Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

Studente moet hulself kan beskerm, sê AfriForum

$
0
0
'n Skermskoot uit die video waar lede van EFF studente van Tuks uitgedaag het (Betoging tydens die openbare vergadering oor die taalbeleid van die UP, 18 Februarie 2016)

‘n Skermskoot uit die video waar lede van EFF studente van Tuks uitgedaag het (Betoging tydens die openbare vergadering oor die taalbeleid van die UP, 18 Februarie 2016)

AfriForum ondersteun die reg van AfriForum Jeug-lede en ondersteuners om hulself binne die raamwerk van die wet teen die EFF en ander radikale groepe se aggressiewe dade by die Universiteit van Pretoria (UP) en ander kampusse te beskerm.

“Om dié rede het AfriForum sy regspan opdrag gegee om die feit dat AfriForum en AfriForum Jeug ook by die interdik ingesluit is wat die UP-bestuur teen die EFF bekom het, in die hof teen te staan,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Kriel wys beeldmateriaal van Donderdag se gebeure op UP duidelik dat die EFF die aggressors was en dat AfriForum Jeug hulself geensins skuldig gemaak het aan dié tipe optrede wat die UP-bestuur nou met die interdik probeer verhoed nie. “AfriForum is trots op die selfbeheersing wat AfriForum Jeug getoon het toe hulle hulself en die kampus vreedsaam teen die uitdagende en aggressiewe optrede van die EFF verdedig het,” het hy bygevoeg.

Volgens Kriel wil AfriForum Jeug se lede en ondersteuners hulle studies in ’n vreedsame omgewing voortsit en kan hulle nie net terugsit wanneer die EFF klasse ontwrig en die kampus vandaliseer nie.

Hy het daarop gewys dat die UP-bestuur se besluit om AfriForum Jeug by die interdik in te sluit, bevestig dat die universiteit se bestuur nie in staat is om die EFF se aggressiewe optrede te beheer nie en nou na strooihalms gryp deur ander partye by die saak in te sleep.

Die EFF en ander radikale groepe se aandrang dat Afrikaans as onderrigtaal by universiteite geskrap moet word, is volgens Kriel ’n aanduiding van dié groepe se “anti-Afrikaanse rassisme in terme waarvan Afrikaanse studente as politieke slaansakke op kampusse gebruik word”. Hy het die onbillike behandeling van twee studente wat by die Universiteit van Stellenbosch (US) se persgesigdebakel betrokke was as voorbeeld hiervan uitgewys. “Die feit dat Afrikaanse studente sterk hierteen begin standpunt inneem – soos met AfriForum Jeug se optrede by US – begin reeds vrugte afwerp met onder meer die rektor van US wat ’n onafhanklike ondersoek na die US se hantering van die persgesigdebakel gelas het.”

Volgens Kriel sal AfriForum aanhou om te doen wat nodig is om Afrikaans en Afrikaanse studente se regmatige plek aan universiteite en in skole te beskerm.

Lees alle vorige berigte oor Tuks / Universiteit van Pretoria op Maroela Media.


Kragonderbreking in die Vrystaat

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Eskom het Saterdag bevestig ʼn netwerkfout veroorsaak ʼn groot kragonderbreking in die suidelike dele van die Vrystaat.

“Die dorpe wat hierdeur geraak word, is Springfontein, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Reddersburg en ʼn aantal informele nedersettings,” het die kragvoorsiener gesê.

Dit is nog nie duidelik hoe lank die kragonderbreking sal voortduur nie.

Nzimande veroordeel vandalisme by universiteite

$
0
0
Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig (Februarie 2016) Foto: Verskaf

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig (Februarie 2016) Foto: Verskaf

Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het Vrydag vandalisme by universiteite veroordeel ná studentebetogings die afgelope week.

“Die ministerie is uiters besorg en veroordeel ten sterkste brandstigting by die visekanselier se kantoor by die Universiteit van Kaapstad, asook kunswerke en skilderye, waaronder ʼn werk deur Richard Baholo, die eerste swart student wat in 1994 sy meestersgraad in beeldende kunste verwerf het,” het Nzimande se kantoor in ʼn verklaring gesê. “Ons veroordeel ook die optrede toe ʼn bus Woensdagaand by die Universiteit van die Witwatersrand aan die brand gesteek is.”

Die ministerie het gesê terwyl hy die oorsaak van die studentebetogings erken, moet studentebetogings gepaard gaan met verantwoordelikheid.

Nzimande se kantoor het ook soortgelyke voorvalle en ontwrigting by die Noordwes-Universiteit en Universiteit van Pretoria veroordeel.

“Al hierdie voorvalle is betreurenswaardig en dit moet nie weer gebeur nie,” lui die verklaring. “Ons doen ʼn beroep op universiteite om hul mag af te dwing, doelbewus op te tree en die hulp van wetstoepassers in te roep om diegene aan te keer wat eiendom beskadig.”

Maroela Media het vroeër berig lede van die Rhodes Must Fall-beweging het verskeie skilderye, hoofsaaklik van wit persone wat verbind word met die Universiteit van Kaapstad, van die mure in UK-geboue verwyder en dit aan die brand gesteek. ʼn Studentevervoer-bus en ʼn bakkie is ook aan die brand gesteek.

Voedselsekuriteit kan nie in hande van ‘rassistiese boere’ gelaat word nie

$
0
0
ANC-optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter

ANC-optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Vrydag gesê Suid-Afrikaners moet toegang hê tot die land se bewerkbare grond, sodat hulle self tot die land se voedselsekuriteit kan bydra.

