Twee niggies is saam oor die naweek in Port Elizabeth in die Oos-Kaap doodgeskiet.
Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, was die twee niggies, Lorencia Jantjies (19) en Courtney Dean Jantjies (34), saam met ʼn groep vriende in ʼn plakkershut buite ʼn huis in Honourstraat in Kleinskool, toe hulle geskiet is.
“Twee onbekende mans het by die perseel opgedaag en die groep oor sekere mense uitgevra. Hulle het daarna van buite die plakkershut op die mense losgebrand,” het Naidu gesê.
Die Jantjies-niggies is in die kop geskiet en is op die toneel dood verklaar.
Die polisie ondersoek twee sake van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.