Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

Apartheidsera-polisiebeamptes in hof vir moord

$
0
0

Die vier beskuldigdes. Foto: @POWER987News/Twitter

Die vier beskuldigdes. Foto: @POWER987News/Twitter

Vier voormalige polisiebeamptes uit die apartheidsera, wat aangekla word van die moord op ʼn anti-apartheidaktivis 33 jaar gelede, het Vrydag in die Pretoria-streekhof verskyn.

Musebenzi Radebe, Willem Coetzee, Anton Pretorius en Frederick Mong is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het beëdigde verklarings namens hul kliënte ingedien. Die beskuldigdes het in hul verklarings aangedui hulle beplan nie om te vlug om vervolging te ontduik nie.

Volgens die beskuldigdes sou hulle reeds gevlug het indien dit hul bedoeling was, nadat in die media berig is die nasionale vervolgingsgesag (NVG) beplan om diegene verantwoordelik vir die ontvoering en moord van Nokuthula Simelane te vervolg.

Landdros Adriaan Bekker het met die toestaan van borgtog gesê hy kon geen rede vind dat die beskuldigdes vervolging sal probeer ontduik of met die ondersoek sal inmeng nie. Hy het die beskuldigdes egter gewaarsku om nie met getuies kontak te maak of hul borgtogvoorwaardes te oortree nie. Die saak is tot 29 Maart uitgestel.

Coetzee, Pretorius en Mong het in hul verklarings aangedui hulle was betrokke by Simelane se ontvoering, maar hulle het haar later naby die grens met Swaziland in Mpumalanga afgelaai. Volgens die drie het hulle geen idee wat hierna gebeur het nie en het hulle in die laat 1990’s amnestie ontvang by die Waarheid- en Versoeningskommissie. Daarom staan hulle slegs tereg op aanklagte van moord, terwyl Radebe tereg staan op aanklagte van ontvoering en moord.

Simelane het in 1983 op 26-jarige ouderdom verdwyn. Sy was ʼn student by die Universiteit van Swaziland en ʼn lid van Umkhonto weSizwe (MK). Sy is ontvoer toe sy ʼn bron in Johannesburg gaan ontmoet het.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het gesê die staat het ʼn sterk saak teen die beskuldigdes en daarom die saak aanhangig gemaak het.


Gordhan trek streep in sand

$
0
0

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, minister van finansies, het ʼn streep in die sand getrek in die magstryd met Tom Moyane, hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Gordhan het Vrydag tydens ʼn PwC-funksie gesê Moyane se “uittarting” en “onwilligheid om verantwoordbaar aan die nuwe minister te wees”, is verdag. Hy het bevestig die Valke het vier dae voor Woensdag se begrotingsrede ʼn vraelys aan hom gestuur.

Hy het gesê hy beskou die vraelys van die elite ondersoekeenheid as “totaal verregaande” en dit is ongehoord dat ʼn staatsentiteit ʼn minister aanval. Hy het gesê hy sal binnekort al die “feite op die tafel sit”.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het intussen die party se ondersteuning aan Gordhan benadruk en gesê daar is ʼn komplot om hom te ondermyn.

Die Valke ondersoek bewerings van ʼn sogenaamde “rogue unit” binne die SAID en volgens Mantashe is hul jongste stap duidelik bedoel om die minister te ondermyn. “Die ANC loof die minister van finansies en sy span vir die harde werk wat hulle tot dusver gedoen het. Ons benadruk verder ons volle vertroue in die minister en sy span vir die werk waarmee hulle voortgaan,” het Mantashe in ʼn verklaring gesê.

“Die inisiatiewe om sy werk te ondermyn is betreurenswaardig. Ons is uiters bekommerd daaroor dat die minister vier dae voordat hy sy begrotingsrede moes lewer, vrae van die Valke ontvang het. Die tyd waarop die vrae gestuur is, wys duidelik daar was pogings om die minister se aandag af te lei in hierdie belangrike tyd. Dit is nog meer ontstellend dat die vrae aan die media uitgelek is.”

