Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

LP’s gewaarsku oor oproerigheid oor kospryse

$
0
0
Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Graan SA het gesê die land kan moontlik oproerigheid oor kospryse te wagte wees weens die voortslepende droogtetoestande in die land.

“Suid-Afrikaners moet hulself staal vir ʼn moeilike jaar, aangesien die land miljoene ton graan sal moet invoer as gevolg van kleiner oeste weens die droogte,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, Vrydag gesê.

“Ons het ʼn studie gedoen oor dit wat in 2007/2008 in die wêreld gebeur het waar die Arabiese Lente plaasgevind het. Daar word ondersoek ingestel oor die verband tussen hoë kospryse en voedselonluste. Daar is ʼn groot moontlikheid dat dit in Suid-Afrika kan gebeur,” het De Villiers bygevoeg. “Wanneer ons kyk na dit wat met kospryse gebeur, dat dit noemenswaardig kan verhoog, is daar ʼn moontlikheid dat die publiek in opstand gaan kom daarteen.”

Volgens Graan SA is die grootste uitdaging vir 2016 om genoeg kos in die land in te bring. Suid-Afrika se departement van landbou voorspel dat Suid-Afrika nagenoeg 3.8 miljoen ton mielies gaan moet invoer.

“Die 3.8 miljoen ton [van moontlike invoere] is gebaseer op ʼn oes van ongeveer 7.4 miljoen ton [plaaslik], en aangesien dit nie gereën het nie, is die 7.4 miljoen ton dalk baie optimisties,” het De Villiers verduidelik. “Die probleem vir 2017 is dat die boere moontlik nie kan plant wanneer die reën kom nie, want hulle gaan moontlik nie die kontant hê om dit te doen nie.”

Hy het gesê die landboubedryf, die regering en bedryfshoofde moet beplan hoe die armes teen die verwoestende effek van die droogte beskerm gaan word, veral teen hoë kospryse. “Kos gaan duur wees. Daar is baie mense wat dit nie kan bekostig nie, en hulle gaan in die moeilikheid kom en ons gaan ʼn voedselsekuriteitnet moet span om hulle te help.”

Buiten mielies, sal ander grane ook ingevoer moet word. Na beraming sal 2 miljoen ton koring, 900 000 ton rys, 300 000 ton sojabone, 100 000 ton sonneblomsade, 60 000 ton gars en 20 000 ton grondboontjies ingevoer moet word.


Dramat en kie word vervolg oor uitlewering

$
0
0
Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan die voormalige hoof van die Valke, Anwa Dramat, die eenheid se voormalige hoof in Gauteng, Shadrack Sibiya, en polisiekaptein Leslie Maluleke vervolg in verband met die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010.

“Die direkteur van openbare vervolging het besluit om die beskuldigdes te vervolg op sewe aanklagte van ontvoering, met alternatiewe aanklagte van sameswering om iemand te ontvoer, een aanklag van dwarsboming van die gereg en vier aanklagte vir onwettige deportasie onder die Immigrasiewet,” het Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, in ʼn verklaring gesê. “Daar is ook drie aanklagte van diefstal teen kapt. Maluleke.”

Volgens Mfaku was die beskuldigdes lede van die polisie se prioriteitsmisdaadeenheid (Valke) en die klagtes spruit uit hul betrokkenheid by die inhegtenisneming van sewe Zimbabwiese immigrante in November 2010 en Januarie 2011 en die gevolglike “onwettige deportasie” van vier van die persone. “Van die persone se besittings is ook tydens die inhegtenisneming gevat. Die besluit is geneem ná sorgvuldige ondersoek van die beskikbare getuienis,” het Mfaku gesê.

Hy het gesê die beskuldigdes se regsverteenwoordigers is Vrydag in kennis gestel van die besluit en hulle sal binne die volgende twee weke in die hof verskyn ná geskikte reëlings getref is tussen hul regsverteenwoordigers en die staatsaanklaer.

Dramat is in Desember 2014 geskors, maar sy skorsing is ʼn maand later teruggetrek nadat die Pretoriasehooggeregshof bevind het dat die besluit ongeldig was. Hy het in April 2015 bedank nadat hy ʼn “skikking” met die bestuur van die polisie aangegaan het. Die polisie wou nie die aard of finansiële omvang van Dramat se pakket bespreek nie.

Sibiya is in September 2015 uit die Valke afgedank ná ʼn onafhanklike ondersoek hom skuldig bevind het aan wangedrag wat betref die uitlewerings. In daardie stadium het hy aangedui dat hy teen sy afdanking sal appelleer.

Die polisie voer aan Dramat en Sibiya het onwettig met Zimbabwiese polisiebeamptes ʼn reëling getref en ingestem om die sewe verdagtes op te spoor, in hegtenis te neem, en uit te lewer. Suid-Afrika en Zimbabwe het nie ʼn uitleweringsooreenkoms nie. Van die verdagtes wat aan die Zimbabwiese polisie oorgegee is, het later in aanhouding gesterf.

Lees alle vorige berigte oor Anwa Dramat op Maroela Media.

Omgewingsake ontken skuld aan Highveld Steel

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Die departement van omgewingsake het Sondag bewerings ontken dat hy die moontlike verkope van Evraz Highveld Steel en Vanadium gekelder het en sodoende veroorsaak het dat die maatskappy sy deure moes sluit.

Die departement het in ʼn verklaring gesê hy was die afgelope paar jaar baie redelik in sy samewerking met Highveld Steel om seker te maak dat die maatskappy voldoen aan omgewingsakewetgewing en die nodige permitte het.