“Ons moet toegang hê tot grond. Ons mense moet toegang hê tot landbougrond. Die kwessie van voedselsekuriteit kan nie aan die TLU-SA [Transvaalse Landbou-Unie van Suid-Afrika] – ʼn rassistiese boere-organisasie, oorgelaat word nie,” het Mantashe aan duisende ANC-ondersteuners by die Uniegebou in Pretoria gesê. Hy het gesê huidige boere in Suid-Afrika “wil die indruk skep dat voedselvervaardiging slegs deur wit boere bewaar kan word”.

“Ons kan ook boere wees, maar om te kan boer, moet ons toegang hê tot grond. Jy kan nie ʼn boer wees tensy jy boer nie. Jy kan nie ʼn skrywer wees tensy jy skryf nie. Jy kan nie ʼn politikus wees tensy jy aktief in die politiek is nie. Hoekom word daar van ons verwag om boere te wees sonder toegang tot grond? Kom ons betree die grond,” het Mantashe gesê.

Gwede Manatshe tydens die ANC se optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter

Gwede Manatshe tydens die ANC se optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter

Mantashe het die duisende ANC-ondersteuners tydens die party se optog teen rassisme toegespreek. Die verkeer is Vrydagoggend tot ʼn stilstand gedwing toe die duisende optoggangers van Burgerspark in die middestad gestap het. Die groep het teen middagete die Uniegebou bereik en musiek is hard oor die luidsprekers gespeel.

Verskeie ministers en regeringsamptenare, waaronder Tshwane-burgemeester Kgosientso Ramokgopa en Gauteng-premier David Makhura, het die verrigtinge bygewoon.

Talle persone in die skare het geel T-hemde aangehad met die woorde; “Hands off Zuma” en “Stem ANC”. Plakkate met die woorde “Registreer om ANC te stem” is ook rondgeswaai.

Skuif parlement na Kaapstad, sê Zille

$
0
0
Helen Zille tydens haar provinsiale rede op 19 Februarie 2016 (Foto: Western Cape Government, Facebook)

Helen Zille tydens haar provinsiale rede op 19 Februarie 2016 (Foto: Western Cape Government, Facebook)

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het Vrydag gesê die Suid-Afrikaanse parlement moet na Kaapstad geskuif word.

Zille het tydens haar provinsiale rede in Kaapstad gesê pres. Jacob Zuma se aankondiging tydens sy staatsrede om slegs een hoofstad te hê, sal ʼn groot besparing vir die fiskus beteken.

Zuma het tydens sy staatsrede gesê dat die parlement dringend die kwessie van twee hoofstede moet oorweeg, waar Pretoria tans die land se uitvoerende hoofstad en Kaapstad die wetgewende hoofstad is.

“Ek was verras dat mense dadelik aangeneem het dat die parlement uit Kaapstad sou skuif,” het Zille gesê. “Maar as die president se motief werklik is om geld te bespaar, moet dit andersom wees. Die uitvoerende hoofstad moet dan na Kaapstad toe skuif.”

Zille het gesê sy het die onderskeie LUR’e vir ekonomiese geleenthede, vervoer en openbare werke, plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, opdrag gegee om ondersoek in te stel en voorleggings te maak om staatsdepartemente in te rig en hoëdigtheidsakkommodasie vir parlementêre wonings naby die nasionale wetgewer te ondersoek. “Dit sal die leef- en werkfilosofie in verhoogde stedelike digtheid kombineer, en die regering die kans bied om ʼn voorbeeld te wees van die nuwe stedelike vorm wat ons benodig.”

Volgens Zille sal dit ook die regering in staat stel om die duur ministeriële huise te verkoop en ministers in te rig in woonstelle op die boonste verdiepings van die wolkekrabbers, wat ʼn ongeëwenaarde 360 grade-uitsig oor die stad, berg en see sal bied.

Zille het gesê, as premier van die provinsie, sal sy die heel eerste persoon wees wat na só wolkekrabber sal verhuis. “Dit beteken dat waardevolle eiendom te koop aangebied kan word en die koste om ʼn regeringsdistrik in te rig, voorkom word deur ʼn oordragmodel deur die privaat sektor. Ons sal ook ʼn fortuin spaar in veiligheidskoste.”

Zille, die enigste premier van die enigste provinsie in Suid-Afrika wat nie onder beheer staan van die regerende party nie, het haar eweknieë in Gauteng uitgedaag om vergelykende voorstelle te maak. Sy het gesê Zuma kan dan die koste van die vestiging van die regering in elke stad teen mekaar opweeg.

Particia de Lille, burgemeester van Kaapstad het vroeër gesê voorstelle om die parlement van Kaapstad na Pretoria te verskuif is onnodig, aangesien die regering eerder daarop moet fokus om die kabinet te verklein. Lees meer.

Lees Helen Zille se volledige provinsiale rede.
Lees alle vorige berigte oor die hoofstad-debat op Maroela Media

10 sterf binne een week toe weerlig hulle tref

$
0
0
Argieffoto: CorinnaST, Pixabay

Argieffoto: CorinnaST, Pixabay

Altesaam 10 mense is die afgelope week in KwaZulu-Natal oorlede nadat weerlig hulle getref het.

Sewe persone is in KwaMachi naby Harding in die Umuziwabantu- plaaslike munisipaliteit dood, het Nomusa Dube-Ncube, LUR van provinsiale samewerkende regering en tradisionele sake, gesê. Nog drie persone is dood en dosyne beseer toe ʼn haelstorm die gebied in die nabygeleë uMzimkhulu-munisipaliteit getref het.

Volgens Dube-Ncube is ongeveer 80 huishoudings deur die storms geraak. ʼn Span onder leiding van die plaaslike burgemeester, Mphuthumi Mpabanga, doen deur-tot-deur-besoeke om bystand te lewer.