Moyane was nie Woensdag teenwoordig by ʼn mediakonferensie wat Gordhan voor sy begrotingsrede gehou het nie. Die hoof van die SAID is gewoonlik daar. Op ʼn vraag aan Gordhan oor waarom Moyane nie teenwoordig was nie, het hy gesê daar is steeds “kwessies” wat opgelos moet word.

Moyane het glo die bewerings gedryf van ʼn onwettige spioenasie-eenheid wat gestig is toe Gordhan nog aan die hoof van die SAID was. Gordhan het dit egter ten sterkste ontken.

Volgens mediaberigte het Gordhan gedreig om te bedank indien Moyane nie vervang word nie. Dit volg kort nadat pres. Jacob Zuma gesê het hy glo David van Rooyen is die beste persoon vir die pos. Die uitlating is deur sommige gesien as ʼn bevestiging van onenigheid tussen die presidensie en Tesourie oor die staatskas en die SAID.

Baba ontvoer by hospitaal

$
0
0

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

ʼn Baba van tien dae oud is Donderdagaand uit die Worcester-hospitaal ontvoer.

“Die babaseuntjie, wat ʼn blou babapakkie aangehad het en in ʼn blou en geel kombersie toegedraai was, het verdwyn tydens besoektyd by die hospitaal,” het Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die omstandighede rondom die ontvoering word ondersoek en ons doen ʼn dringende beroep op die publiek om na vore te kom indien hulle inligting het.” Rwexana het lede van die publiek wat inligting het, versoek om die Worcester-polisie by 023 348 8600 of 08600 10111 te kontak.

Sexwale onttrek aan Fifa-verkiesing

$
0
0

Tokyo Sexwale Foto: Werner Beukes/SAPA

Tokyo Sexwale Foto: Werner Beukes/SAPA

Tokyo Sexwale, wat een van die kandidate was in die verkiesing vir die nuwe president van die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa), het Vrydag kort voor die stemmery begin het, as kandidaat onttrek.

Sjeik Salman Bin Ebrahim Al Khalifa, Gianni Infantino, prins Ali Bin Al Hussein en Jerome Champagne is die oorblywende kandidate vir president van Fifa.

“Ek is bereid om onder die volgende president te dien. My kandidaatskap eindig hier. Ek dank u,” het Sexwale in ʼn kort toespraak voor die stemmery sou begin, gesê.

“Ek sou nooit eers kon droom om ʼn Fifa-kandidaat te wees nie. Ons is vandag hier omdat ʼn president gekies moet word. Kom ons bly verenig. Die wêreld daar buite dink dit is die einde van Fifa.”

Gedagte vir die dag: Tevrede omdat God in beheer is

$
0
0
gods-window.jpg

Foto: God’s Window, Mpumalanga

Lees: Psalm 66:1-9

So sterk is die Here dat Hy altyd in beheer van sake is. Hy gee aan ons lewe. Hy sorg dat niks ons onderkry nie. (Psalm 66:7, 9, Die Boodskap)

Wanneer ons glo dat God in beheer is, al gebeur daar dinge met ons wat ons nie kan verstaan of wil aanvaar nie, maak daardie geloof dit vir ons moontlik om ten spyte van ons krisissituasies nie paniekerig te raak nie, maar steeds tevrede te bly. In Psalm 46 praat die digter oor die dinge waarvoor hy bang is. Maar dan besef hy dat sy paniek onnodig is. “As ons wil vlug, kan ons na God toe vlug. As ons beskerming soek, sal die Here ons beskerm. As ons in die moeilikheid is, sal Hy ons help. Daarom skrik ons vir niks nie. Al sou die aarde bewe en dit lyk of die berge in die see wil wegsak, ons is nie bang nie,” getuig hy in die eerste drie verse van die psalm (Die Boodskap).

Dis vir God se kinders moontlik om in alle omstandighede kalm en tevrede te bly omdat ons vir seker weet dat die God wat ons aanbid, volkome in beheer van ons omstandighede is. Wanneer dinge in jou eie lewe weer wil handuit ruk, fokus op die feit dat jou God so sterk is dat Hy steeds in beheer sal bly. Dié God vir wie niks onmoontlik is nie, is by jou en Hy onderneem om jou te red en te beskerm sodra dit nodig sou word. Jy mag maar rustig raak en Hom op sy woord neem.