Volgens die departement word hy nie direk blameer dat die transaksie skeefgeloop het nie, maar sakereddingspraktisyns het aangedui dat omgewingskwessies moontlik daartoe gelei het dat die transaksie nie beklink is nie.

Die departement het sedert 2007 inspeksies gedoen by die fasiliteit in Mpumalanga en verskeie kennisgewings uitgereik om Highveld Steel te verplig om stappe te doen om die voortslepende oortredings, wat die omgewing en menslike gesondheid geraak het, aan te spreek. “Nie een van hierdie kennisgewings het die fasiliteit gedwing om sy deure te sluit nie, aangesien dit altyd belangrik is om die omgewing-, maatskaplike- en ekonomiese kwessies te balanseer.”

Die departement het dit ook benadruk dat geen boetes vir die maatskappy uitgereik is nie. Die kriminele vervolging vir oortredings wat met omgewingskwessies verband hou, het nog nie begin nie.

Highveld Steel het onlangs bevestig dat die transaksie met die Chinese International Resources Limited deur die mat geval het.

Lees alle vorige berigte oor Highveld Steel op Maroela Media.

Verskeie studentebetogings in Pretoria verwag

$
0
0
Betogings by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (Oktober 2015) Foto: @artindira/Twitter

Betogings by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (Oktober 2015) Foto: @artindira/Twitter

Die #OutsourcingMustFall-beweging het Sondag gesê betogings sal vandeesweek by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) hervat, indien die instansie steeds “bestaande ooreenkomste” gaan verontagsaam.

“Ons het ʼn ooreenkoms waarvolgens betogings opgeskort is dat werkers se lone met onmiddellike effek tot R5 000 verhoog sal word,” het Mametlwe Sebei, woordvoerder van #OutsourcingMustFall, aan verslaggewers in Pretoria gesê. Hy het gesê die instansie sal ook begin inkontrakteer en die kwessie van R10 000 wat hulle eis, sou ook na ʼn taakspan verwys word.

Sebei het gesê die ooreenkoms sluit ook klousules in dat geen werknemers, wat deur privaat kontrakteurs aangestel is en dienste aan TUT lewer, gestraf of geviktimiseer sal word vir hul betrokkenheid in onlangse betogings op die kampus nie.

“Die sekuriteitskontrakteur en ander spysenieringskontrakteurs weier egter om aan dié ooreenkoms te voldoen. Hulle het gesê hulle was nie deel van die ooreenkoms nie, aangesien die ooreenkoms met TUT aangegaan is,” het Sebei verduidelik. “TUT het ʼn verpligting en ooreenkomste wat vrywillig aangegaan is, moet gerespekteer word. Indien TUT nie doelbewus optree om seker te maak dat hierdie werkers weer begin werk en dat alle TUT-kontrakteurs aan die vereiste sal voldoen nie, sal ons van Dinsdag af weer met ʼn massabetoging by TUT begin.”

Sebei het die afgelope week gesê die #OutsourcingMustFall-beweging sal koppe stamp met die departement van hoër onderwys oor toestande by Tshwane-Noord en Tshwane-Suid-kolleges. “Die departement het nog nie sy kant gebring nie. Alhoewel universiteite outonoom is en hul eie sake bestuur, val kolleges direk onder die departement. Ons stryd is direk met die departement,” het hy bygevoeg.

“Al ons betogings oor die volgende twee dae sal gemik wees teen die departement van hoër onderwys,” het hy gesê. “Ons het met die leiers en studente van hierdie twee kolleges vergader. Ons ondersoek ʼn algehele sluiting van die twee kolleges en hul kampusse totdat die departement bereid is om sy kant te bring en die kwessies met ons te bespreek.”

Die veldtog steun glo ook alle studentebetogings op kampusse, insluitend by die Universiteit van Pretoria (UP).

Vusi Mahlangu, nog ʼn woordvoerder van die #OutsourcingMustFall-beweging, het gesê ʼn reeks betogings sal die Pretoriase middestad Maandagoggend tref wanneer UP-studente, wat verlede week in hegtenis geneem is ná ʼn openbare vergadering oor die taalbeleid op dié kampus, in die Pretoriase landdroshof verskyn. “Die 27 studente wat [Vrydag] in hegtenis geneem is, sal Maandag in die hof verskyn, so daar sal betogings wees. Studente sal met busse van die Universiteit van Pretoria na die landdroshof aangery word,” het Mahlangu gesê. “Ons was betrokke in volle ondersteuning vir studente by UP in hul struggle, en ons sal ander werkers en studentebewegings ook aanmoedig om in hul getalle op te daag om die betoging te ondersteun wat ook Maandag by die UP sal plaasvind.

Die universiteit het Vrydag gesê alle akademiese bedrywighede by sy Hatfield- en Groenkloof-kampusse is opgeskort ná studentebetogings oor die taalbeleid. “Dit is in die belang van studente en personeel om die kampusse te sluit, weens dreigemente oor ontwrigting van akademiese aktiwiteite,” het die universiteit gesê. “Die universiteit sal ook toelaat dat ʼn konsultasieproses oor die taalbeleid voortduur.”

Die universiteit het gesê ʼn taaltaakspan het voorgestelde wysigings aan die instansie se taalbeleid voorgestel, waaronder dat Engels die primêre onderrigtaal in alle lesings moet wees, en dat Afrikaans en Sepedi gebruik moet word om addisionele ondersteuning aan studente in tutoriale, praktika en besprekings te bied.

Personeel en studente word versoek om hul terugvoer in ʼn e-pos aan die taakspan te stuur.

