
Argieffoto.
Aan die boom van ons demokrasie hang daar na 21 jaar die vrot vrugte van moorde, R800 miljard se korrupsie, ʼn siek onderwys-, gesondheid- en regstelsel, ʼn kreupel Eskom en SA Lugdiens en baie vrot munisipaliteite.
Gebreke in feitlik alle vertakkinge van die volkshuishouding bestaan omdat die noodsaaklike bemesting van dissipline, eerlikheid, integriteit, wilskrag, meriete en arbeidsaamheid wat deur die demokratiese stem van die volk gevoed moet word, ontbreek.
Dit is die gevolg van die beleid van oormatige regstellende aksie en ekonomiese bemagtiging wat die gesonde beginsel van verantwoordelikheid en meriete ondermyn. Daarom word aansienlike hulpbronne vermors, omdat die vrylike uitdeel van gunste en gawes nie eise stel nie, maar laksheid in die hand werk. Ondernemingsgees en vlyt word gesmoor as werkers geen risiko loop nie.
Regstellende aksie se geldelike voordele vir ʼn miljoen mense, van wie ʼn groot groep dan die wil verloor om hul bes te doen, moet opgeweeg word teen die nadele vir vyftig miljoen mense wie se samelewing ondoeltreffend gemaak word.
Ekonomiese bevryding wat verdien word, hou voordele vir almal in die land in. Daarom moet lakse, onproduktiewe werkers afgedank word.
Die gebreke in Eskom, die SA Lugdiens en feitlik alle staats- en provinsiale departemente en munisipaliteite, kan toegeskryf word aan die aanstelling van onbekwame werkers.
Gee vir ʼn man ʼn vis en hy eet dit op een slag, is ʼn waarheid wat hier ter sake is. Gee vir ʼn amptenaar ʼn joppie sonder bekwaamheid en verantwoordelikheid en hy gaan steeds bakhand staan. Maar gee vir hom gesonde onderwys en opleiding en stel eise sodat hy vir homself kan sorg en hy word ʼn geagte landsburger.
Dit is nodig dat die grondliggende idees rondom suksesvolle beskawings herhaaldelik bekyk en geslyp word en leiers hulle vergewis van wat nodig is vir ʼn wenland. As die boustene van dissipline en integriteit en voortreflikheid versmaai word, is die afgrond ons voorland. Dit is waarom alle leiers onkreukbaar, met eerlikheid en integriteit, moet wees. Dit is ʼn onverbiddelike vereiste vir die handhawing van enige beskawing.
Daarom moet die teikens vir regstelling en bemagtiging plek maak vir meriete-aanstellings van alle bekwame mense, ongeag verkleur, om te sorg dat die skip van SA op die golf van voorspoed vaar.
Die rigsnoer vir verantwoordelike kiesers is om bekwame verteenwoordigers deur hul kruisies op stembriewe aan die bewind te stel en om onproduktiewe, onbekwame en korrupte lamsakke uit die politieke raadsale weg te jaag. Die vermorsing van hulpbronne weens onbekwaamheid op alle vlakke van die volkshuishouding is ʼn duur prys omdat onbekwaamheid beloon en ontwikkeling gekortwiek word.
Daar is tienduisende staatsamptenare wat goeie werk doen, maar solank meriete en produktiwiteit in alle aanstellings nie die maatstaf is nie, sal volledige doeltreffendheid in die slag bly.
‘n Ander soort regstellende aksie wat die herstel van meriete as maatstaf vir alle aanstellings in alle departemente en semi-staatsorganisasies insluit, is absoluut noodsaaklik as daar werklik erns is om ʼn wenland te bou. Daarom moet die ANC ernstig besin oor sy regstellende aksie en ekonomiese bevordering van mense wat net ʼn remskoen vir ekonomiese groei is.
Koos Botha
- Hierdie brief is verkort om by die woordbeperking van 500 woorde per lesersbriewe te pas.