Here God, ek loof U dat ek vir seker mag weet dat U ten spyte van my omstandighede steeds in beheer bly; dat U onderneem om my te red en te beskerm wanneer dit nodig sou raak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

Man sterf in fratsongeluk

$
0
0

Die huis waar die fratsongeluk plaasgevind het. Foto: Crisis Medical

Die huis waar die fratsongeluk plaasgevind het. Foto: Crisis Medical

ʼn Man is Vrydagaand dood nadat ʼn muur op hom ineengestort het by sy huis in Westville in Durban, KwaZulu-Natal.

“Daar word verneem dat die gesin se huis onder water was weens hewige reën in die gebied en dat hulle ook sonder elektrisiteit was,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê. Volgens omstanders op die toneel het die man, nog ʼn volwassene en twee tieners na buite gegaan om vermoedelik die muur te ondersoek.

“In dié stadium is dit nog nie duidelik of hulle vermoed het die muur is beskadig en of hulle juis daarom gaan ondersoek instel het nie. Die muur het op die man ineengestort en hy was onder die puin en in water vasgekeer.” Volgens Vermaak het die man geen teken van lewe getoon met paramedici se aankoms op die toneel nie. Paramedici het onmiddellik behandeling toegepas, maar die man is later op die toneel dood verklaar. Volgens Vermaak was die man 55 jaar oud.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical, het intussen gesê die man was 49 jaar oud. Volgens Van Reenen is die man se vrou ook tydens die voorval beseer. “Sy het nek- en rugbeserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat sy na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere mediese sorg.”

Die voorval word ondersoek.

‘Hy wou iemand sien doodgaan’

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Jean Pierre Haggard (25) en Riaan Marais (27) is gevonnis vir die moord op Pradeeb Mahabeer.

MaroelaNatasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê Haggard en Marais is Donderdag in die hooggeregshof in Ramsgate, KwaZulu-Natal, tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die twee het aanvanklik onskuldig gepleit in verband met die moord op Mahabeer in Julie verlede jaar in Marburg buite Port Shepstone. “Hulle het egter nadat hulle skuldig bevind is, gesê hulle wil hul weergawe van die gebeure weergee. Volgens hul weergawe het Haggard aan Marais gesê hy wil graag sien hoe iemand doodgaan,” het Ramkisson-Kara gesê.

“Marais het voorgestel dat dit Mahabeer moet wees aangesien hy ʼn vendetta teen hom gevoer het. Hulle is na sy huis en het hom vermoor.” Marais en Haggard het aan die hof gesê hulle maak die inligting bekend aangesien hulle wil hê Mahabeer se gesin moet “afsluiting kry”.

Maroela Media het vroeër berig Haggard en Marais het ná die moord talle items uit Mahabeer se huis gesteel, waaronder ʼn selfoon, ʼn videokamera, kringtelevisiekameras en ʼn televisiestel. Hulle het in Mahabeer se motor gevlug en sy liggaam in die Umkomaas-omgewing afgelaai, sowat 80 km van Marburg.

Haggard en Marais is albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die aanklag van moord en 10 jaar tronkstraf elk vir roof.

Hoëprofiel-regeringsamptenaar in ongeluk

$
0
0

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

ʼn Adjunkminister en sy motorbestuurder is Vrydagaand beseer in ʼn ongeluk op die N12 by Fochville.

Mediaberigte het die slagoffer oorspronklik geïdentifiseer as Andries Nel, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake. Dit het egter intussen aan due lig gekom dat dit Obed Bapela, die departement se ander adjunkminister, is wat in die ongeluk betrokke was.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê daar was talle polisiebeamptes op die toneel met paramedici se aankoms. “Volgens inligting het die blouligbrigade op die N12 gery toe ʼn vragmotor glo in hul baan beland het. Die bestuurder van die sportnutsvoertuig [waarin die minister was] het uitgeswaai om die vragmotor te probeer vermy. Die vragmotor het die voertuig steeds getref waarna die voertuig in die veld langs die pad beland het.”

