveld se welige plantegroei raak yl en vaal wat dit makliker maak om daardie ontwykende groot kat in lewende lywe te gewaar. Daar is ook minder muskiete wat jou nagrus versteur en al om jou kop zoem wanneer jy langs die kampvuur sit en luister hoe ’n leeu in die verte brul. Omdat dit buiteseisoen is, het baie wildreservate en -lodges spesiale aanbiedings sodat jou winterwegbreek jou darem nie te veel geld uit die sak jaag nie.

Shamwari Game Reserve (Foto: LekkeSlaap)

As jy dus ’n middel-van-die-jaar-blaaskans benodig of nog altyd wou sien waar die Groot Vyf koning kraai, is ’n wildkykwegbreek in Mpumalanga se Krugerwildtuin, die Hluhluwe-iMfolozi Park in KwaZulu-Natal of die Oos-Kaapse Shamwari Game Reserve nét vir jou beskore. Jy kan ook ’n paar rand spaar deur net buite die wildtuin te bly en die Kruger bedags te besoek. Kliek gerus hier vir sakpasverblyf buite die Krugerwildtuin, hier vir spesiale aanbiedings landswyd en hier vir ’n aantal wildkykwenke wat jou handig te pas sal kom.

2. Sneeukyk

Ouma Jossie se Huis (Foto: LekkeSlaap)

Al lê sneeu nooit meters diep op jou drumpel nie, is dit darem nie die vreemdste verskynsel vir Suid-Afrikaners nie. En wanneer die eerste sneeuvlokkies op die berge begin neersak, is dit beslis iets om te beleef. Sneeukyk is ’n uitstappie wat jy, jou gesin en vriende baie sal geniet en sommer nog lank sal onthou. Bou ’n sneeuman, versier Olaf met ’n mus, serp en wortelneus en speel sorgeloos in die winterwit wonder.

Jakkalsdans Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Die Drakensberge is ’n immergewilde winterbestemming waar dit veral op Cathedral Peak en by Underberg sneeu. Clarens in die Vrystaat, Rhodes in die Oos-Kaap en die Noord-Kaap se Sutherland is ook sprokiesagtige sneeukykplekke. Kapenaars kies weer koers na die Matroosberge net buite Ceres en die Sederberge om kaperjolle in die sneeu te maak. As jy wil sien of daar dalk ook ’n bietjie sneeu in jou geweste skuil, kliek gerus hier. Onthou om warm aan te trek en moenie jou waterdigte stewels vergeet nie!

3. Walviskyk

Whale View Manor Guesthouse & Spa (Foto: LekkeSlaap)

Die noordkapper- en bultrugwalvisse besoek ons kus jaarliks tussen Julie en November om te paar, te kalf en in die branders te baljaar. Valsbaai, die Walviskus in die Overberg en KwaZulu-Natal se Suidkus is alombekende walviskykbestemmings waar jy sommer op die strand kan staan en kyk hoe die grootste soogdier op aarde in die oseaan rinkink en sproeipluime spuit.

Whalesong Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Boonop hou Hermanus elke September ’n Walvisfees wat jy beslis nie moet misloop as jy ook dié ou grotes wil bewonder nie. Daar is selfs ’n paar blyplekke waar jy die reuse van jou bed af kan gewaar. So, kliek gerus hier as jy op soek is na slaapplek naby die walvisse se speelplek!

4. Roetereis

Jakkalswater Gasteplaas (Foto: LekkeSlaap)

Wanneer jy in die somer die langpad vat, bring jou motor se lugversorging darem ’n bietjie lafenis maar jy moet steeds uitklim om bene te rek en dan fel die son genadeloos op jou neer. Daarom stel ons voor dat jy eerder gedurende die wintermaande moet roetereis wanneer ’n warm koffiefles en tydlose treffers op die radio enige koue laat wyk. Jy sal ook nie so vinnig moeg raak as jy die langpad in koeler weer aanpak nie en daar is werklik iets vertroostend aan reëndruppels teen jou motorruit. Die meeste nasionale paaie is ideaal vir roetereis en neem jou deur skilderagtige landskappe en verskeie plattelandse dorpe met tuisnywerhede en snuffelwinkels.

N2-roetereis (Foto: Pieter Wolhüter)

As jy beplan om vanjaar die Weskus se N7 te volg, kliek gerus hier om te kyk watter winkeltjies op jou wag. Daar is ook ’n hele rits interessante stopplekke as jy die N2 tussen Kaapstad en Port Elizabeth wil neem ─ kliek gerus hier as jy ’n lysie wil maak. Om dit alles te kroon gee ons jou ook lekker langpadwenke sodat die kilometers sommer in ’n japtrap verby kan vlieg!

5. Voetslaan en bergklim

Elephant’s Eye-roete (Foto: Ankia Wolf)

Jy dink dalk stap en bergklim is net vir die somermaande bedoel, maar ’n sonnige wintersdag is eintlik die ideale geleentheid om ’n bietjie oefening te kry en Tafelberg uit te klim sodat jy dit uiteindelik op jou emmerskoplysie kan afmerk! Jy behoort minder te sweet, nie so gou moeg te raak nie en jou ook nie in die bloedige son te verbrand nie. Suid-Afrika se landskap het ’n oorvloed stap- en bergklimroetes wat wissel in moeilikheidsgraad. Dié roetes sal beginners en gesoute stappers se vernuf beproef en jou met pragtige uitsigte beloon.

Shoreline of the San-roete (Foto: Adriëtte le Roux)

Die Otter-staptoer op die Tuinroete is een van die bekendste staptoere in ons land en is ’n móét as jy ’n kranige stapper is. Die Drakensberge bied ook verskeie staptoere en die Magoebaskloof-roete in Tzaneen se toere wissel van ’n uur tot vyf dae. ’n Warm wintersdag by die see is ’n bonus en as jy dit met ’n bietjie oefening wil kombineer, kan jy slenterstap aan die Weskus en teen die Oos-Kaap se kus. As jy meer inligting oor van ons land se gewildste en uitdagendste staptoere soek, kliek gerus hier.