Intussen het die vakbond Solidariteit wat werknemers van die Universiteit van Pretoria (UP) verteenwoordig en wat ook duisende oud-Tukkies as lede het, vandag ʼn referendum oor die voorgestelde wysiging aan die UP se taalbeleid van stapel gestuur. Lees meer.

Departement van hoër onderwys veroordeel geweld op kampusse

$
0
0
uk-betogings2

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig (Februarie 2016) Foto: Verskaf

Die onlangse onrus op die kampusse van Ikeys, Kovsies en Tuks is ʼn duidelike bewys dat daar randeiers is wat Suid-Afrika se tersiêre instansies deur middel van geweld en onwettige aktiwiteite wil destabiliseer as deel van ʼn politieke agenda, het die departement van hoër onderwys en onderrig Dinsdag gesê.

Khaye Nkwanyana, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring bevestig dat die departement kennis geneem het van die gewelddadige betogings by die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit Kaapstad (UK). “Die departement bevestig dat alle universiteitspersoneel en studente die reg het om te betoog en hul opinies en klagtes te opper. Dit is egter hul plig om dit op ʼn vreedsame manier te doen en wat die regte en eiendom van ander beskerm,” het Nkwanyana gesê.

“Hierdie randeiers is blykbaar vasbeslote om elke probleem uit te buit as deel van ʼn poging om regmatige studente-ontevredenheid te kaap vir hul eie eng doeleindes.” Die departement se reaksie kom nadat die hutssleutel, #WhereIsBlade, Dinsdag wyd op sosiale media gebruik is in ʼn verwysing na die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se stilswye oor die landwye kampusbetogings.

Volgens Nkwanyana stem die departement saam dat die rassisme-krisis aandag moet kry, maar hou hy vol dat dit op die regte manier gedoen moet word. “Ons moet die geveg teen rassisme verskerp, maar terselfdertyd steek kortsigtige anti-wit chauvinisme kop uit op sommige kampusse, terwyl ons probeer om getransformeerde en nie-rassisge universiteite en ʼn Suid-Afrikaanse samelewing te bou.”

Die departement het ʼn beroep op die bestuur van die universiteite gedoen om daadwerklik op te tree teen persone wat geweld en vandalisme op die kampusse bevorder.

“Die departement sal binnekort planne aankondig om die progressiewe voornemens van die hoëronderwysberaad te steun en om die broodnodige transformasie in die hoëronderwysstelsel te bespoedig. Die departement kan en sal nie die vernietiging van eiendom en die bedreiging van lewens duld nie en doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om studente, personeel, werkers en universiteiteiendom te beskerm,” het Nkwanyana gesê.

[Luister] Adam Tas vertel Bosveldstories in eerste DVD

$
0
0
Adam-Tas

Adam Tas. Argieffoto.

Die sanger en liedjieskrywer, Adam Tas, het onlangs sy eerste DVD uitgereik wat verskeie van die treffers wat op sy vyf CD’s verskyn, bevat.

Adam, die eerste Afrikaanse sanger wie se musiek op iTunes verskyn het, sê hy het besluit om die DVD, Stories uit die Bosveld, uit te reik vanweë groot openbare aanvraag.

“Dit is ʼn samestelling van die al die musiekvideo’s wat ek oor die jare gedoen het. Mense vra gereeld waar hulle my musiekvideo’s in die hande kan kry. Hulle sien dit een of twee keer op televisie en dan nie weer nie,” sê hy.

Adam vertel dié DVD is ʼn weerspieëling van wie hy as sanger is. “Ek kom uit die Bosveld, en baie van my liedjies skryf ek ook daar. Vir dié rede het ek die titel vir die DVD gekies. Die liedjies gaan egter nie alles oor die Bosveld nie, daar is ʼn lekker mengsel van my vyf CD’s.”

Die DVD bevat 15 musiekvideo’s van Adam se gewildste liedjies soos “Skilpadtepel”, “Draadloosdae” en “ʼn Man soos my pa”. Vier video’s op die DVD, onder meer “Lappieskombers” en “Te beautiful vir my”, is opnames van regstreekse optredes.

Stories uit die Bosveld is nou landwyd in musiekwinkels beskikbaar.

‘Onteieningswet sal in grondwethof beveg word’

$
0
0
LP's in die parlement tydens pres. Jacob Zuma se staatsrede op 11 Februarie 2016 (Foto: GCIS)

LP’s in die parlement tydens pres. Jacob Zuma se staatsrede op 11 Februarie 2016 (Foto: GCIS)

“Die wetsontwerp op onteiening is een stap nader om as een van Suid-Afrika se gevaarlikste wette gepromulgeer te word nadat die Nasionale Vergadering dit gister met 202 stemme teenoor 88 goedgekeur het.” Dit is die mening van die burgerregte-organisasie AfriSake wat reeds sy regspan opdrag gegee om dié wet in die konstitusionele hof te gaan betwis sodra dit gepromulgeer word.

Volgens Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, sal die regering die proses nou so vinnig moontlik versnel om die wet goedgekeur te kry. AfriSake is van mening dat dit met die oog op die komende munisipale verkiesing gedoen word om stemme en steun vir die regerende party te verseker.

Die wetsontwerp bepaal onder meer dat die regering enige bate kan onteien as dit in openbare doel of openbare belang geskied. Aandele, intellektuele eiendom en regte verbonde aan eiendom kan dus hiermee onteien word. Daar word ook weggedoen met die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper wat bloot as een van die faktore om vergoeding te bepaal in ag geneem word.