Volgens Vermaak is een van die voertuig se agterdeure weens die trefkrag van die botsing afgeruk. Bapela én sy bestuurder het glo veiligheidsgordels aangehad. “Volgens paramedici op die toneel het dit moontlik daartoe gelei dat niemand uit die voertuig geslinger is nie.”

Bapela en sy bestuurder is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling. Volgens Vermaak is die bestuurder van die vragmotor op die toneel ondervra. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.


Zuma gestrand in Burundi

$
0
0

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma is in Burundi gestrand weens ʼn “tegniese probleem” met sy presidensiële straler.

Volgens die presidensie is Zuma in Burundi as deel van die Afrika-unie (AU) se besoek aan die land. Die afvaardiging, onder wie vyf staatshoofde, het Vrydag samesprekings met Burundi se president, Pierre Nkurunziziza, leiers van politieke partye en ander organisasies afgehandel.

Die presidensie het Saterdagoggend in ʼn verklaring gesê Zuma kon nog nie terugkeer na Suid-Afrika toe nie aangesien sy amptelike straler, Inkwazi, tegniese probleme ondervind het. Geen verdere besonderhede is verskaf nie.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal dus namens Zuma waarneem by die 16de jaarlikse Nasionale Onderwystoekenningsgeleentheid Saterdagmiddag in Johannesburg.

Boek: Prins Kaspian

$
0
0

Narnia-Prins-KaspianC.S. Lewis

Die vier Pevensie-kinders sit nog ewe mismoedig op die stasie en wag vir die trein wat hulle moet terugneem skool toe, toe Lucy skielik ’n pluk voel.

Dan voel Edmund dit ook, en ’n minuut later Susan en Peter ook. In ’n ommesientjie verdwyn die stasie en bevind die kinders hulle in ’n ruie woud langs die see, naby die bouval van wat vroeër hulle kasteel, Kair Paravel, was. Hulle is terug in die magiese land Narnia, waar hulle as konings en koninginne geheers het in Die leeu, die heks en die klerekas.

Iets is egter nie pluis nie. Hulle eens majesteuese kasteel is ’n ruïne en dis oral vreemd stil en leeg. Deur Troempels die dwerg leer hulle van die tragiese lot wat Narnia getref het: Burgeroorlog is besig om die land te verwoes en die dapper Prins Kaspian probeer moedig om sy regmatige koninkryk uit sy bose oom Miraz se kloue te red.

Kaspian het egter hulp nodig en met Aslan se leiding aanvaar die kinders die uitdaging om Narnia weer ’n vrolike en vry land te maak.

Oor die outeur

Clive Staples Lewis (1898–1963) was een van die intellektuele reuse van die twintigste eeu – en waarskynlik een van die grootste skrywers van sy tyd. Die meer as dertig boeke wat uit Lewis se pen verskyn het spreek tot ’n wye en uiteenlopende gehoor, en bly selfs ’n halfeeu ná sy dood jaarliks nuwe lesers werf. Die kronieke van Narnia – waarvaan tot op hede meer as 1 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop is – is een van sy gewildste en mees gerekende werke.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R160.00*
*Prys onderhewig aan verandering

[Foto’s] Stappe kom oor rassistiese graffiti

$
0
0

Foto: UWK

Foto: UWK

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het gesê hy is gewalg van rassistiese graffiti en haatspraak wat op die kampus aangebring is.

Die UWK se bestuur het in ʼn verklaring gesê die graffiti is vermoedelik in die loop van Donderdagaand aangebring. “Geen poging om ons eenheid te bedreig, deur onenigheid onder ons studente en personeel aan te hits op grond van ras, sal geduld word.”

Die bestuur het ʼn beroep op die universiteitsgemeenskap gedoen om die rassistiese uitlatings ten sterkste te veroordeel. “Ons ondersoek die saak en sodra die skuldiges geëien is, sal daar toepaslike stappe teen hulle gedoen word.”

Werkers en studente het die afgelope twee weke by die universiteit betoog. Talle klasse is die afgelope week ontwrig en personeel en studente wat nie aan die betogings deelgeneem het nie, is geïntimideer.

Die universiteit het intussen ʼn bykomende hofbevel bekom wat die betogende werkers en studente verhoed om die akademiese program te ontwrig.