Sy het haar medelye met die betrokke families betoon en gesê dat nog weerligafleiers in die gebied opgerig moet word.

“Ons wil die publiek verseker dat hulle nie natuurlike rampe hoef te oorleef sonder ʼn helpende hand van die provinsiale regering nie,” het Dube-Ncube bygevoeg.

Huishulp vas oor diefstal van vuurwapens, juwele

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Huishulp en haar kêrel is Vrydag in Sydenham, Durban, in hegtenis geneem op aanklag van diefstal, die onwettige besit van vuurwapens en vermoedelik gesteelde eiendom.

“Die vrou, wat as ʼn huishulp by ʼn huis in Howellweg gewerk het, het vroeër vandeesmaand glo haar werkgewer se vuurwapens en juwele gesteel,” het brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, in ‘n verklaring gesê.

Toe die werkgewer ontdek die eiendom word vermis, het sy die saak by die polisie aangemeld. “ʼn Saak van diefstal is by Sydenham-polisiestasie aanhangig gemaak,” het Naicker gesê. “Die ondersoekbeampte se ondersoek het hom tot Inanda gelei waarheen die verdagte gevlug het. Sy is in hegtenis geneem en het die polisie na haar kêrel se huis geneem waar die gesteelde goedere gevind is.”

Die polisie het beslag gelê op die gesteelde juwele, 9 mm-pistool, ʼn rewolwer en 49 rondtes ammunisie. Die kêrel is dadelik deur die polisie in hegtenis geneem. “Albei verdagtes sal na verwagting Maandag in die Durbanse landdroshof verskyn.”

Buffel behaal miljoene rand op veiling

$
0
0
Horison (Foto: pietdutoit.co.za)

Horison (Foto: pietdutoit.co.za)

ʼn Buffel genaamd Horison het weereens sy waarde bewys toe R44 miljoen vir ʼn kwart aandeel by ʼn veiling in Rustenburg in Noordwes betaal is.

Volgens bedryfskenners is dié nuwe beleggingsopsie ʼn goeie keuse in die huidige ekonomiese klimaat. Prof. Melville Saayman, direkteur van Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewing en Samelewing (TREES) by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, is die aanbod Saterdag ʼn bewys dat daar geleenthede in die jag- en natuurlewebedryf is wat “buite die norm” is.

Die betrokke bul, wat deur wildsboer Pieter du Toit en twee ander vennote in 2012 vir R26 miljoen gekoop is, het die hoogste horingspan in die wêreld met ʼn rekordlengte van 1.397 m.

“Ons sien ook ongekende pryse vir swartwitpense en koedoes met buitengewone kenmerke,” het Saayman bygevoeg. “Die pryse is gewoonlik te hoog vir ʼn enkelbelegger, so nou word die risiko versprei tussen vennote om hul beleggings te beskerm. Dis soos om ʼn huis te koop, en die kamers uit te verhuur.”

Saayman het gesê hulle het onlangs ʼn studie gedoen wat daarop wys dat die biltongjagbedryf jaarliks ongeveer R8.55 miljard werd is.

“Nuwe geleenthede is meer aanloklik in wat reeds ʼn stabiele bedryf van die ekonomie is,” het hy bygevoeg. “Dit gee beleggers die kans om ʼn diverse portefeulje op te bou.”

Horison se trotse eienaar, Peter Bellingham van Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo, is ingenome met sy nuwe aankope en hy glo hy sal maklik nuwe diere kan teel ter waarde van ongeveer R1 miljard. “Ons gaan 40 goeie, 10 per belegger, by hom plaas,” het Bellingham gesê.


[Video] Kostelik! Renosterkalfie jaag die ganse

$
0
0
Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

ʼn Video van ʼn renosterkalfie wat ganse verjaag, is net die ding om jou naweek op te kikker.

Die video is deur Simone ingestuur en deur die gebruiker Kruger Sightings op YouTube gelaai.

Vliegtuig met SA-kontant uiteindelik op pad na Durban

$
0
0
Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwiese owerhede het uiteindelik ʼn vragvliegtuig, met 67 ton kontantnote ter waarde van miljarde rand, vrygestel, maar nie die identiteit van die lyk wat op die vliegtuig gevind is, bekend gemaak nie.

Die McDonnell-Douglas MD-11-vliegtuig is op 14 Februarie geskut toe dit op Harare Internasionale Lughawe geland het om brandstof te hervul. Die vliegtuig was van München, Duitsland, onderweg na Durban, KwaZulu-Natal. Werknemers van die lughawe het bloed uit die vliegtuig sien drup.

Die ten volle geklede liggaam van ʼn swart man is in ʼn kompartement gevind, maar weens gevorderde ontbinding, kon ʼn forensiese patoloog nie bepaal hoe en wanneer die man dood is nie.

Charity Charamba, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn nadoodse ondersoek het bepaal dat die man versmoor het.

Die polisie vermoed nie vuilspel nie en die man het glo sonder enige inwendige beserings op die vliegtuig geklim. Dit is nog nie duidelik waarom enigiemand in Duitsland homself op ʼn vliegtuig, onderweg na Afrika, sou versteek nie. ʼn Bron, ʼn persoon wat naby aan die ondersoek is, het gesê ondersoekbeamptes kon nie vingerafdrukke bekom nie. “Die liggaam was oortrek met maaiers. Dit was onmoontlik om vingerafdrukke te kry,” het die persoon gesê.

Die internasionale polisie-organisasie, Interpol, het intussen ʼn verklaring uitgereik aan polisiemagte in Duitsland, België, Uganda, die Ivoorkus en Nigerië om hulle te help om die man se identiteit en nasionaliteit te bepaal.

