ʼn Man se liggaam is Sondag in Harare in ʼn Amerikaanse vragvliegtuig ontdek wat glo onderweg was na Durban.
African News Agency (ANA) berig die vragvliegtuig, met ses bemanningslede aan boord, was glo van München in Duitsland onderweg na Durban toe dit by die Harare-lughawe in Zimbabwe moes land om brandstof te hervul.
“Grondpersoneel wat die vliegtuig hervul het, het bloed uit die vliegtuig se lugversorging sien drup,” het ʼn bron aan ANA gesê. “Die bemanningslede is ondervra en hulle het beweer hulle het ʼn voël in die lug getref. Met verdere ondersoek is die liggaam van ʼn volwasse man versteek in ʼn kompartement gevind.”
Al ses bemanningslede is in hegtenis geneem. Charity Charamba, polisiewoordvoerder in Zimbabwe, het die voorval bevestig en gesê die saak word ondersoek.