6. Haaihokduik

Omdat die seewater in die winter warmer is, is witdoodshaaie op die aanval en jag hulle robbe, veral by Dyer- en Robeiland. Die koeler seisoen maak dit ook makliker om dié roofvis raak te sien omdat die stormweer die planktonryke oppervlak weggewaai het. Dís waarom die Wes-Kaap se koudste maande die ideale tyd is om van aangesig tot aangesig met die oseaan se gevaarlikste vis te kom.

Dié uitstappie sal beslis die bloed vinniger deur jou are laat pomp, veral wanneer jy sien hoe dié gevreesde vis ’n homp vleis verskeur! As jy waaghalsig is of nog altyd wou sien hoe ’n haai vir jou grynslag, is dié adrenalienbelaaide uitstappie net wat jy nodig het. Daar is verskeie Kaapse kusdorpies waar jy dié avontuur kan aandurf, maar die Overberg en veral Gansbaai is die perfekte plek.

7. Swem

Blue Waters Hotel (Foto: LekkeSlaap)

Swem is waarskynlik die laaste ding waaraan jy in die winter dink. Maar as jy baie graag in die bibbermaande die seesand tussen jou tone wil voel en in die branders wil rondplas, is Durban die ideale bestemming. Hiér is die water regdeur die jaar louwarm ─ perfek vir swem, branderplankry en snorkel.

Little Eden St Lucia (Foto: LekkeSlaap)

Dié stad se subtropiese klimaat maak dit ook een van die beste bestemmings tydens die skoolvakansie met ’n magdom doendinge vir die jongspan, soos die uShaka Marine World, Giba Gorge Bergfiets Park, Pavillion Winkelsentrum en die Umgeni River Voëlpark. Die Durban July-perdewedren word ook jaarliks op die eerste Saterdag in Julie aangebied en lok besoekers wêreldwyd.

Ander KwaZulu-Natalsedorpies waar jy ook in die Indiese Oseaan se waters kan rondploeter en menige uur op die strand kan deurbring, sluit Margate, Ramsgate, St Lucia, Zimbali en Ballito in. So, bederf jou en jou gesin vanjaar met ’n strandvakansie in die hartjie van die winter!

8. Blommekyk

Grootvallej Plaas Akkommodasie – Blommehuisie (Foto: LekkeSlaap)

Beplan jy om eers in die laatlente te gaan blomme kyk? Dan wag daar waarskynlik ’n teleurstelling op jou! Die beste blommekyktyd is in Augustus en September wanneer die bloeisels begin bot en die velde met die soetste geure en helderste kleure getooi word. Jy kan in ’n reservaat of in die oop veld gaan blommekyk en dié uitstappie is nie volmaak sonder ’n piekniekmandjie nie. Namakwaland is sinoniem met blommekyk, maar die Weskus bied ook ’n blommeprag soos min.

Skilpad Farm (Foto: LekkeSlaap)

As jy óók wil sien hoe Moeder Aarde glimlag, moet jy beslis vanjaar gaan blommekyk. Kliek gerus hier om na ons blommekykgids te loer en hier as jy wil weet waar jy nog vrolike veldblomme kan aanskou.

9. Kamp

Platbos Forest (Foto: LekkeSlaap)

Kamp is nie vir almal nie, maar as jy ’n kampmens is, sal ’n bietjie koue jou definitief nie afskrik nie. In die somer word daar teen die kus gekamp, maar in die wintermaande kamp jy in die bos. Suid-Afrika het legio winterkampplekke ─ jy moet net besluit waarheen jy wil gaan!

Blouberg Camp (Foto: LekkeSlaap)

 

Golden Gate Highlands Nasionale Park in die Vrystaat is baie gewild in die somer, maar dié geweste is net so mooi in die winter en spog dikwels met sneeu. Daar is gewoonlik ook minder mense wat in die winter hier kamp, so dis lekker privaat en rustig as jy die koue wil trotseer. Die Suidelike Drakensberge se Underberg en Himeville is die ideale kampplekke vanwaar jy ’n 4×4-toer na die Sanipas kan reël om die asemrowende sneeulandskap te bewonder. Jy kan natuurlik ook in die Krugerwildtuin gaan kamp as jy so na as moontlik aan die diereryk wil wees. Hoewel die Noord-Kaap snikheet in die somer is, sal die winterseisoen se stilte en rustigheid jou beslis bekoor en is die Richtersveld Nasionale Park die ideale boskampplek as jy net wil ontspan. Kliek gerus hier vir nog ’n paar kampopsies.

As jy nie so vertroud met kamp is nie of net weer jou kampgeheue wil verfris, kliek gerus hier vir tientalle kampwenke wat so reg in jou kraal sal pas!

10. Sardienloop

The Stone House (Foto: LekkeSlaap)

Die sardienloop is ’n jaarlikse natuurverskynsel wat jy tussen Mei en Julie aan die Oos-Kaap se Noordkus en KwaZulu-Natal se Suidkus kan gadeslaan. Tydens dié maande vloei ’n koue noordelike seestroom vanaf Agulhas na Mosambiek wat miljoene sardientjies in ’n enorme skool laat saamtrek en hulle pad na die noorde toe laat oop vreet. Dis ook hulle broeityd, maar terwyl die sardientjies so naby die kus plankton verorber, is hulle ’n teiken vir roofvisse en -voëls. Sodra dié skool dan deur die gevaar opgemerk word, ontaard dit in ’n waansinnige verslinding.

The Stone House (Foto: LekkeSlaap)

As jy so na as moontlik aan dié reuse-gebeurtenis wil wees, kan jy jou paddavoete aantrek en ’n opwindend snorkelsessie aanpak. Gesoute skubaduikers sal ook met fassinerende jagtogte beloon word soos stompneuswalvisse, dolfyne, robbe en haaie hulle trommeldik aan die hulpelose sardientjies vreet. Dié vissies word ook vanuit die lug deur gulsige Kaapse malgasse gejag wat soos vegvliegtuie op die water neerdaal.

Nie almal wil dit egter só naby waag nie en daarom kan jy ook dié raserny van ’n boot af of op die strand dophou.