“Met hierdie wetgewing kan die regering besluit wat jou eiendom werd is. As jy dit wil betwis, sal jy op eie onkoste moet hof toe – wat jou ’n aardige bedrag uit die sak kan jaag. Dit kan tog onmoontlik versoenbaar wees met die art. 25 van die grondwet,” het Pieterse gesê.

Lees meer oor die Grondonteieningswetsontwerp op Maroela Media.

 

Tuks sluit ook al sy kampusse

$
0
0

Betogings Maandag op die Tuks-kampus. Foto: Adéle Changuion

Betogings Maandag op die Tuks-kampus. Foto: Adéle Changuion

Akademiese aktiwiteite op die Hatfield-, Groenkloof- en Mamelodi-kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) is vir die res van die week opgeskort.

Prof. Cheryl de la Rey, visekanselier en rektor van die universiteit, het gesê die bestuur is steeds besig om met studenteleiers en ander rolspelers te vergader om die kwessies wat tot die afgelope paar dae se onluste gelei het, te bespreek. “Ter wille van die veiligheid van al die lede van die universiteit en om te verseker dat akademiese bedrywighede sonder verdere onderbreking kan voortgaan, moet ons verseker dat genoegsame en effektiewe veiligheidsmaatreëls bestaan voordat ons die kampusse heropen,” het sy gesê.

Die universiteit het aanvanklik net sy Hatfield- en Groenkloof-kampus gesluit, maar het later aangekondig dat lesings op die Mamelodi-kampus ook opgeskort is aangesien die busvervoer na die kampus ontwrig is.

“Alle lesings, toetse en tutoriale wat hierdie week moes plaasvind, sal herskeduleer word. Ons lig alle studente en personeel in dat wanneer die kampusse heropen geen ontwrigtende en onwettige gedrag geduld sal word nie. Ons het ʼn hofinterdik bekom wat geweld van enige aard op ons kampusse verbied en dit sal streng toegepas word met behulp van die polisie,” het De la Rey gesê.

“Ons keur nie enige geweld, intimidasie, aanhitsing of haatspraak deur enige party goed nie. Ons is besig om die universiteit se dissiplinêre prosesse te implementeer en sal enige voorvalle van gewelddadige en onwettige gedrag by die polisie aanmeld vir moontlike vervolging.”


Mars toe teen 1 000 km per sekonde!

$
0
0
Kunstenaarsvoorstelling van die laser, Q Zang

Kunstenaarsvoorstelling van die laser, Q Zang

Bemande ruimtetuie na Mars kan die rooi planeet binne ’n maand bereik, en piepklein satelliete kan na eksoplanete gelanseer word as Amerikaanse navorsers daarin kan slaag om die gaping tussen teorie en praktyk te oorbrug. Nasa stel baie belang in die konsep wat prof. Phillip Lubin van die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara, voorstel.

Die teorie is dat ruimtetuie met reuse seile deur sterk lasergedrewe protone wat van die aarde af gerig word, aangedryf word. Op dié manier kan ’n klein satelliet uiteindelik sowat ’n kwart van die spoed van lig haal en Mars binne drie dae haal, terwyl ‘n reuse bemande tuig met voorrade, Mars binne ’n maand en teen ’n snelheid van ’n 1 000 kilometer per sekonde, kan haal in plaas van die huidige vyf tot ses maande – met tegnologie wat eers in die volgende dekade beskikbaar sal wees.

Met die voorgestelde tegnologie kan eksoplanete egter ook binne ’n redelike tyd bereik word. Volgens Lubin is daar binne ’n radius van 25 ligjaar van die aarde ’n hele aantal eksoplanete wat verdien om ondersoek te word, asook soos hy dit stel, bewoonbare dinge.

Bron: Deepspace

Mans in hof wat glo sjokoladevorms steel

$
0
0

Foto: www.cadbury.co.za

Foto: www.cadbury.co.za

Twee mans wat glo die vorms gesteel het waarmee Cadbury se gewilde Bubbly-sjokolade gemaak word, het Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Lindile Stemela (47) en Fayaaz Salie (32) is in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van die vorms by die Cadbury-fabriek in Harrowerweg in die stad. Volgens mediaberigte word die vorms spesifiek gebruik om Bubbly-sjokolade te maak.

Salie is reeds op R2 000 borgtog vrygelaat. Stemela sal Donderdag weer in die hof verskyn vir sy formele borgtogaansoek.

Volgens die hofdokumente is die waarde van die plate waarin die sjokolade gevorm word ongeveer R800 000.

Adv. Tim van Rooyen, die staatsaanklaer, het gesê die klaer het aangedui daar is beeldmateriaal van veiligheidskameras beskikbaar wat wys hoe Stemela en Salie die plate in ʼn gereedskaphouer laai en van die perseel af verwyder. Die vorms is glo vir skrootmetaal verkoop.

Dit het vroeër in die hof aan die lig gekom dat Stemela voorheen op aanklagte van moord en roof skuldig bevind is en tans op parool vrygelaat is.

[Video] Die plastieksakkie-truuk wat jou lewe gaan verander

$
0
0
Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Jy gebruik moontlik gereeld plastieksakkies om ʼn toebroodjie of oorskietkos in te bêre, maar jy doen dit dalk verkeerd!

Gewoonlik word iets sommer net in die sakkie gesit, die lug word met jou hande uitgepers en dan word die sakkie verseël.

LV Anderson, assistentredakteur van Slate Magazine verduidelik egter in dié YouTube-video hoe om iets “op die regte manier” in ʼn plastieksakkie te bêre – en voer aan die tegniek “kan jou lewe verander”.

