Nomusa Dube-Ncube, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die mense is deel van die Shembe Nazareth Baptistekerk wat daarvoor bekend is dat hulle graag gemeentedienste onder bome hou. “Net toe die gemeenteleier besig was om die diens af te sluit, het die weerlig die gebied getref en talle mense het in verskillende rigtings gehardloop vir skuiling,” het sy gesê.
Veertig mense is beseer en deur die provinsiale nooddienste na hospitale geneem. Volgens Dube-Ncube is almal in ʼn stabiele toestand en kla net van “pyn in hul hande en voete”. Al die slagoffers was vroue tussen 50 en 65 jaar.
Dube-Ncube het haar medelye teenoor die families van die oorledenes uitgespreek. “Ek doen ʼn beroep op mense, veral in plattelandse gebiede, om nie onder bome byeen te kom wanneer daar tekens van ʼn storm is nie,” het sy gesê.
“Ouers moet ook hul kinders uit oop stroke veld hou wanneer daar donderstorms aan die gang is.”