“Die hofbevel magtig die polisie om in te gryp en die universiteit by te staan. Die hofbevel is reeds op die betogers beteken en verduidelik.”

Volgens UWK is ʼn vergadering met die betogende werkers en studente belê vir Donderdag, maar die betogings het desondanks voortgeduur. Die betogers het onder meer universiteitseiendom beskadig. “Veiligheidspersoneel en die polisie moes weens hierdie optrede deur die betogers ingryp en dit het tot skermutselings gelei.”

Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK Foto: UWK

[Foto’s] Chaos, sterftes weens Durban-storm

$
0
0

durban-vloede1ʼn Erge storm Vrydagaand in Durban, KwaZulu-Natal, het tot die dood van minstens vyf mense gelei en groot skade aangerig.

Die storm het met ʼn stortvloed reën, hael en sterk wind gepaardgegaan. Bome is ontwortel en mure het ineengestort. Maroela Media het vroeër berig ʼn man is dood nadat ʼn muur by ’n huis op hom ineengestort het.

Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het gesê twee mense is deur weerlig doodgeslaan in Verulam terwyl nog twee mense in Mayville deur die weerlig gedood is. Volgens McKenzie is minstens 13 mense beseer weens mure wat ineengestort het, dakke wat afgewaai het of bome wat ontwortel is.

Inwoners regoor Durban het Saterdagoggend takke wat op heinings, dakke en in opritte geval het, verwyder. Talle paaie was met rommel bestrooi weens die storm.

Inkopiegangers by Durban se bekende Pavilion-winkelsentrum moes deur water loop om by hul gunstelingwinkels uit te kom aangesien die sentrum van Donderdagaand af onder water is.

Die foto is glo by Westville Junction geneem. Foto: @AndBonKiaNat/Twitter Die foto is glo in die Pavilion-winkelsentrum geneem. Foto: Waterfall Crime Watch/Facebook Die foto is glo in die Pavilion-winkelsentrum geneem. Foto: Waterfall Crime Watch/Facebook Die foto is glo in die Pavilion-winkelsentrum geneem. Foto: Waterfall Crime Watch/Facebook

Vyf dood in Newcastle-botsings

$
0
0

Foto: ER24

Foto: ER24

Vyf mense is Saterdagoggend dood in twee afsonderlike botsings op die N11 in Newcastle, KwaZulu-Natal.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het op die N11 gery toe hulle op ʼn gru-botsing tussen ʼn motor en ʼn vragmotor afgekom het. Volgens paramedici het die botsing moontlik enkele oomblikke voor hulle aankoms plaasgevind.

“Drie mense was in die motor vasgekeer en het noodlottige beserings opgedoen. ʼn Vierde passasier, met kritieke beserings, is agter in die motor aangetref. Die liggame sowel as die beseerde passasier moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word. Die vierde passasier is kort hierna dood.” Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie.

Volgens Vermaak was paramedici steeds op die toneel toe hulle ontbied is na ʼn ander botsing sowat 3 km verder weg. Met paramedici se aankoms op daardie toneel het hulle ʼn motor op sy dak in ʼn sloot langs die pad aangetref. “’n Bejaarde man is etlike meters van die wrak af gevind. Hy is vermoedelik tydens die ongeluk uit die motor geslinger.”

Vermaak het gesê die man het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die presiese oorsake van albei ongelukke word ondersoek.

[Video] Puk-studente maak self skoon ná ontwrigting

$
0
0

Foto: South Afri-CAN/Facebook

Foto: South Afri-CAN/Facebook

Studente aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het Vrydag self die kampus skoongemaak nadat betogers onder meer asdromme omgekeer het.

Volgens die rektor, Fika Janse van Rensburg, het ʼn groep mense onwettig in die Amfi vergader. “Die groep mense kon eers tydens die vergadering geëien word. Die organiseerders is ons studente wat hul grondwetlike reg op protes uitgeoefen het. Hulle het egter onwettig vergader en onregmatig die werkers van diensverskaffers, wat ’n kontrak met die NWU het, by hul protesoptrede betrek.”