11. Wynproe

MolenVliet Wine & Guest Estate (Foto: LekkeSlaap)

 

Suid-Afrika se wynboubedryf is wêreldklas en sluit die Kaapse Wynlande, Boland en die R62-wynroete in. Die skilderagtige Stellenboschberge en Breederiviervallei sal jou stellig ook in vervoering laat. Dis waarom ’n wynproesessie op ’n spogwynplaas ’n goeie verskoning is om jou huis op ’n wintersdag te verlaat. Wynproe kan ook met verskeie ander lekkernye gekombineer word, soos sjokolade, kaas en olywe ─ kliek gerus hier om meer oor dié unieke proe-ervarings te lees. Hier is ook vyf Robertson-wynplase waar jy heerlik aan topwyn kan teug.

 

Wagon Wheel Country Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Boonop is min dinge so gesellig soos ’n glas goeie rooiwyn voor ’n knetterende kaggelvuur. So, nooi jou vriende op ’n wintersaand oor om ’n glasie rooi, port of sjerrie te geniet en laat die koue kwyn!

12. Warmwaterbronne

Gooderson Natal Spa Hot Springs & Leisure Resort (Foto: LekkeSlaap)

Al kan jy dwarsdeur die jaar ’n draai by ’n warmwaterbron maak, is dit ekstra lekker om dit op ’n ysige wintersdag te doen. As jy ook al afgemat is ná die jaar se eerste helfte, sal die stoom wat uit die water opstyg ’n kalmerende uitwerking op jou gespanne gemoed hê. Daar is sommer ’n hele spul warmwaterbronne regoor Suid-Afrika waar jy kan ontspan en jou kragte herwin.

ATKV Goudini Spa (Foto: LekkeSlaap)

Die ATKV Goudini Spa in Rawsonville is ’n immergewilde warmwaterbron tussen die beeldskone Bolandse berge. Hiér kan jy in die warmswembad baai, terwyl die jongspan uitbundig op die waterwurm gly. Mpumalanga se Badplaas – A Forever Resort is ook ’n opwindende gesinsbestemming waar jy al jou sorge in die terapeutiese mineraalbaddens kan agterlaat. Verfbal, stampkarretjies en die adrenalienbelaaide Rinkhals-snelstroom sal die jongelinge ook ure besighou. Ander warmwaterbronne sluit A Forever Resort in Limpopo, Warmwaterberg Spa tussen Barrydale en Ladismith, en Gooderson Natal Spa Hot Springs & Leisure Resort in. So, kies ’n warmwaterbron, kliek op die skakels hierbo en laat jou pamperlangsessie begin!

13. Winterkos

Sedgefield Arms (Foto: LekkeSlaap)

Soms is ’n dik jas en wolmus nie genoeg om daardie laaste bietjie koue uit jou lyf te verdryf nie. Dis dan wanneer sop, ’n geurige bredie en gebakte poeding die enigste medisyne teen yskoue winterweer is. ’n Gesellige kombuiskuiertjie met ’n beker Milo in die hand terwyl die kospotte prut, is ook altyd ’n wenner. Daarom het ons ’n handjievol resepte gekies wat jou uit die winter se kloue sal red, so kliek gerus hier as jy ook hartskos teen die winterkoue wil maak.

14. Sterrekyk

Brinksfontein Guest House (Foto: LekkeSlaap)

As die reënwolke om Tafelberg kom hang of ’n donderstorm in die Goudstad woed, kan jy maar van sterrekyk vergeet. Maar al lê die ryp dik oor die veld en al is daar sneeu op die Roggeveldberge, sal oneindig baie sterre steeds in Sutherland knipoog. Dié Karoodorpie is ons land se sterrekykmekka en winter is die beste tyd om hier na die Melkweg te kom loer omdat die naglug dan op sy helderste is. Onthou egter om baie warm aan te trek ─ ’n wintersnag in die Karoo is nie vir sissies nie!

Blesfontein Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Sterland Boerdery bied sterrekyklesings snags vanaf 20:00 waartydens jy meer oor die hemelruim te wete kan kom en ook self deur ’n teleskoop na die blink liggies kan loer. Jy word dalk selfs met ’n verskietende ster verras. Jy kan ook die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT), die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond, net buite Sutherland besoek. Hiér kyk jy egter nie deur ’n teleskoop nie, maar opgroot monitors waarop die sterre en planete weerspieël word.

As jy ook in Sutherland na die sterrehemel wil staar, kliek gerus hier vir meer inligting.

15. Leesvakansie

Angala Boutique Hotel and Guest House (Foto: LekkeSlaap)

As die winterkoue nader kruip en jy net snoesig onder ’n kombers wil lê, is dit hoogtyd om ’n klompie boeke op jou leeslys af te merk! As dit boonop paddas en platannas reën, is daar niks beter as ’n boeiende roman of ’n spannende speurverhaal om jou van die koue te laat vergeet nie. Niemand het egter gesê jy mag nét by die huis met jou neus in ’n boek sit nie. So, kliek gerus hier om ’n welverdiende wegbreekplek met ’n biblioteek te bespreek en maak dié wintervakansie ’n leesvakansie!

Nou het jy geen rede om dié winter te bibber en beef of met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie. So, besluit waarheen jy wil gaan, wat jy daar wil doen en laat die wiele rol!

* Hoewel daar tans ’n baie groot droogte in die Wes-Kaap heers, het dit gelukkig die afgelope paar weke begin reën en hou ons duim vas dat daar dié winter sommer nog baie reën sal val.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Karli Dürr.

Hane kies Toulon en Clermont se swaargewigte

$
0
0

Guy Noves – die hele week by sy span om hulle voor te berei (Foto: FFR)

Nou sal ons weet of die Springbokspan op die regte pad is.

Nadat die Bokke verlede Saterdag op Loftus Versfeld die Franse toerspan met 37-14 in die eerste van drie toetse geklop het, het die Hane se afrigter, Guy Noves, tien veranderinge aan sy groep wat slae gekry het aangebring vir die tweede toets op Kingspark in Durban.

Die Hane was bra planloos in die eerste toets, hulle het in die lynstane en skrums gesukkel, daar was maar min slaankrag en flair agterlangs en hul verdediging was ook maar eina teen die vlugvoetige Bokke.

Maar nou is hul kaptein en haker, Guilhem Guirado, terug asook ʼn rits spelers van Clermont en Toulon wat in die eindstryd van die Top14-reeks gespeel het.

Boonop het Noves ook die eindstryd in Parys bygewoon en het hy eers verlede Dinsdag saam met die spelers van Clermont en Toulon in Suid-Afrika aangekom en kon hy nie veel help om die span vir die Loftustoets voor te berei nie.

