Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 80349

Gedagte vir die dag: Van klaaglied tot jubelsang

$
0
0
windpomp_Reint_Dykema_1.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Habakuk 3:17-19

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. (Habakuk 3:17-18)

Aan die einde van die boek Habakuk het die profeet sy waaromvrae laat staan omdat hy die antwoorde op daardie vrae ontdek het. Hy is ook nie meer so gespanne omdat God hom nie antwoorde gegee het nie. Sy klaaggebed het nou ’n jubelsang geword. En die eienaardigste is dat niks aan sy omstandighede verander het nie. Hy het egter verander. Hy het geleer om ten spyte van die omstandighede waaroor hy so by God gekla het, in God te jubel; om aan God vas te hou en op Hom te wag. Alhoewel daar geen oeste op die lande en vee in die krale is nie, het hy geleer om God te vertrou.

Jy kan leer om dieselfde te doen wanneer God se antwoorde op jou eie gebede uitbly. Vra Hom om sy blydskap in jou hart uit te stort ten spyte van jou probleme. Om dit vir jou moontlik te maak om op Hom te bly vertrou ten spyte van die donkerte in jou lewe. Een van die wonderlikste eienskappe van Christene is juis dat hulle dit kan regkry om bly te wees in rampsituasies. “Dié wat swaar kry, sien op na die Here en straal van blydskap,” lui Psalm 34:6. Vra God om dit vir jou ook moontlik te maak.

Here, leer my om bly te wees wanneer ek swaarkry, om te jubel ook wanneer daar niks is om oor bly te wees nie omdat U aan my kant is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy


Viewing all articles
Browse latest Browse all 80349


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>