Die Amerikaanse departement van landbou beveel ook aan dat lugdigte houers gebruik moet word as ʼn veiligheidsmaatreël om te verhoed dat bakterieë op kos groei. Dié tegniek verander jou plastieksakkie in ʼn kits in ʼn lugdigte houer en spaar ook baie plek.

Afrikaanse kykgenot vir buitelanders met ShowMax

$
0
0
Skermskoot van ShowMax

Skermskoot van ShowMax

Buitelanders kan ook nou die kassie aansit en kuier saam met bekende Suid-Afrikaanse gesigte soos Riaan Cruywagen en Jan Braai.

kykNET Internasionaal op ShowMax bied kykers in die buiteland die geleentheid om binne een dag ná uitsending hier na al die lekkerste Afrikaanse programme te kan kyk op ʼn rekenaar, slimfoon of tablet.

ShowMax is Afrika se grootste aanlyn-televisiediens in terme van inhoud, en bied kykers onbeperkte toegang tot meer as 12 000 episodes van die beste plaaslike reekse en flieks uit Suid-Afrika teen US$8.99 (ongeveer R138) per maand.

Buitelandse kykers kan voortaan ook wors braai saam met Jan Braai en byhou met die dokters se dramas in Binnelanders. Vir die jongspan is daar oulike Afrikaanse stories soos Maja die by en Tjiff & Tjaff en ʼn verskeidenheid Afrikaanse flieks is ook beskikbaar.

ʼn Subskripsie by ShowMax laat kykers toe om op twee skerms gelyktydig te kyk en tot vyf verskillende toestelle te registreer. Die diens is ook beskikbaar op enige slimfoon, tablet, persoonlike rekenaar, skootrekenaar asook Samsung en LG Slim TV-stelle.

Kykers kan ook soveel as 25 episodes asook flieks aflaai met die ShowMax-app en dit vir 30 dae hou.

Die diens bied ʼn sewedag-proeflopie. Besoek ShowMax se webwerf.

Taalbeleidvoorstelle nie taakspan s’n nie, erken UP

$
0
0

Foto: UP/Facebook

Foto: UP/Facebook

Die voorgestelde wysigings aan die Universiteit van Pretoria (UP) se taalbeleid, waarvolgens Engels die primêre onderrigtaal sal wees, is nie die voorstelle van die taalbeleid-taakspan nie.

Prof. Koos Malan, professor in publiekreg aan UP en lid van die taalbeleid-taakspan, het aan Maroela Media gesê die wysigings wat deur die rektor deurgegee is asof dit die voorstelle van die taakspan is, is ʼn wanvoorstelling.

“Die voorgestelde wysigings soos per die rektor se skrywe kom op die afskaffing van Afrikaans neer en wek die indruk dat die taakspan wesenlik op ʼn eentalige Engelse voertaalbeleid ooreen gekom het. Die is nie waar dat die taakspan op hierdie voorgestelde wysigings ooreengekom het nie. Vir sover die voorgestelde wysigings derhalwe as die mening van die taakspan voorgestel word, is dit ʼn wanvoorstelling.”

Volgens Malan het die taakspan nooit tot ʼn bepaalde finale aanbeveling gekom nie en is daar op sekere vertrekpunte ooreengekom. “Diegene wat vir die wanvoorstelling verantwoordelik was, behoort dit reg te stel. Die basiese uitgangspunte van die taakspan was vanuit die staanspoor juis die teenoorgestelde as wat die wanvoorgestelde voorstelle behels. ʼn Uitbreiding van veeltaligheid is voorgestaan, nie ʼn afname of wesenlike verwydering daarvan en die vervanging met Engelse eentaligheid wat die huidige voortstelle nou basies behels nie.”

Maroela Media het intussen korrespondensie onder oë gehad waarin ʼn lid van die universiteit se bestuur, wat ook deel van die taakspan is, toegee het dat die voorstelle nié die van die taakspan is nie, “maar eerder dié van die senaat”.

Prof. Cheryl de la Rey, rektor en visekanselier van UP, het in ʼn skrywe gedateer 18 Februarie verklaar dat die volgende wysigings aan die beleid voorgestel word:

  • Dat Engels die primêre onderrigtaal in alle lesings moet wees;
  • dat die universiteit meertaligheid moet bevorder ten einde studentesukses te fasiliteer en maatskaplike samehorigheid te bou;
  • dat Afrikaans en Sepedi gebruik moet word om addisionele ondersteuning aan studente in tutoriale, praktika en besprekings te bied; en
  • dat oorgangsmaatreëls ingestel sal word indien die voorgestelde wysigings hierbo aanvaar word.

De la Rey het in die skrywe aan personeel, alumni en ander belanghebbendes voorgehou dat dit die voorstelle van die taakspan is.

Die UP se raad hou intussen Saterdag ʼn buitengewone vergadering. Prof. De la Rey sal verslag doen oor die betogings wat die universiteit tot stilstand gebring het en die pad vorentoe. Volgens die agenda sal die “substansie van die universiteit se taalbeleid” nie tydens die vergadering bespreek word nie.

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, het aan Maroela Media gesê die voorstelle is op 27 Januarie aan die senaatsvergadering voorgehou en aanvaar. Sy het gesê sy kan nie kommentaar lewer oor die interne prosedures van die taakspan nie. Die bestuurslid wat toegegee het dat die voorstelle nié die van die taakspan is nie, is tans in die buiteland. Maroela Media sal vrae aan die bestuurslid rig en hieroor berig sodra die terugvoer ontvang is.