Dit was ook verlede jaar in Argentinië die geval. Toe het die Franse die eerste toets verloor maar met die afrigter en grofgeskut daar het hulle die tweede toets met 27-0 beklink.

♦ Die Franse swaargewigte is nou weer nader getrek en die Hane sal gewis baie meer vrae aan die Bokke stel.

Die kollig sal veral val op die oud-Kwazulu-Natalse heelagter Scott Spedding en die nuwe senter- en skakelpaar.

Die jong senter Damian Penaud is ná sy goeie peil in Frankryk gekies. Die 20-jarige Damian volg in sy pa, Alain, se voetspore wat die Bokke in 1993 en 1995 gryshare in die nr.10-trui besorg het.

Die ervare losskakel Francois Trinh-Duc en die skrumskakel Baptiste Serin sal ook ʼn groot verbetering wees.

Voorlangs skuif die vuurvreter-agtsteman Louis Picamoles, wat op flank uit sy diepte in die eerste toets was, terug na agtsteman en speel Kevin Gourdon flank.

Romain Taofifenua is die nuwe nr.5-slot en Yoann Maestri skuif na nommer vier toe met die vaskopstut, Rabah Slimani, om die skrum te anker.

Die Franse span –

15 Scott Spedding, 14 Yoann Huget, 13 Damian Penaud, 12 Gaël Fickou, 11 Virimi Vakatawa, 10 Francois Trinh Duc, 9 Baptiste Serin, 8 Louis Picamoles, 7 Kevin Gourdon, 6 Yacouba Camara, 5 Romain Taofifenua, 4 Yoann Maestri, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kaptein), 1 Jefferson Poirot. Plaasvervangers: 16 Clément Maynadier, 17 Eddy Ben Arous, 18 Uini Atonio, 19 Julien le Devedec, 20 Bernard le Roux, 21 Antoine DuPont, 22 Jean-Marc Doussain, 23 Nans Ducuing.

[Foto’s] Polisie slaan toe in Pta-middestad

$
0
0

Polisiebeamptes deursoek ‘n voertuig. Foto: Phillip Bruwer

Die polisie het Donderdag in volle mag die strate van die Pretoriase middestad ingevaar om die gebied ʼn veiliger plek te probeer maak.

Die grootskaalse operasie was ʼn gesamentlike poging deur beamptes van verskeie polisiestasies in die Pretoria-Sentraal-groepering. Die groepering bestaan uit die Brooklyn-, Garsfontein-, Lyttelton-, Pretoriase Moot-, Silverton-, Sunnyside- en Villieria-polisie.

Brig. Wiseman Mthembu, die groepering se operasionele bevelvoerder, het die beamptes vroegoggend by die Moot-polisiestasie gegroet, waarna die Vispol-koördineerder, kol. Terence Naidoo, die beamptes toegespreek het.

“Die doel van die operasie is om misdaad te bekamp en vorm deel van ʼn reeks voortdurende operasies wat gaan volg om veral trio-misdade [kapings, huisroof en sakeroof] te bekamp. Dit is om kriminele die boodskap te gee dat hulle nie hier welkom is nie,” het Mthembu tydens die openingsparade aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het die polisie daarna na Sunnyside vergesel waar die beamptes deur die strate gestap en voetgangers, winkels en voertuie sporadies gestop en deursoek het.

Tydens die operasie het die polisie onder meer beslag gelê op talle nagemaakte CD’s en ʼn onwettige dobbelmasjien.

Mthembu het gesê die polisiegroepering sal gereeld in gebiede toeslaan en die verrassingselement gebruik om misdaad hok te slaan.


[WEN] Herleef weer ‘Fiela se kind’

$
0
0

(Foto: verskaf)

Ons almal ken vir Fiela Komoetie: die formidabele karakter in ʼn geliefde voorgeskrewe boek. ’n Mens kry nou nog ʼn glimlag as jy dink aan die wyshede wat sy kwytgeraak het.

Dis nóú jou kans om weer Fiela se kind te beleef. Emperors Palace bied die verhoogproduksie aan en vier lesers staan die kans om ʼn kaartjie na die opvoering te wen. Met Shaleen Surtie-Richards wat weer haar rol as Fiela Komoetie inneem, is dit ʼn kans wat jy nie deur jou vingers wil laat glip nie.

Fiela se kind is op die planke by Emperors Palace van 20 Junie tot 2 Julie 2017 op Dinsdae, Saterdae en Sondae. Kaartjies kos vanaf R120 per persoon en kan by Computicket gekoop word.

WEN:

OPSIE 1: Drie lesers staan elk die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na die opening van die produksie op Dinsdagaand 20 Junie 2017.

OPSIE 2: Daar is ook ʼn kaartjie vir ʼn gesin van vier vir Saterdag 24 Julie 2017.

Stuur jou naam, van, kontaknommer, die opsie van jou keuse, fisieke adres en jou antwoord op die volgende vraag na kompetisies@maroelamedia.co.za: Op watter dae kan jy Fiela se kind gaan kyk? Die kompetisie sluit Sondagaand 18 Junie om 20:00. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

Mapoe enigste verandering aan 23-tal vir tweede toets

$
0
0

Lionel Mapoe – enigste verandering (Foto: GB Jordaan)

Moenie krap waar dit nie jeuk nie, was klaarblyklik Allister Coetzee-hulle se leuse met die kies van die Springbokspan vir die tweede toets teen Frankryk wat Saterdag op Kingspark in Durban gespeel word.

Die enigste verandering aan die wedstryd 23-tal wat verlede week op Loftus 37-14 met sprankelrugby teen Frankryk gewen het, is die keuse van die Lions se buitesenter Lionel Mapoe in die plek van Jesse Kriel wat weens harsingskudding nie oorweeg kon word nie.

Ook die bank is onveranderd behou. Dit sou ʼn verrassing gewees het indien Coetzee-hulle anders oor hulle plaasvervangers sou besluit het.

Met die veelsydige Frans Steyn, Francois Hougaard en Dillyn Leyds op die bank is letterlik al die posisies in die agterlyn in die geval van beserings gedek.