Die vliegtuig van die Amerikaanse lugredery, Western Global Airlines, het Vrydagaand uiteindelik uit Harare opgestyg onderweg na Suid-Afrika. Die geld, wat in München gedruk is en bestem was vir Durban, behoort aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).

Dramatiese besonderhede van diplomatieke bewegings wat tot die vreedsame oplossing van die voorval gelei het, het intussen aan die lig gekom. Vusi Mavimbela, ambassadeur vir Suid-Afrika in Zimbabwe, het verlede Sondag hom na die lughawe gehaas, maar kon nie ʼn vinnige deurbraak maak nie. Die SARB het die volgende dag ʼn verklaring uitgereik om te sê dat die sentrale bank daarna uitsien om die besending in ontvangs te neem.

Staatsamptenare in Pretoria het aangebied om soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag te stuur om oor die vliegtuig en die “kosbare diplomatieke besending” wag te hou, maar dié voorstel is deur die Zimbabwiese owerhede verwerp, volgens bronne.

Owerhede in Pretoria was veral angstig, aangesien die uitsaaiowerheid in Zimbabwe ʼn paar dae vantevore berig het oor ʼn smokkelsindikaat by Harare-lughawe waarby soldate, die polisie en immigrasiebeamptes betrokke was.

Korrespondensie tussen Pretoria en Harare het ook nie enige vrugte afgewerp nie en die Zimbabwiese owerhede het daarop aangedring dat ʼn deeglike ondersoek gedoen moet word oor die moontlike “delikate moordsaak” van internasionale omvang.

Owerhede in Harare het bygevoeg dat die goedere op die vliegtuig geskandeer moet word, om te verseker dat die vrag wel kontant is, en nie iets anders nie.

Ondersoekbeamptes het uiteindelik bevestig daar is geen verband tussen die vrag en die lyk aan boord nie.

SA’ner (92) se deportasie tydelik opgeskort

$
0
0
Myrtle Cothill (regs) en haar dogter, Mary Wills. Foto: Steve Reigate via The Guardian Online

Myrtle Cothill (regs) en haar dogter, Mary Wills. Foto: Steve Reigate via The Guardian Online

Die deportasie van ʼn sieklike 92-jarige Suid-Afrikaanse vrou, wat deur haar enigste dogter in Engeland versorg word, is tydelik opgeskort.

Myrtle Cothill sou Dinsdag na Suid-Afrika moes vlieg nadat haar versoek om in Engeland te bly, afgekeur is, berig die BBC.

Meer as 75 000 persone het ʼn petisie onderteken waarin versoek is dat Cothill in die Verenigde Koninkryk kon bly.

Cothill se dogter, Mary Wills (66), en prokureur het gesê die departement van binnelandse sake het die deportasie nou tydelik opgeskort, terwyl hulle op nuwe mediese verslae wag.

Maroela Media het vroeër berig Cothill ly aan hartprobleme, sigverlies en gehoorprobleme en het geen familie in Suid-Afrika nie. Haar dogter versorg haar al sedert Februarie 2014 weens haar swak gesondheid. Ten spyte van dié gesondheidsprobleme het sy onlangs ʼn brief ontvang wat haar ingelig het om onmiddellik planne te maak om die land te verlaat nadat haar visumaansoek nie geslaag het nie.

Lees meer: BBC

Gedagte vir die dag: Los die lafhartigheid!

$
0
0
vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Lees: 2 Timoteus 1:6-14

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (2 Timoteus 1:7)

Iemand het gesê vrede is vrees wat gebid het.  Die meeste mense het al ervaar dat wanneer hulle baie bang vir iets is, dit help om daaroor te bid.  Ek sou beslis nie deur al my optredes gekom het sonder die gebede van my gebedsketting nie.  Daar is twee woordgroepe wat in die Bybel met “vrees” vertaal word.

Die eerste groep hou verband met die stamwoord phobos – waarvan ons woord fobie afgelei word.  Wikipedia se definisie van ’n fobie is ’n oorheersende of sinnelose vrees wat met ’n bepaalde situasie of voorwerp verband hou wat normaalweg nie vreeswekkend behoort te wees nie.  Ons kry baie verskillende fobies: Kloustrofobie is die vrees vir noutes, aragnofobie die vrees vir spinnekoppe en pirofobie die vrees vir vuur.

Die tweede woordgroep is afgelei van die Griekse woord deiliao, wat beteken om lafhartig te wees.  Dit is hierdie woord waarvan Paulus in ons kernteks praat.  Dit is dié tipe vrees wat keer dat ’n vrou dokter toe gaan as sy ’n knop in haar bors voel.  Dit is nie God se wil dat sy kinders onder hierdie tipe vrees gebuk gaan nie.  Die Heilige Gees vrywaar ons hiervan, skryf Paulus vir Timoteus; Hý vul ons met krag, liefde en selfbeheersing.  As jy weer ervaar dat daar ’n gevoel van lafhartigheid oor jou kom, bid dat die Heilige Gees dit sal wegneem en jou lewe met sy krag, liefde en selfbeheersing sal vul.

Here, vergewe my dat ek so baie keer lafhartig is – te bang om iets te doen wat ek weet nodig is.  Baie dankie vir u Gees in my lewe wat my in sulke situasies van u krag, liefde en selfbeheersing voorsien.  Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

Sê nou jou sê oor Tuks-taalbeleid

$
0
0
Een van Tuks se ikoniese geboue, "Die Skip" Foto: Mike Prins, Wikimedia

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia

Die vakbond Solidariteit wat werknemers van die Universiteit van Pretoria (UP) verteenwoordig en wat ook duisende oud-Tukkies as lede het, het vandag ʼn referendum oor die voorgestelde wysiging aan die UP se taalbeleid van stapel gestuur.