Bouwer het intussen gesê daar is talle prosesse wat nou moet volg voordat die universiteit se taalbeleid gewysig kan word, waaronder ʼn konsultasieproses. Die voorstelle moet hierna voor die raad dien en die implementering van enige veranderinge sal in ooreenstemming met die toepaslike wetgewing geskied, aangesien die taalbeleid ʼn statutêre aangeleentheid is wat aan die minister van hoër onderwys en opleiding voorgelê moet word. “Daar is ʼn persepsie dat die EFF op en af gespring het en dat die universiteit daarom sy taalbeleid hersien, maar hierdie proses is al vir ʼn jaar aan die gang.”

Begrotingsrede 2016: Só word jou sak geraak

$
0
0

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede gesê die koerse vir persoonlike inkomstebelasting gaan verlaag word, maar volgens ʼn kenner is dit slegs ʼn skynverligting. Belasting op tabak en alkohol is verhoog.

Gordhan het in sy begrotingsrede ’n vermindering van R5,65 miljard in persoonlike inkomstebelasting vir individue aangekondig, wat volgens hom “gedeeltelik vergoed vir inflasie en hoofsaaklik gefokus is op laer- en middelinkomstegroepe”.

belasting

Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is Gordhan se aankondiging van belastingverligting, soos in vorige jare, erg misleidend.

“Om die kastige ‘verligting’ te ontvang, moet jou inkomste konstant bly teenoor die vorige jaar. Indien jou inkomste konstant bly, beteken dit eintlik dat jy armer word, omdat inflasie jou koopkrag verminder. Iemand wat in die 2015/16-belastingjaar belasbare inkomste van R300 000 gehad het, sou 17% (R50 986) daarvan aan inkomstebelasting moes afstaan. Indien die persoon ʼn verhoging van 6% in sy inkomste kry, sal hy R318 000 verdien, waarop hy in die 2016/17-belastingjaar R55 360 inkomstebelasting sal moet betaal – dit is 17,4% van sy inkomste. Dis nie moeilik om te sien dat 17,4% hoër is as 17% nie. Jy het dus ʼn keuse tussen om jouself deur inflasie te laat verarm, of om inflasie die hoof te bied, maar dan deur hoër belasting verarm te word.”

Die brandstofheffing sal intussen vanaf 6 April met 30c per liter styg. Dit sal die algemene brandstofheffing na R2,85 per liter petrol en R2,70 per liter diesel verhoog.

Gordhan het ook nog slegte nuus gehad vir sommige verbruikers met die aankondiging van belastingverhogings op tabak en alkohol:

sondebelasting

Die regering het intussen ook voorgestel dat daar vanaf 1 April 2017 ’n belasting op suikerversoete drankies gehef word om die oormatige inname van suiker te verminder. “Vetsug wek wêreldwyd kommer, maar Suid-Afrika se vetsug-posisie is tans die ongewensste in Afrika suid van die Sahara. Dit het ’n groter risiko vir hartsiektes, diabetes en kanker tot gevolg.”

[Video] NWU-dosent hardhandig deur ‘student’ behandel

$
0
0
'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Die bestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) het gesê hy is bewus van ʼn voorval waarin ʼn jong man glo ʼn vrouedosent op die Mafikeng-kampus hardhandig behandel het.

ʼn Video van die voorval word wyd op sosiale media gedeel en wys hoe die dosent op haar podium in die lokaal staan, omring deur beweerde betogende studente wat haar klas probeer ontwrig. Sy vra egter vir die klas of hulle eerder wil studeer, en hulle dui aan dat hulle wil. Een van die betogers stoot haar dan met sy hande op haar bors uit die klas.

Koos Degenaar, kampuswoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het op 15 Februarie plaasgevind toe ʼn groep betogers, wat glo deel van die EFF studente-afvaardiging is, klasse ontwrig en kampuseiendom gevandaliseer het. Lees meer hier.

“Die tugverhoor van Benz Mabengwane, voorsitter van die institusionele verteenwoordigende studenteraad, het op die dag plaasgevind en die groep het uit protes daarteen betoog,” het Degenaar gesê. Mabengwane is dissiplinêr verhoor nadat hy vroeër vanjaar ʼn hofinterdik verontagsaam het wat hom verbied het om die registrasieproses by die universiteit te ontwrig.

Degenaar het gesê die dosent is gelukkig nie tydens die voorval beseer nie. “Ons is besig om die voorval te ondersoek en sal die nodige stappe neem wat daaruit spruit. Die moontlikheid bestaan egter dat van die betogers nie van dié kampus is nie, maar van ʼn ander universiteit af hierheen aangery is.”

AfriForum Jeug het Woensdag geëis dat stappe geneem word teen die betogende studente wat die dosent “aangerand” het nadat hulle die beeldmateriaal bekom het.

“Dit is duidelik uit die reaksie van die studente in die klas dat hulle eerder wou studeer en nie die optrede van die betogende studente goedkeur nie. ’n Mens kan die ontevredenheid onder studente hoor toe die betoger die dosent op haar bors begin stoot,” het Janli Sonntag, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder, gesê.

Sy het gesê die NWU het ’n verantwoordelikheid teenoor sowel studente as dosente om hul veiligheid en reg op onderrig te verseker. AfriForum Jeug is van mening dat die meerderheid studente nie die betogende studente ondersteun nie.

“Die universiteitsbestuur kan nie toelaat dat ’n klein groep radikale studente die res van die kampus gyselaar hou nie. Daar moet teen anargiste opgetree word wat ander se regte ontneem en hul veiligheid in gedrang bring,” het Sonntag bygevoeg.