Coetzee het volgens SA Rugby se mediaverklaring oor die span gesê dat veranderinge tot die minimum beperk is “wat beteken dat ons kan voortgaan om aan ons kontinuïteitsplan te werk wat so belangrik is.”

Tog jammer hy het dit nie verlede jaar al ingesien en toegepas nie …

Die span –
15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Lionel Mapoe, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Warren Whiteley (kapt.), 7 Oupa Mohoje, 6 Siya Kolisi, 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Coenie Oosthuizen, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Jean-Luc du Preez, 21 Francois Hougaard, 22 Frans Steyn, 23 Dillyn Leyds.

Pa, dogter en ouma vasgebind op NK-plaas

$
0
0

Argieffoto

ʼn Man, sy dogter en haar ouma is Donderdagoggend in ʼn huis op ʼn plaas buite Kimberley deur vyf gewapende aanvallers oorval en vasgebind.

Lt.kol. Dimakatso Mooi, woordvoerder van die polisie, het gesê die vyf aanvallers het ongeveer 07:00 op die plaas toegeslaan. “Volgens die inligting wat die polisie ontvang het, het die verdagtes vuurwapens op die mense gerig en geëis dat hulle die sleutels van die kluis oorhandig,” het Mooi gesê.

“Hulle het die slagoffers met kabelbinders vasgebind voordat hulle met kontant, ʼn onbevestigde aantal vuurwapens uit die kluis, selfone en ʼn Mercedes Benz-voertuig op die vlug geslaan het.” Volgens Mooi is die voertuig later ʼn paar kilometer weg van die plaas verlate gevind.

Mooi het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie is tans op die verdagtes se spoor. Enigiemand met meer inligting word versoek om kapt. Doggie Magugu op 082 469 0578 of 086 495 4646 te kontak.

ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

Zuma wil ingryp om ekonomie te red

$
0
0

Malusi Gigaba, minister van finansies. (Maart 2017) (Foto: GCIS)

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Donderdag bekend gemaak dat pres. Jacob Zuma ’n vergadering met sleutelministers belê het om ’n strategie te kry om Suid-Afrika uit die resessie te kry.

Gigaba het tydens ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die vergadering sal oor twee weke plaasvind. Hy het gesê Zuma het ook Woensdagaand met ministers in die ekonomiese groepering vergader om “kritieke ingrypings” te bespreek.

Gigaba het gesê dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika die tesourie se vooruitskatting van 1,3% groei in die BBP sal realiseer. Hy het gesê beleid rakende fiskale konsolidasie moet gehandhaaf word terwyl fondse gereprioritiseer word. “Ons gaan harde besluite moet maak wat miskien gaan behels dat ons moet kyk na verdere inperking van staatsbesteding.”

Gigaba het Woensdagaand se vergadering tussen Zuma en die ministers beskryf as “baie eerlik” en gesê daar kort politieke sekerheid om beleggers gerus te stel en groei te ontsluit.

“Oor die afgelope twee en ’n half maande het ek en die adjunkminister baie openhartige gesprekke gehad met plaaslike en internasionale beleggers, sowel as die kredietgraderingsagentskappe. Een van die groot bekommernisse wat deurentyd geopper is, is of ons daartoe verbind is om die fiskale raamwerk te handhaaf, soos vervat in die mediumtermyn- strategiese raamwerk en die 2017-begroting.”

Gigaba het gesê die fiskale raamwerk is die regering se beleid. “Ons ondersteun dit, ons is daartoe verbind en sal dit implementeer. Ons hoop dat bekommernisse in die verband vinnig sal afneem met die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat in Oktober gelewer word.”

Gigaba het ook gesê inklusiewe groei en ekonomiese transformasie moet bevorder word. “Ons is almal gefrustreerd deur die gebrek aan groei, wat indien volgehou word, ons vermoë om werkloosheid, armoede en ongelykheid te verminder in die wiele sal ry.”

Nuuskommentaar: Nuuskommentare en die jeug

$
0
0

Argieffoto (Foto: Engin_Akyurt, Pixabay)

By geleentheid “vra” ’n jong meisie op sosiale media of die ouer skrywer van ’n ander gepubliseerde stuk dan 90 jaar oud is? Dit is ligjare verwyder van die ou konsep van kinders wat gesien, maar nie gehoor moet word nie.

Deur sosiale media word intensief openbare diskoers gevoer, en jong en ouer idees word gereeld aan mekaar blootgestel. Soms lyk dit na ’n onoorbrugbare kloof.

In hoe ’n mate is jong mense aan radiostasies se nuuskommentare, en koerante se hoofartikels (“editorials”) blootgestel? En veral, tot watter mate word deelgeneem?

Maar eers enkele opmerkings oor die doel en karakter van nuuskommentare en hoofartikels.

Omstandighede verskil grootliks, en dit kan wees dat die aard van nuuskommentare en hoofartikels min raakvlakke vertoon. Gewoonlik sal ’n hoofartikel suiwer binne die beleid van ’n koerant wees, en ook daardie beleid bevorder. As ’n koerant byvoorbeeld verklaar dat dit ’n Christelike onderbou het, sal dit in die hoofartikel reflekteer. As dit kapitalisme voorstaan, sal kommentaar oor sosialistiese praktyke konsekwent krities wees.

Tog het dit ook ten doel om informatief te wees, en nuusfeite oor ’n wye spektrum word as agtergrond gebruik, en soms word dit as toeligting gebruik. Die gevolg was dat daar oor die wêreld heen reeds verskeie hofsake was oor kopieregskendings of plagiaat, en veral Amerikaanse howe het die liniaal behoorlik ingespan om te bepaal hoeveel persent die gebruik van oorgeneemde inligting wat in die openbare domein is, is in die haak. Gewoonlik word tien persent as aanvaarbaar beskou. Die gebruik daarvan moet ook regverdig (“fair”) wees.

Nuuskommentare daarenteen word beskryf as die werk van individue wat hul eie mening weergee. Benewens informatief, is dit ook oorredend van aard.