Dit volg nadat ’n UP-taakspan, na aanleiding van eise van die EFF, met voorstelle na vore gekom het wat Afrikaans radikaal sal verskraal en later uitfaseer. Kommentaar op die voorstelle kan tot 29 Februarie gelewer word.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die doel van die referendum om vir die Afrikaanse gemeenskap ’n platform te gee waarop hulle hul stem kan laat hoor. “Ons skep ’n ordelike platform wat nie klippe gooi en breek nie. Ons verwag dat duisende mense aan die referendum gaan deelneem. Ons kan nie toelaat dat ’n klein groepie rooihemp-anargiste die taalbeleid van die UP bepaal nie,” het Hermann gesê.

“Indien die UP aan die eise van die EFF-anargiste toegee, wag daar ’n toekoms van retirering van een eis na die ander vir die universiteit. Die geweld waarmee die eise gepaard gegaan het, het gewys dat nie net Afrikaans by die universiteit sal verdwyn nie, maar die totale institusionele kultuur,” het Hermann gewaarsku. “Dit is nie net Afrikaans wat by die venster uitgegooi word nie, maar ook die poste van Afrikaanse personeel. Die verwydering van Afrikaans is maar bloot ’n voorwaarde vir die begin van ’n totale transformasieproses wat ook die totale transformasie van die personeelsamestelling van die UP sal behels.”

Hermann het bygevoeg dis tragies as akademiese debat daal tot die gooi van klippe en brand van bande. “Deur aan dié soort vandalisme toe te gee, word die universiteit van sy akademiese karakter ontneem. Studente word geleer dat geweld, nie akademiese debat nie, die wêreld verander.”

Voortgesette druk van radikale groepe op die kampus het die uitvoerende komitee van die UP beweeg om Vrydag ’n kennisgewing aan studente en personeel te stuur waarin kommentaar versoek word oor die volgende voorstelle van ’n taalbeleid-taakspan:
• Engels moet die primêre onderrigtaal in alle lesings wees.
• Die Universiteit moet meertaligheid bevorder ten einde studentesukses te fasiliteer en maatskaplike samehorigheid te bou.
• Afrikaans en Sepedi moet gebruik word om addisionele ondersteuning aan studente in tutoriale, praktika en besprekings te bied.
• Oorgangsmaatreëls sal in plek gestel word indien die voorgestelde wysigings hierbo aanvaar word.

“Die voorstelle van die taakspan is ’n verskraling en uiteindelik totale uitfasering van Afrikaans,” het Hermann verduidelik. “Die Afrikaanse gemeenskap kan nie toelaat dat Afrikaans deur die universiteit of aktiviste geboelie word nie. Ongelukkig reageer die universiteit deur te kyk na die magsbalans en nie na goeie argumente nie. Die Afrikaanse gemeenskap sal tot 29 Februarie dus aktief moet organiseer om te toon dat tienduisende studente, oudstudente en lede van die Afrikaanse gemeenskap die voorstelle van die taakspan verwerp.”

Studente, oudstudente, ouers en ondersteuners van Afrikaans kan deelneem aan die referendum by www.tuksreferendum.co.za. Die uitslag van die referendum en volledige kommentaar sal voor 29 Februarie aan die Universiteit van Pretoria oorhandig word.

Vyf dood, een kritiek in Van Stadensbrug-ongeluk

$
0
0
Van Stadensbrug plaasgevind Foto via Port Elizabeth Daily Photo

Van Stadensbrug plaasgevind Foto via Port Elizabeth Daily Photo

Vyf persone is Saterdag dood en een persoon het kritieke beserings opgedoen tydens ʼn ongeluk tussen twee motors op die N2 ongeveer 40 km buite Port Elizabeth in die rigting van Jeffreysbaai.

“Vyf persone was dood toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, in ʼn verklaring gesê. “Die oorlewende was in ʼn kritieke toestand en hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die ongeluk het naby die Van Stadensbrug plaasgevind.

Mathe het gesê owerhede stel ondersoek in na die oorsaak van die ongeluk.

Vliegtuig met kontantvrag in SA, sê SARB

$
0
0
Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het Saterdag bevestig dat die vragvliegtuig met ʼn besending van Suid-Afrikaanse note, wat in Harare, Zimbabwe, vertraag is, het in Suid-Afrika aangekom.

Pradeep Maharaj van die SARB het bevestig die bank is nou in besit van die besending kontant. “Die SARB het saam met die Zimbabwiese en Suid-Afrikaanse owerhede gewerk om die vrystelling van die besending te verseker,” het Maharaj gesê. “Die SARB wil dit graag benadruk dat die proses, om Suid-Afrikaanse note oorsee te druk en dit dan te vervoer, is deel van die normale bedrywighede en gebeurlikheidsbeplanning.”

Hy het gesê om seker te maak dat gebeurlikheidsplanne sterk is en gereeld getoets word, word ʼn klein persentasie van die SARB se jaarlikse bestelling van banknote uitgekontrakteer aan geloofwaardige en goedgekeurde internasionale drukkersmaatskappye.

“Die grootste deel van Suid-Afrika se banknote word by die Suid-Afrikaanse Banknotemaatskappy (SABN) gedruk.

Maroela Media het vroeër berig die McDonnell-Douglas MD-11-vliegtuig is op 14 Februarie geskut toe dit op Harare Internasionale Lughawe geland het om brandstof te hervul. Die vliegtuig was van München, Duitsland, onderweg na Durban, KwaZulu-Natal. Werknemers van die lughawe het bloed uit die vliegtuig sien drup.