Janse van Rensburg het gesê die studente wat betrokke was, sal onmiddellik aangekla en dissiplinêr verhoor word. “Die werknemers van die diensverskaffers het hul kontrak met hul werkgewers verbreek. Hulle word belet om die kampus te betree, en ons vereis dat die diensverskaffers sal optree. Die veiligheid van ons studente en personeel bly vir ons die hoogste prioriteit.”

Janse van Rensburg het sy lof uitgespreek teenoor die universiteit se veiligheidsdienste en die SAPD. “Geen eiendom is beskadig en niemand is fisieke leed aangedoen nie. Rommel is wel gestrooi. En wat doen ons NWU-Pukke? Spontaan kom hulle – wit en swart – en in ʼn japtrap is die kampus skoon.”

Volgens Janse van Rensburg is daar wel besluit om veiligheid op te skerp. “In die proses het ons ook lesse geleer. Ons het besluit om van vanaand (Vrydagaand) af die toegangsbeheer te verskerp. Ons het minder hekke oop, en élke insittende van ʼn voertuig moet met sekere dokumente geëien kan word. Ons studenteleiers word verder toegerus om uitlokking te hanteer, en om die nodige inligting aan medestudente oor te dra. Die beveiliging van geboue word ook opgeskerp.”

Janse van Rensburg het sy lof uitgespreek teenoor die studente. “Ons raak nie ‘verskrik’ nie, maar met ons geoefende knieë en vér-kyk-oë pak ons deur genade elke uitdaging met vertroue aan. Waarborg hierdie vertroue dat dit ook vorentoe nét goed sal gaan? Nee, maar ons weet dat alles uiteindelik ten goede meewerk.”

Gordhan dreig met regstappe

$
0
0

Pravin Gordhan. Argieffoto

Pravin Gordhan. Argieffoto

Pravin Gordhan, minister van finansies, het gesê hy sal hof toe gaan, indien nodig, om homself en sy departement te beskerm teen ʼn groep mense wat daarop uit is om “instellings te ontwrig”.

“Indien nodig, sal ek die toepaslike regstappe doen om myself en die Tesourie te beskerm teen enige elemente wat my, die instelling of die integriteit daarvan verdag wil maak en oneer aandoen.” Dit volg nadat die Valke vier dae voor die begrotingsrede ʼn vraelys gestuur het na aanleiding van die magstryd tussen hom en Tom Moyane, hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

“Ek kan bevestig dat die Valke geen rede het om my te ‘ondersoek’ nie.” Die ANC het by monde van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, sy ondersteuning aan Gordhan toegesê. “Ek is dankbaar vir die ondersteuning wat ek nou van die ANC af kry en die party se vasberadenheid om te verseker dat noodsaaklike instellings soos die Tesourie en die SAID nie negatief geraak word deur optredes soos wat ons die afgelope week gesien het nie.”

Volgens Gordhan is daar ʼn groep mense wat nie belangstel in die ekonomiese stabiliteit van die land nie. “Dit blyk dat hulle net daarin belangstel om instellings en mense se goeie naam te vernietig.”

Gordhan het vroeër Vrydag ʼn duidelike grens gestel rakende sy magstryd met Moyane. Lees meer hier.


Zuma op pad terug

$
0
0

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

President Jacob Zuma behoort teen Saterdag laatmiddag terug in Suid-Afrika te wees.

Dit volg nadat Zuma en ander afgevaardigdes sedert Saterdagoggend in Burundi gestrand was weens “tegniese probleme” wat ondervind is met die presidensiële straler, Inkwazi.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het intussen gesê ʼn ander vliegtuig is gestuur om Zuma terug te bring na Suid-Afrika. “Die president se veiligheid is geensins bedreig deur die tegniese probleem nie. ʼn Falcon 900 is onmiddellik van die Waterkloof-lugmagbasis na Burundi ontbied om die president te gaan haal.”

Maroela Media het vroeër berig Zuma is in Burundi as deel van die Afrika-unie (AU) se besoek aan die land. Die afvaardiging, onder wie vyf staatshoofde, het Vrydag samesprekings met Burundi se president, Pierre Nkurunziziza, leiers van politieke partye en ander organisasies afgehandel.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal intussen namens Zuma waarneem by die 16de jaarlikse Nasionale Onderwystoekenningsgeleentheid Saterdagmiddag in Johannesburg.