Die Society for Organisational and Industrial Psycology vat dit só saam, met die skrywer se invoegings tussen hakies:

Purpose:

The goal of the focal article-commentary format (news commentary) is to advance the field by providing a forum for varying perspectives on the topic under consideration. A commentary may be:

  1. a) a critical challenge to one or more aspects of the focal article (topic under discussion), arguing for a position other than that taken in the focal article; (general perspective);
  2. b) an elaboration or extension of the position taken in the focal article, (objective research) basically sympathetic to the position taken in the focal article (issue at hand), but pushing the argument further;
  3. c) an application of a theoretical perspective that sheds light on the issues addressed in the focal article (issue at hand);
  4. d) a reflection on the writer’s experiences in applying the issues addressed in the focal article (topic under discussion) in particular organizational settings;
  5. e) a comment on applicability of the issues raised in the focal article (topic under consideration), to other settings, or to other cultures;
  6. f) a comment with a focus other than those listed above.

In Suid-Afrika en die meeste wêrelddele, hoewel baie van die beginsels hierbo vermeld geldig bly, is ’n nuuskommentaar selde op ’n fokusartikel gemik. ’n Belangrike saak word onder die loep geneem, nagevors en neergepen. ’n Belangrike deel hiervan is om kennis te neem van die menings van ander kommentators oor dieselfde onderwerp – nie noodwendig om gebruik te maak van nie, maar om die eie opvattings met ander opvattings te toets. Die naaste wat gewoonlik gekom word aan die kommentaar lewer op ’n ander artikel is gewoonlik juis om na die menings (en soms feite) van ander kommentaarskrywers te verwys. Lesers sal hulle onder meer herinner dat in Maroela Media se nuuskommentare gereeld na die skrywes van ’n formidabele rubriekskrywer soos dr. Leopold Scholtz verwys word, asook Max du Preez, Christi van der Westhuizen en ander. Soms word saamgestem, soms word verskil.

’n Nuuskommentaar soos dié van Maroela Media sal noodwendig verskil van die tipiese nuuskommentaar van ’n radiostasie, soos dié van Pretoria FM. Radio-kommentare word gewoonlik beperk tot 200 tot 500 woorde (soos by Pretoria FM). (Maroela Media publiseer gereeld van Pretoria FM se nuuskommentare, wat deur ’n verskeidenheid mense opgestel word, op die platform, Nou Pra’ jy).

Die kuberruim bied die geleentheid dat ’n saak behoorlik deurtrap kan word, en die lengte sal dan ook van dag tot dag verskil. Die beginsel bly egter ook staan dat ’n nuuskommentaar in die kuberruim nie langdradig moet wees en uitrafel nie. Die grootste druk is egter tyd – ’n nuuskommentator probeer so aktueel as moontlik bly… hy sal dus voorkeur gee aan vars nuus, en probeer om sy stuk aan die lesers beskikbaar te stel wanneer die nuus nog deur die publiek verteer word. Koerante kan nie werklik hiermee “kompeteer” nie aangesien daar met ’n saktyd te make gekry word, en wanneer die koerant gelees word, nie meer noodwendig oor die vernaamste nuus van die dag handel nie. Die kuberruim bied voorts die voordeel dat dit meer as een nuuskommentaar op ’n dag kan hanteer wanneer iets belangrik deur die loop van die dag gebeur.

Ons keur terug na die jeug en nuuskommentare.

Youth Radio stel sy doelwit hiermee soos volg: REAL VOICE. REAL PERSPECTIVE. “That’s what a radio commentary is all about! Commentaries are short, first-person stories that clearly express an individual’s opinion or world view and why it matters to the outside world. At Youth Radio, commentaries offer an opportunity for young people to share their perspectives on an issue they’re passionate about, and to become effective communicators.”

Die karakter van nuuskommentare word soos volg beskryf:

  • Come from a first person perspective
  • Assert clear point of view/opinion
  • Connect personal stories or experiences to bigger social themes
  • Communicate conversationally – how people really talk vs. formal essay-writing
  • Include opposing points of view, arguments and/or research
  • Keep it brief. Commentaries are best at 1-2 minutes long (that’s about one page single-spaced, or between 200 and 500 words).

Maroela Media se nuuskommentare verskil in dié opsig dat dit wel (self)-gebonde is aan die maatskappy se Christelike beginsels. Dit, vir soverre dit moontlik is om objektief/neutraal te wees en politiek-onverbonde. Dit is nie politiek-korrek nie. (Wanneer daar ’n staatskaping plaasvind is dit onmoontlik om te swyg in ’n poging om politiek onverbonde te wees).

Dit is openlik pro-Afrikaans.

Is dit wat die jong mense wil hê?

Maroela Media bied aan lesers die geleentheid om deur kommentare onderaan nuuskommentare en ander artikels en berigte hul menings te lig. Daar is ook ’n briewestelsel vir lesers. Ook jong mense kan meedoen (en doen dit wel), waar hulle hul eie opvattings kan meet teen dié van ouer lesers. (Dit moet net binne Maroela se riglyne, soos die verbod op haatspraak, geskied).

So kan oud (of ouerig) en jonk se opvattings aan mekaar skuur.

Dié nuuswêreld is leeuwêreld, en dit is die taak van die nuuskommentaarskrywer om verantwoordelik na te vors en te ontleed om ’n verantwoordelike wêreldbeeld te skep. Vir die slyp van klein byltjies is daar geen plek nie.

Komaan jeug, kon verryk julself deur ook jul stemme op Maroela Media te laat hoor. Tree in getalle aan!

[Tekenprent] Nuwe groei ná verwoestende brande

$
0
0

Ná die verwoestende brande in die Knysna-gebied was dit verstommend hoe die gemeenskap en die land die slagoffers ondersteun en as’t ware ʼn sterker gemeenskap gebou het.

Hier is die tekenprentkunstenaar Jerm se interpretasie van die situasie:
(Met erkenning aan dr Wallace Vosloo.)

Tekenprent deur Jerm (16 Junie 2017)

Sien alle vorige tekenprente.

Knysna-slagoffers: Organisasies fokus op langtermynbehoeftes

$
0
0
knysna brande

Die brand het verkeer op die N2-snelweg tot ‘n stilstand gebring. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag op versoek van die diensorganisasie Solidariteit Helpende Hand verskeie benodighede vir slagoffers van die brandgeteisterde Knysna-gemeenskap aangekoop, waaronder gasstowe, gasbottels, potte, panne en opskeplepels.