Die ten volle geklede liggaam van ʼn swart man is in ʼn kompartement gevind, maar weens gevorderde ontbinding, kon ʼn forensiese patoloog nie bepaal hoe en wanneer die man dood is nie. Die nadoodse ondersoek het bevestig die man het versmoor. Die polisie vermoed nie vuilspel nie en die man het glo sonder enige inwendige beserings op die vliegtuig geklim.

Die internasionale polisie-organisasie, Interpol, het intussen ʼn verklaring uitgereik aan polisiemagte in Duitsland, België, Uganda, die Ivoorkus en Nigerië om hulle te help om die man se identiteit en nasionaliteit te bepaal.

Die vliegtuig van die Amerikaanse lugredery, Western Global Airlines, het Vrydagaand uiteindelik uit Harare opgestyg onderweg na Suid-Afrika. Die geld, wat in Münich gedruk is en bestem was vir Durban, behoort aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).

Lees alle vorige berigte oor die SARB-vliegtuig op Maroela Media.


Trump nou loshande die voorloper

$
0
0
Donald Trump (Foto via ABC-video)

Donald Trump (Foto via ABC-video)

So Donald Trump het Suid-Carolina gewen. Hy het om die waarheid te sê die staat so ver gewen dat hy al 50 afgevaardigdes na die Republikeinse Party se nasionale kongres later vanjaar, verower het. Na ‘n tweede plek in Iowa, het Trump nou twee agtereenvolgende oorwinnings op sy kerfstok. Hy loop voor in die peilings in die meeste state waar kiesers binne die volgende paar weke gaan stem. Geen politieke ontleder kan nou meer ontken dat Donald Trump die voorloper is om die presidentskandidaat vir die Republikeinse Party te word nie.

Trump se oorwinning in Suid-Carolina beteken egter nie dat die leierskap van die Republikeinse Party en ander leiers in die konserwatiewe beweging in die VSA warmer vir sy kandidaatskap sal word nie. Die teendeel is eerder waar. Met Jeb Bush wat nou aan die stryd onttrek het, is die gevestigde belange in die Republikeinse Party se volle fokus op Marco Rubio. As jy Facebook en Twitter dophou sou jy selfs kon dink dat Rubio voorloop in die stryd, ten spyte daarvan dat hy slegs derde in Iowa, vierde in New Hampshire en nou tweede in Suid-Carolina kon eindig. Rubio het dus nog geen staat gewen nie. Sy vooruitsigte om binne die volgende paar weke state te wen, is ook maar skraal.

Dit is egter belangrik om die rol van gevestigde belange in die Amerikaanse politiek te verstaan. Politieke partye wil graag sien dat kandidate met wie hulle goed vertroud is en wat nie vir onaangename verrassings sal sorg nie, aangewys word. Verder is daar ‘n enorme steunwerwing (lobbying) bedryf in die VSA met groot maatskappye, ekonomiese sektore, burgerlike instellings en selfs internasionale regerings en organisasies wat bande met sekere kandidate smee deurdat hulle tot hierdie kandidate se veldtogte bydra en daardeur die guns van kandidate probeer wen. Vir hierdie instellings is geweldig baie op die spel en sal hulle in die volgende dae en weke alles in hul vermoë doen om Rubio as die kandidaat van die gevestigde belange te ondersteun.

Die realiteit is egter dat hierdie instellings tot nou toe grootliks onsuksesvol was. Die rede hiervoor lê in die verskuiwing van fokus onder lede van die Republikeinse Party. Demokrasie in die Midde-Ooste, die rooi gevaar in Rusland en vryhandelsooreenkomste met byna elke land en streek in die wêreld was nog in 2000 toe George W. Bush verkies is, vir Republikeine belangrik. Hierdie sake is nou baie minder belangrik.

Tydens die presidentskappe van Bush en Barack Obama het die sogenaamde deelnamekoers aan die arbeidsmark van meer as 67% tot net meer as 62% afgeneem. Mense staar vas aan die lae werkloosheidskoers in die VSA, maar besef nie dat daar die afgelope paar jaar ‘n enorme toename in mense wat aan die arbeidsmark onttrek het, was nie. Baie van hierdie mense is ongeskoolde en semi-geskoolde middeljarige blankes wat voorheen in die vervaardigingsektor gewerk het en wat hul werk verloor het omdat die invoer van goedkoper produkte uit onder andere China werksgeleenthede in die Amerikaanse vervaardigingsektor vernietig het. Gedurende dieselfde periode was daar ‘n groot toename in wettige en onwettige immigrasie na Amerika wat arbeidskoste afgedruk het en wat mededinging vir ongeskoolde en semi-geskoolde arbeid selfs verder verhoog het.

Hierdie mense het geen behoefte om teen Rusland of Iran oorlog te voer nie. Hulle stel nie belang in die teoretiese voordele van vryehandelsooreenkomste nie. Hulle wil nog minder weet oor die humanitêre motiewe vir asiel vir vlugtelinge. Hierdie mense, en daar is baie van hulle, wil weet hoe daar ‘n beter toekoms vir hulle geskep gaan word. Donald Trump se anti-immigrasie, anti-oorlog en ekonomies-proteksionistiese standpunte spreek dus tot hierdie kiesers.