“Ons het ná verlede Maandag se voorval veiligheid op die kampus aansienlik verskerp en monitor deurlopend die situasie,” het Degenaar gesê.

Degenaar het ook gesê Mabengwane se tugverhoor is gefinaliseer ten spyte van die betogings en die uitslag van die verhoor sal binnekort bekendgemaak word.

 


Begrotingsrede 2016: ‘Staat gaan gordel intrek’

$
0
0

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Woensdag tydens sy begrotingsrede gesê staatsbesteding moet aansienlik verminder word.

Gordhan het gesê groeikoerse van minder as 1% val tekort aan dit wat nodig is om werk te skep en armoede en ongelykheid te verminder. Die tesourie verwag ekonomiese groei van net 0,9% vanjaar in vergelyking met die 1,3% in 2015. “Dit weerspieël die benarde internasionale toestande sowel as die impak van die droogte. Dit weerspieël ook beleidsonsekerheid, die effek van uitgerekte arbeidsgeskille op sakevertroue, die beperkings in elektrisiteitsvoorsiening en regulatoriese hindernisse vir beleggings.”

Gordhan het gesê die begroting word gelei deur die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). “Dit is ʼn begroting vir inklusiewe groei. Dit beklemtoon vennootskappe tussen rolspelers in ons ekonomie, dit prioritiseer onderwys en belegging in infrastruktuur, dit word ondersteun deur werkskepping en dit dra by tot die bou van ʼn bekwame ontwikkelingstaat.”

Gordhan het teen die agtergrond van die trae groei, stygende skuld en hoër rentekoerse voorgestel dat die tempo van fiskale konsolidasie versnel word en die begrotingstekort teen 2018/19 met 2,4% verminder word. “Die bestedingsplafon sal oor die volgende drie jaar met R25 miljard gesny word, hoofsaaklik deur die personeelbesteding te beperk. Belastingverhogings ten bedrae van R18 miljard word vir 2016/17 voorgestel, en ʼn verdere verhoging van R15 miljard per jaar in 2017/18 en 2018/19.”

Gordhan het aangekondig dat ʼn bykomende R16 miljard oor die volgende drie jaar aan hoër onderwys toegeken sal word en dat dit befonds sal word deur die herprioritisering van bestedingsplanne. ʼn Bykomende R11,5 miljard word oor die volgende drie jaar vir maatskaplike toelae beskikbaar gemaak. Volgens Gordhan is daar ook fondse beskikbaar gemaak om die impak van die droogte op die landbousektor hok te slaan.

Gordhan het met betrekking tot groei en ontwikkeling gesê daar is verskeie uitdagings in Suid-Afrika. “Ons reageer op ʼn beroep van die sakesektor vir groter sekerheid ten opsigte van beleid wat beleggingsbesluite beïnvloed. Ons is besig met voorstelle van georganiseerde arbeid vir ʼn minimumloonbeleid en vir vordering rakende geleenthede vir jong mense. Ons reageer op aksies in gemeenskappe waar dienste ontbreek of swak bestuur word. Ons werk aan oplossings rakende studente se kommer oor universiteitsgeld en behuising.”

Gordhan het gesê vanjaar se begroting is gefokus op fiskale konsolidasie. “Ons kan nie geld bestee wat ons nie het nie. Ons kan nie geld leen buite ons vermoë om dit terug te betaal nie. Totdat ons groei kan bespoedig en meer inkomste kan genereer, moet ons streng wees met onsself.”

Gordhan het gesê die regering gaan sy gordel styf intrek deur onder meer beperkings te plaas op die vul van regeringsposte; ʼn nasionale beleid rakende die kostes van reis en verblyf sowel as konferensies; nuwe riglyne rakende die waarde van voertuigaankope vir politieke ampsdraers en verpligte gebruik van die nuwe e-tenderportaal om sodoende deursigtigheid ten opsigte van verkryging te handhaaf.

Lees ook: Begrotingsrede 2016: Só word jou sak geraak

ToekomsVenster: Dien met liefde

$
0
0
vryheid

Argieffoto.

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Gal 5:13,14

Paulus skryf aan mense wat die evangelie op sekere punte misverstaan het. Sommige het gedink dat ’n mens moet aanhou om sekere wette na te kom om in die regte verhouding met God te wees. Paulus sê dat enige poging om dit te doen in direkte konflik met die evangelie is. ’n Mens kan nie met die Gees begin en dan in eie krag eindig nie (Gal 3:2,3). ’n Mens kan nie vrygemaak word en dan weer kies om ’n slaaf te word nie (Gal 4:9). Dis tog onsinnig! Daarom, as Christus jou vrygemaak het, is jy werklik vry (Gal 5:1)!

Die probleem is dat ander lesers hierdie vryheid misverstaan het. Hulle het geglo dat ’n mens kan doen wat jy wil as jy vry is. Hulle lewenstyl het nie gepas by mense wat sê dat hulle aan Christus behoort nie. Dis hoekom daar probleme in die gemeente was. Mense het mekaar met hulle woorde uitgetart, afgekraak en verskeur (Gal 5:15,26). Hulle lewe het getuig van mense wat geen verhouding met die Gees en Christus het nie (Gal 5:19-21).

As ’n mens hierdie hoofstuk noukeurig lees, besef jy dat medemenslike verhoudings die plek is waar sonde die duidelikste na vore kom. Lees gerus hoe die lewe sonder die Gees van God die verhoudinge in die gemeente beïnvloed het (5:19-21). Ons weet dat die wet uit twee tafels bestaan – liefde vir God en ons medemens – maar Paulus skryf hier dat die hele wet in een gebod saamgevat word: liefde vir ons medemens (5:14).