Handelaar in hof vir ‘motordiefstal’

$
0
0

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Die polisie in die Oos-Kaap het lede van die publiek wat motors by ʼn sekere motorhandelaar gekoop het, gewaarsku dat hulle dalk die motors sal moet teruggee nadat hy in hegtenis geneem is.

Kapt. Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie, het gesê Kenny Kayle Mokoena (29) het na bewering nagenoeg 30 motors gekaap en aan mense oor die hele provinsie verkoop. Mokoena is in hegtenis geneem en voorlopig aangekla vir die diefstal van ses motors.

Volgens Manatha het Mokoena Dinsdag in die Butterworth-landdroshof verskyn. Die saak is tot 1 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

Mense wat by Mokoena ʼn voertuig gekoop het, word versoek om kapt. Mntunzima Nyengula by 082 779 7246 te bel.

Man geskiet ná amok in drankwinkel

$
0
0

Foto: SAPD

Foto: SAPD

ʼn 39-jarige man word onder polisiebewaking in ʼn hospitaal in Port Elizabeth behandel ná ʼn voorval in ʼn drankwinkel waartydens hy deur ʼn vrouepolisiekonstabel geskiet is.

Konst. Mncedi Mbombo, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte was Vrydag in ʼn drankwinkel in Motherwell. Hy het glo ʼn bottel brandewyn van die rak af gevat, die bottel gebreek en gedreig om ʼn 32-jarige polisiebeampte wat ook in die winkel was daarmee te steek.

“Die konstabel het haar vuurwapen uitgepluk en die man beveel om die bottel neer te sit. Die man het glo op die beampte afgestorm waarna sy hom in die bolyf geskiet het.” Volgens Mbombo was die man glo in die winkel om dit te beroof.

Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging en poging tot moord.

Gedagte vir die dag: Só moet jou tevredenheid lyk

$
0
0
Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Lees: Romeine 8:26-30

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. (Romeine 8:28-29, NLV)

In sy boek The Secret of Contentment identifiseer William Barcley sewe kerneienskappe van tevredenheid wat God van sy kinders vra. Eerstens is tevredenheid ’n innerlike eienskap, dit behoort in die hart van ’n mens gewortel te wees. Tweedens is tevredenheid gewortel in God se genade, en dit behoort na vore te kom in elke situasie waarmee ons te doen kry. Derdens kry hierdie tipe tevredenheid dit reg om vreugde te put uit absoluut alles wat God ons gee. Vierdens erken dit dat elke ding wat met ons gebeur uit God se hand kom, en dat Hy elke situasie nie net tot ons beswil kan omkeer nie, maar ook tot sy verheerliking kan gebruik, selfs ons krisisse en swaarkrymomente. Ons behoort dus gedurig van die feit bewus te wees dat God onderneem om vir ons te sorg. Vyfdens behoort ons met alle omstandighede in ons lewe vrede te maak omdat ons weet dat dit van God kom. Sesde moet ons soos Paulus leer om in élke omstandigheid tevrede te wees. In die sewende plek kontrasteer die tipe tevredenheid waaroor Paulus in Filip pense 4 praat, God se selfgenoegsaamheid teenoor ons eie afhanklikheid. God kan, wanneer ons nie self kan nie.

Kan jy al hierdie sewe eienskappe in jou eie lewe insleutel? Dan sal John Piper se woorde in jou lewe waar word: “God is most glorified when we are most satisfied in Him.”

Here, ek sien nou dat my eie tevredenheid nog soveel te kort skiet. Help my asseblief om al sewe bostaande eienskappe in my lewe uit te leef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

Boom val man dood

$
0
0

Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Man is Saterdag dood toe ʼn boom op sy motor geval het in Westville, Durban.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die man het in sy Peugeot in Essex Terrace gery toe ʼn groot boom op sy motor geval het.

Volgens Vermaak was daar glo mense langs die pad wat besig was om die bome af te sny toe die voorval plaasgevind het.

Vermaak het gesê met paramedici se aankoms op die toneel was die man in sy motor vasgekeer. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die polisie is na die toneel ontbied en ondersoek die saak.”

Viewing all 80349 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>