Geen politieke ontleder op CNN of Fox News gaan hierdie mense oortuig om vir ‘n ander kandidaat te stem net omdat Trump luidrugtig en onbeskof is of omdat hy voorheen eintlik maar ‘n liberalis was nie. Trump se praktiese idees soos goeie verhoudinge met Rusland, ‘n muur tussen Amerika en Mexiko en die beskerming van die Amerikaanse vervaardigingsbedryf deur die heronderhandeling van handelsooreeenkomste met byvoorbeeld China, klink vir hierdie kiesers soos oplossings wat ‘n werklike verbetering aan hul lewensomstandighede te weeg kan bring. Jare se leë beloftes deur verkose politici het hierdie mense sodanig skepties teenoor beroepspolitici gemaak dat ‘n scenario waar hulle sal ophou om vir Trump te ondersteun, onwaarskynlik lyk.

Hoe lyk die pad vorentoe? Donald Trump sal waarskynlik eerskomende Dinsdag die koukus in Nevada wen. Daarna behoort hy op 1 Maart wanneer daar in 11 state gestem word, ‘n meerderheid van die state te wen, hoewel Ted Cruz waarskynlik Texas en nog een of twee state in die Suide kan wen. Dit beteken dat Donald Trump teen begin Maart in ‘n baie sterk posisie kan wees om die Republikeinse Party se presidentskandidaat te word.

Intussen sal politieke ontleders, joernaliste en politici bly sê dat Trump eintlik geen kans staan nie. Selfs nadat hy in Suid-Carolina gewen het, het die oudraadgewer van George Bush, Karl Rove, beweer dat Marco Rubio nou die voorloper is. Rove vermy natuurlik die feit dat Rubio nog nie een enkele staat kon wen nie.

Die uitdaging vir Donald Trump is om soos wat die aantal kandidate minder word sy steunbasis uit te brei. Daar is ‘n wesenlike deel van die Republikeine wat nie van Trump hou nie en sou hulle almal teen hom verenig kan dit sake vir hom bemoeilik. ‘n Peiling deur die Washington Post wys dat Trump in ‘n tweemanstryd met Marco Rubio egter steeds 46% van Republikeine se steun sal geniet. Dit mag dalk teen middel Maart al wees wat hy nodig sal hê om genoeg afgevaardigdes te wen sodat hy in Julie in Cleveland, Ohio amptelik as die Republikeine se kandidaat aangewys kan word.

Terwyl die Republikeine in Suid-Carolina gestem het, het die Demokrate hul koukus in Nevada gehad en kon Hillary Clinton met byna 53% van die stemme daar wen. Sy loop nou weer effens gemakliker voor teen Bernie Sanders. Die moontlikheid van ‘n stryd tussen Clinton en Trump raak al hoe sterker. Vir Trump om in November te wen sal hy egter sy steun onder meer geskoolde Republikeine moet uitbrei en sal hy werk moet maak van sy steun onder minderheidsgroepe. Trump staan geen kans om Hillary te wen indien hy nie minstens 10% van Afro-Amerikaners se stemme en 30% van die stemme van kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms kan wen nie. Trump sal ook op een of ander manier sy verhouding met die leierskap van die Republikeinse Party moet stabiliseer. Daar lê ‘n paar maande van interessante politieke stryd in Amerika voor.

Innoverende oplossings noodsaaklik vir moedertaalonderrig

$
0
0
skool-21.jpeg

Argieffoto

Die waarde van moedertaalonderrig, veral op laerskoolvlak, is onomstootlik bewys. In die veeltalige konteks van Suid-Afrika is dit egter geen geringe uitdaging nie.

Internasionale Moedertaaldag word wêreldwyd op 21 Februarie gevier.

“Fedsas steun moedertaalonderrig in ál elf Suid-Afrika se amptelike tale,” het Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), gesê. “Die feit dat dit nie tans ’n werklikheid of ’n haalbare moontlikheid is nie, is een van die hoofoorsake van die land se swak onderwysprestasie.”

Deacon het gesê die meerderheid van Suid-Afrika se kinders ontvang nie onderrig in hul moedertaal nie. “Die groot uitdaging lê egter in die praktiese toepassing hiervan. Maar die feit dat dit duur is en bykomende beplanning verg, mag eenvoudig nie as verskoning gebruik word nie. Kinders het die reg op moedertaalonderrig,” het hy bygevoeg.

In ’n toespraak by Fedsas se algemene jaarvergadering verlede jaar het regter Eberhard Bertelsmann gesê innoverende oplossings moet vir Suid-Afrika se onderwysprobleme gevind word. Bertelsmann, wat allerweë beskou word as die argitek van die Suid-Afrikaanse Skolewet, het gesê dat die oplossings van skoolgemeenskappe self moet kom.

“Elke skool is ’n unieke entiteit en moet dus so hanteer word,” het Deacon verduidelik. “Die gemeenskap waarbinne ’n skool funksioneer, moet dus saamwerk om oplossings te vind wat in die beste belang van die kinders van daardie gemeenskap is. Hoe om moedertaalonderrig in daardie spesifieke gemeenskap ’n werklikheid te maak, is een van die uitdagings.”

Hy het bygevoeg Fedsas is ’n innoverende organisasie met die nodige ervaring en vermoë om saam met skoolgemeenskappe te werk om sulke oplossings te verfyn. “Dit moet egter ’n haalbare en bekostigbare oplossing vir ’n spesifieke skool wees, nie die onderwys in geheel nie. Baie van Suid-Afrika se onderwysprobleme is die gevolg van ’n enkele model wat sonder aanpassings op alle skole afgedwing word,” het hy verduidelik.

Deacon het gesê die belangrikste oorweging vir enige besluit in die onderwys is die belange van die kinders. “Moedertaalonderrig is een van daardie belange – ons as onderwysrolspelers moet dus saamwerk om dit ’n werklikheid te maak.”

(Fedsas is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 1900 openbare skole is reeds lid van Fedsas.)