Dié benodighede is uit AfriForum se noodfonds aangekoop en sal strategies deur Helpende Hand versprei word ná afloop van ’n behoefte-assesseringsproses.

“AfriForum voel sterk daaroor dat dié fonds op ’n volhoubare en doeltreffende wyse aangewend moet word,” sê Guido Urlings, veldtogkoördineerder by AfriForum. “Daarom het ons eerder besluit om alledaagse goedere aan te koop wat die gemeenskap daagliks kan gebruik – nie net nou nie, maar ook in die lang termyn.”

Helpende Hand se assesseringspan het ná afloop van die brande behoeftebepalings by kerke en skole gedoen. “Dringende behoeftes is reeds aangespreek, maar die gemeenskap gaan in die lang termyn ondersteuning benodig,” verduidelik Ernst Vorster, hoof van kommunikasie by Helpende Hand. “Ons raad aan die publiek is om oordeelkundig te skenk. Daar is op die oomblik ’n oorvloed van voedsel en klere, soveel so dat die provinsiale regering gevra het dat skenkings vir eers op die strukturele herbou van Knysna moet fokus.”

Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap, sê dat dit AfriForum en Helpende Hand se prioriteit is om toe te sien dat skenkings volhoubaar is en aan diegene versprei word wat dit die nodigste het.

Lede van AfriForum se trauma-eenheid, onder leiding van Nantes Kelder, is tans besig om berading aan slagoffers in en rondom Knysna te bied.


Gigaba versoek Zwane om reaksie oor Mynbou-handves te hanteer

$
0
0

Argieffoto

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Donderdag erken dat die nuwe Mynbou-handves kritiek uitgelok het en hy het gesê hy hoop dit sal nie die ekonomie verder laat verswak nie.

Hy het Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, versoek om dringend met die bedryf te vergader en hy het gesê die nasionale tesourie sal ook deel wees van die gesprekke.

“Dit is noodsaaklik om die mynboubeleid af te handel om beleggings te verseker,” het hy tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê. “Ons verwelkom die bekendstelling van die Mynbou-handves, maar ons merk dat daar ʼn reaksie in die mark is. Daar is ʼn aantal reaksies en besware.”

Die nuwe handves verhoog die vereiste swart eienaarskap van maatskappye, wat nuwe mynregte wil bekom, tot 30% met stemreg. Die Kamer van Mynwese het gedreig om ʼn interdik te bekom teen die implementering van die beleid en gesê die teikens is nie haalbaar nie en hulle vrees kapitale onttrekking.

Gigaba het die perskonferensie gereël om aan te kondig dat ministers in die ekonomie oor twee weke sal vergader om ʼn strategie saam te stel om die plaaslike ekonomie te red ná bevestiging dat ʼn resessie op hande is met verdere kredietafgraderings.

Gigaba het gesê pres. Jacob Zuma het Woensdagaand sleutelministers bymekaar geroep om die krisis in die ekonomie te bespreek. Zwane het ook dié vergadering bygewoon.

Lindie Strydom: Die held in jou

$
0
0

Argieffoto (Foto: ErikaWittlieb, Pixabay)

Ek het bietjie gaan kyk na die eienskappe van helde om te verstaan wat hulle anders maak.  Die dapperheid van ʼn Racheltjie de Beer wat haar lewe gee om haar boetie s’n te red. “Lady with the lamp”, Florence Nightingale, se deernis en liefde en versorging van Britse soldate en haar veggees om opleiding vir verpleegsters te verseker. Sy het gesê: “I attribute my success to this – I never gave or took any excuse.”

Moeder Teresa se opofferende en onselfsugtige diensbaarheid is interessant vir my – sy het nie die wêreld se armes probeer red nie, net Calcutta s’n, maar sy het dit op só manier gedoen dat die hele wêreld by haar kon leer. Sy het ons geleer: “If you judge people, you have no time to love them. Let no one ever come to you without leaving happier. Be faithful in small things because in them your strength lies.”

Johanna van Arkel was maar 13 jaar oud toe sy gevoel het sy moet vrede bring vir haar land en op 17 of 18 het sy die Franse troepe gelei om ʼn oorwinning te behaal teen die Engelse!   “I am not afraid… I was born to do this.”

Ghandi se eienaarskap en verantwoordelikheid wat sê: “You must be the change you wish to see in the world” en “forgiveness is the attribute of the strong”. Nelson Mandela se nederigheid wat getuig van ware dapperheid: “I learned that courage was not the absence of fear, but the triumph over it. The brave man is not he who does not feel afraid, but he who conquers that fear. It always seems impossible until it’s done.”

Elkeen met ʼn besonderse innerlike krag wat baie meer indrukwekkend is as die super powers van ʼn Superman of Batman!

Ek dink egter nie hierdie helde is noodwendig met hierdie besonderse eienskappe gebore nie. Ek dink dit was die geveg wat hulle geveg het wat hierdie eienskappe na vore geroep het of dit in hulle geskep het as dit nog nie daar was nie. Soos M. Scott Peck in sy boek The Road less travelled skryf: “Problems are the cutting edge that distinguishes between success and failure. Problems call forth our courage and our wisdom, indeed, they create our courage and wisdom.”   

Hetsy die geveg teen armoede of die geveg teen koue en hongersnood, onregverdigheid en verdeeldheid. Dis die geveg wat die held en sy dapperheid en die veggees in hom laat opstaan!

Die woord “held” kom van die Griekse woord “warrior” – soldaat, vegter, beskermer en verdediger.

So, wat is jou geveg? Die probleem of die uitdaging, die onregverdigheid wat jy weier om net so te aanvaar of die saak waarvoor jy staan? Ek glo daar is ‘n held in elkeen van ons, maar dan moet ons antwoord op die roeping van God vir die spesifieke taak met ons naam op en soos jy antwoord, sal jy sien wat God reeds in jou belê het vir die geveg!