As ons ’n gemeente wil wees wat aan Christus getrou bly, werklik in die krag van die Gees wil lewe, sal ons moet begin verstaan dat vryheid ten diepste diens aan mekaar impliseer. Hierdie diens word nie gedryf deur plig nie. Ons doen dit nie omdat ons een of ander taak het om te verrig nie. Paulus sê: dien mekaar in liefde (5:13).

Paulus gebruik die woord wat ons met die diens van ’n slaaf kan vertaal. Om ’n slaaf te wees veronderstel ’n eensydige verhouding. ’n Heer dien nie die slaaf nie. Die slaaf dien die heer. Die orde word nie omgekeer nie. Paulus keer die verhouding op sy kop. In die geloofsgemeenskap is daar nie plek vir heer en slaaf nie. Hier is almal slawe van mekaar!

Dis wat dit beteken om in die krag en onder leiding van die Gees te lewe. Dis die teenpool van ’n lewe sonder Christus.

Erge skade vir polisie ná Modimolle-betoging

$
0
0

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die betogers wat Dinsdag chaos in Modimolle (Nylstroom) veroorsaak het toe hulle tydens ʼn betoging gewelddadig geraak het, het erge skade aan polisie-eiendom en voertuie aangerig.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê twee huise wat aan polisiekonstabels behoort, is erg beskadig toe dit deur die betogers aan die brand gesteek is. Twee polisievoertuie se vensters is ook stukkend geslaan.

“Twee polisiebeamptes wat kamers in ʼn private woning huur, is ook baie skade berokken toe die betogers die vensters stukkend geslaan en hul persoonlike besittings geplunder of gebreek het,” het Otto gesê. “Gelukkig is niemand tydens hierdie voorvalle beseer nie.”

Die burgemeester van Modimolle, Elizabeth Lekalakala, se huis is Dinsdag in die vroeë oggendure deur ʼn groep betogers beskadig te midde van spanning in die gebied oor ʼn gebrek aan water. Die hoofpad tussen Phagameng en Modimolle is met bande wat aan die brand gesteek is, boomtakke, vullis en klippe versper. Altesaam 14 mense is in hegtenis geneem.

Lt.genl. Fannie Masemola, die provinsiale polisiekommissaris, het die geweld veroordeel en gesê dit is ʼn groot jammerte dat die gemeenskap polisielede aanval wat juis daar is om hulle te beskerm. Hy het gesê die polisie sal geen steen onaangeraak laat om die oortreders vas te trek en aan die pen te laat ry nie.

Masemola het ook sy dank uitgespreek teenoor mense in die gemeenskap wat aangebied het om die polisiebeamptes wat onder die betogers deurgeloop het te help om weer op hul voete te kom. “Dit is presies die houding wat ons nodig het sodat almal kan saamwerk,” het hy gesê.

Foto: SAPD Foto: SAPD Foto: SAPD

Gr. 1-leerder ernstig beseer by skool

$
0
0

Argieffoto Foto: Netcare911

Argieffoto Foto: Netcare911

ʼn Gr. 1-leerder het ernstige beserings opgedoen toe hy deur ʼn voertuig raakgery is by ʼn skool in Lydenburg, Mpumalanga.

Volgens Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, is die seun glo in ʼn parkeerarea op die skoolgrond raakgery.

Mathe het gesê paramedici het die beseerde leerder in die skool se siekeboeg gestabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Begrotingsrede 2016: Politieke partye reageer

$
0
0

Pravin Gordhan. Argieffoto

Pravin Gordhan. Argieffoto

Politieke partye het grotendeels positief op Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede gereageer.

Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het gesê Gordhan se begrotingsrede kan as ʼn “terug na basiese ekonomiese grondwaarhede” beskryf word. “Die minister het fiskale dissipline beklemtoon met die voorneme om miljarde te bespaar deur beter beheer oor staatsaankope en deur besparing. Dit is stappe in die regte rigting.”

Volgens Mulder probeer die ANC, “wat Suid-Afrika tot op die rand van rommelstatus gebring het”, nou die land uit die gemors kry deur basiese ekonomiese grondwaarhede te probeer toepas. “Die vraag is of dit nie te min te laat is nie.” Mulder het gesê hoewel die minister geld vir universiteite beskikbaar gestel het, het hy nie kans gesien om ingrypende droogtehulp aan te kondig nie. “Daar was enkele vae beloftes dat dit nog aandag gaan geniet, maar dit gaan te laat wees om talle landbouers te red.”

Die DA het gesê hy is teleurgesteld dat Gordhan nie verdere besparingsmaatreëls aangekondig het nie. Volgens David Maynier, DA-LP, kon Gordhan onder meer aangekondig het dat pres. Jacob Zuma se kabinet tot 15 departemente verminder word en sodoende die fiskus “R4,7 miljard” spaar.

Julius Malema, leier van die EFF, het Gordhan se lof besing. Malema het gesê die land moet die minister en begroting ondersteun aangesien hy gedoen het wat nodig was om die land van rommelstatus te red. “Die minister het gekom en sy begroting in die moeilikste tyd voorgelê. Dit is tyd dat ons politieke en ideologiese verskille een kant toe skuif en verenig.”

Die ANC het intussen Gordhan se begroting as “pragmaties en stewig in lyn met ANC-beleid” beskryf. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die begroting het voldoende geantwoord op die bekommernisse van betogende studente en vakbonde en dat Gordhan voortgegaan het om besteding op onderwys te prioritiseer.

Viewing all 80349 articles
Browse latest View live