Gee aan elke kind ‘n stem in sy moedertaal, sê ATKV

$
0
0
Grafika: ATKV

Grafika: ATKV

In moeilike ekonomiese omstandighede is dit nodig om geld wys te belê, en die ATKV meen een van die beste beleggings is om moedertaalonderrig vir ons kinders moontlik te maak.

Evelyn Ferreira, senior bestuurder: taal by die ATKV, het gesê Unesco gebruik daarom vanjaar weer Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) om daarvoor te pleit dat elke kind ten minste in sy eerste leerjare in sy moedertaal mag leer. Die tema vanjaar is: kwaliteitopvoeding, onderrigtaal (of -tale) en leeruitkomste.

“Dis ‘n mondvol, maar hierdie drie aspekte is so nou verweef dat die een nie sonder die ander sinvol moontlik is nie,” sê Amanda de Stadler, bestuurder: Vriende van Afrikaans (VVA). “Moedertaalondersteunde tweetalige of meertalige onderrig is ideaal vir ons meertalige land, want dit is regverdig teenoor kinders wat aan bepaalde taalgemeenskappe behoort en dit verhoog terselfdertyd toegang tot onderwys.”

Ferreira het bygevoeg dit is algemeen bekend dat moedertaalonderrig of variasies daarvan die kwaliteit van onderrig en leer verhoog, want dit lê klem op begrip en kreatiwiteit. “Dit versterk die kognitiewe aspek van leer omdat dit direk van toepassing op die kind se leefwêreld is,” het sy gesê. “Voorts verbeter dit die dialoog en interaksie tussen die leerder en onderwyser omdat die geleentheid tot goeie gehalte kommunikasie uit die staanspoor moontlik maak.”

Sy het bygevoeg goeie leesvaardighede en moedertaalonderrig is onlosmaaklik verbonde. Daarom is die ATKV aktief betrokke by verskeie leesprojekte. Een hiervan is die VVA se boektrommelprojek waarin daar aan soveel moontlik kleuters toegang tot geskikte kleuterboeke gegee word. LAPA Uitgewers, ʼn filiaal van die ATKV, druk boeke wat Afrikaanse huistaal en addisionele taal kinders aanmoedig om te lees en met die ATKV se Leesgids gee ons raad aan onderwysers om van elke kind in hulle sorg, lewenslange lesers te maak.

Ferreira het gesê ATKV-leeswerkswinkels wat deur kundiges regoor die land aangebied word, rus laerskoolonderwysers toe om kinders entoesiastiese lesers te maak en die basis van effektiewe leer, naamlik leesgeletterdheid, te versterk.

“Kinders moet hulle weg in ʼn globaliserende en kultureel diverse wêreld vind. Kwaliteitopvoeding is daarom ononderhandelbaar,” het sy gesê. “Rus jou kinders toe vir die toekoms en maak die verantwoordelike keuse van moedertaalonderrig of moedertaalondersteunde meertalige onderrig.

“Indien alle taalsprekers in Suid-Afrika aktief deelneem aan die debat oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika en hulle vergewis van reeds bestaande regte in dié verband, is sukses moontlik. Daar is egter nog ’n lang pad om te loop om moedertaalonderrig tot sy reg te laat kom. Ons glo dat ons by die ATKV op ’n beskeie manier ons bydrae hiertoe lewer,” het sy afgesluit.

‘Gewapende rower’ sterf ná aanranding

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn 27-jarige man is dood nadat ʼn groep mense hom aangerand het ná ʼn sakeroof in Johannesburg se middestad.

“Die polisie het twee mans, onderskeidelik 27 en 29 jaar oud, Saterdag in hegtenis geneem in verband met die rooftog by Dehila Fashion op die hoek van Jeppe- en Delversstraat,” het al Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, gesê.

Vyf mans het glo omstreeks 12:00 die winkel betree en hulself as klante voorgedoen. “Twee van hulle het oor die toonbank gespring en geld geëis,” het Mbele gesê. “Een persoon het met ʼn vuurwapen by die deur gewaak terwyl sy medepligtiges die geld gevat het. Hulle het ook geld by klante gevat.”

Een van die werknemers het glo om hulp geskree en die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld uit die winkel gevlug. “Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit en twee mans aangekeer. Hulle het ook ʼn vuurwapen, sonder ʼn reeksnommer, gevind,” het Mbele bygevoeg. “Die verdagtes is baie erg aangerand voor die polisie tot hul redding gekom het. ʼn Ambulans het hulle na ʼn hospitaal geneem onder polisiebewaking.”

Die 27-jarige man, wat glo gewapen was, het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Drie rowers is nog steeds op vrye voet. “Die ondersoek duur voort,” het Mbele bygevoeg. “Die tweede man wat deur die gemeenskap aangekeer is, sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn.”

Mbele het gesê die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie verdagtes aan te rand wanneer hulle aangekeer word nie. “Moenie die reg in eie hande neem nie. Wanneer jy ʼn verdagte aanrand, pleeg jy ook ʼn misdaad. Bel asseblief die polisie sodra ʼn verdagte aangekeer is.” Hy het gesê samewerking tussen die polisie en die gemeenskap kan misdaadvlakke laat daal.

[Foto’s] As mans die huis moes ontwerp…

$
0
0

Van messe met moersleutelhandvatsels tot ʼn allooiwiel as ʼn tuinslanghouer of motorsitplekke vir die sitkamerbank… Ons huise sou bietjie anders gelyk het as mans hul stempel in die ontwerpwêreld kon afdruk. Ons moet erken, hier is ʼn paar oulike idees!
man 01 man 02 man 03 man 04 man 05 man 06 man 07 man 08 man 09 man 10 man 11 man 12 man 13 man 14 man 15 man 16 man 17 man 18 man 19 man 20

Viewing all 80349 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>