Teen Vrydagoggend was dit presies ʼn week wat Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda ondergronds vasgekeer is, nadat ʼn kroonpilaar van die myn ingegee en ʼn gedeelte naby die ingang ineengestort het. Die drie werkers was ten tyde van die ineenstorting in ʼn skeepskouer bo die grond, wat onder die grond en puin ingeval het toe die pilaar meegegee het.
Die reddingspan het heelweek probeer om ʼn reuse rots te breek wat glo reddingspanne se pad na die myners versper, maar teen Vrydagmiddag is nog geen beduidende vordering gemaak nie.
Mike Begg, die direkteur van mynbedrywighede, het Vrydag aan die media gesê die reddingspoging vorder stadig aangesien verskeie uitdagings oorkom moet word. ʼn Reuse rots, wat ʼn hele paar ton weeg, blokkeer die pad na die vasgekeerde werkers en die vrees bestaan dat die rots op een van die lede van die reddingspan kan val indien hulle naby dit soek.
Die mynbestuur het gesê hulle hoop om voor die einde van die dag die rots genoeg te verwyder om reddingstoerusting na onder te neem.
ʼn Helikopter is Vrydag gesien waar dit oor die myn vlieg, maar Begg het die slagoffers se familie en verslaggewers ingelig dat die helikopter plofstowwe aflaai en nie enigiemand vervoer nie.
Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.