Tel jou woorde: Fopnuus

$
0
0

Verslaggewers met verskeie vorme van fopnuus. Illustrasie uit 1894 deur Frederick Burr Opper via Wikimedia Commons

fopnuus, s.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire

Die afgelope week of wat het hard aan die land kom vat. PG is weg – die enigste skrywer in die land wat, volgens sy uitgewer, vir haar persklaar manuskripte ingestuur het – en Johann Botha is uit ons midde gepluk. Die Kaap het uiteindelik water gekry, maar met ʼn paar lewens en baie dakke daarvoor betaal. En Knysna het gebrand. En Buffelsbaai en Sedgefield en Plett en Karatara en Diepwalle en Elandskraal en die ander dorpies waarvan my oupa my vertel het voor Dalene Matthee nog haar boeke geskryf het. Huise is platgevee. Herinneringe. Toekomsdrome. Planne. Hoop. Lewens.

Ek het hier in Pretoria in ʼn vergadering gesit wat my gedwing het om op ʼn ander plek te konsentreer, wat so ʼn bietjie gehelp het om die seer en die swaarkry uit te stel. Ek kon my in ʼn borrel terugtrek en afstand behou, maar ek het geweet dis afgryslik, al kon ek nie sien hoe dit gebeur nie.

Toe ek uiteindelik klaar vergader het, is daar ʼn foto op Facebook van ʼn afgebrande huis tussen skelette van stamme, en ʼn verskrikte bosbokkie in die voorgrond wat kom soek na kos en water. Die afstand het nie gehelp nie, my hart het in elk geval gebreek.

Nee, ek het niks verloor nie, maar dit was nie vir my moontlik om in my borrel te bly nie. Want dis my mense wat so seerkry. My land se mense. My land se bosbokkies en my land se bos. En of die slagoffers nou in ʼn paleis of ʼn pondok gebly het voor die vuur toegeslaan het, hulle het nou almal ewe veel – niks. Hulle is almal ewe uitgelewer aan ander mense se goedheid.

En mense was goed. Nabymense wat aan die dakloses blyplek gegee het. Restauranteienaars wat kos uitgedeel het. Kerke wat sale beskikbaar gestel het, veeartse wat diere versorg het, al het hulle eie huise afgebrand. Brandweermanne wat opgedaag het met hulle toerusting in plastieksakke. Gesinne wat brandweermanne tussen skofte gehuisves het. Radiostasies wat fondse ingesamel het. Banke wat uitgehaal en gewys het. ʼn Hekelgroep wat wol en hekelpenne ingesamel het vir mense wat niks ander het om te doen as wanhoop nie. Mense was goed.

Maar toe … toe kom die berigte: Moenie goed stuur nie, vragmotors met noodvoorraad word gekaap. Moenie jammer wees nie, die ramp is die gevolg van brandstigting. Moenie help nie, jou geld word gebruik om kospakkies vir mense te gee wie se huise nie afgebrand het nie. Moenie deelneem nie, die regering het dan nog niks gedoen nie. Moenie betrokke raak nie, die mense wat in dié streek bly, verdien nie jou ondersteuning nie.

Die woord “fopnuus” is in VivA se databasis opgeneem as die vertaling vir die Engelse “fake news”. Daar is twee soorte fake news: foutiewe inligting wat versprei word om lesers doelbewus te mislei, en satiriese nuus wat ten doel het om ʼn werklike situasie onder mense se aandag te bring en hulle daaroor te laat besin.

Toe die inskrywing verlede jaar ingekom het, was ek opgewonde oor die woord. Dit was oulik, beskrywend, dit val lekker op die tong, en almal gaan dadelik verstaan wat dit is. “Fop” is dan so ʼn lekker woord, met ondertone van poetsbakkery en grapmakery. Ná die afgelope twee weke het my ingenomenheid met die term beduidend getaan.

Daar is niks snaaks, satiries, lighartig of eers aanvaarbaar aan fopnuus nie. Dit is onderduims. Gemeen. Onverantwoordelik. Oneties. Giftig. Dit beskadig mense. Dit beledig hulle. En dit maak mense wat reeds alles verloor het, nog ʼn keer tot slagoffer.

Ek wil die inskrywing verander en dit noem “rommelnuus”. Of “warnuus” of “karsinogene nuus” of “gifnuus” of “vreemdemenseskryfhierdiesoorttwaknuus”. Of ʼn mens kan dit sommer net noem wat dit is: str*nt.

Met spesiale VivA-groete aan my landgenote in die grys streke. Mag julle bos gou weer groen wees.
Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Polisiebeampte skiet vrou, skoonma, homself in Limpopo

$
0
0

Argieffoto

Die polisie in Limpopo doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat ʼn 40-jarige beampte van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) sy vrou en ma geskiet het voor hy sy eie lewe geneem het.

“Die skoonma is op die toneel dood,” het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die beampte het in Emdopark in Polokwane (Pietersburg) gewoon. Hy het glo Donderdag ʼn woordewisseling met sy vrou gehad voor sy na haar ouerhuis in Magatle gevlug het.”

Die man het haar gevolg en met sy aankoms op sy vrou en skoonma geskiet. Sy vrou is ernstig beseer en sy sterk aan in die hospitaal.

“Die beampte is dood aangetref met ʼn skietwond in sy kop.”

Die skoonma was in haar 60’s en sy vrou is in haar 30’s.

‘Rowers’ aangekeer ná hoëspoedjaagtog in Kaapstad

$
0
0

Argieffoto

Twee mans is in hegtenis geneem wat in ʼn gehuurde motor gery het waar vermoedelik gesteelde eiendom en huisbraaktoerusting gevind is.

Die mans is in hegtenis geneem ná ʼn hoëspoedjaagtog in Borcherds Quarryweg naby die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die beamptes van die polisie se eenheid vir openbare orde het ʼn verdagte BMW opgemerk wat televisiestelle vervoer het. “Die polisie wou die bestuurder laat stilhou, maar hy het vinnig weggery en ʼn jaagtog het gevolg. Een van die verdagtes wat op die agterste sitplek gesit het, het twee keer ʼn vuurwapen op die beamptes gerig, maar die jaagtog het voortgeduur tot die motor uiteindelik voorgekeer is,” het Rwexana bygevoeg.

“Die polisie het beslag gelê op ses televisiestelle, drie skootrekenaars, juweliersware, selfone, parfuums, sakke, ʼn kluis en verskeie ander items soos huisbraaktoerusting. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die BMW ʼn gehuurde motor is, maar met vervalste nommerplate.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 40 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde goedere, die rig van ʼn vuurwapen en huisbraak.

Viewing all 80349 articles
Browse latest View live
<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>