Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

AfriForum is môre in die hof oor plaasmoordsyfers

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum is Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof om ’n bevel te kry ná sy formele versoek aan die afgedankte nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, vir die SAPD se volledige plaasmoordstatistieke van 1990 tot 2015.

Dit spruit uit die aansoek wat AfriForum in Mei 2015 ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring het.

Die aansoek is gebring nadat die regering in 2007 bekend gemaak het dat geen verdere statistieke oor plaasmoorde ingesamel sal word nie. Phiyega het egter in Maart 2015 gesê dat die SAPD nog al die jare daarmee besig is. Sy het beweer die syfers word om “operasionele redes” steeds bygehou, maar nie gepubliseer nie.

AfriForum dryf sedert 2012 ’n veldtog om korrekte statistieke rondom plaasmoorde en -aanvalle te bekom, asook om dié tot prioriteitsmisdaad verklaar te kry.


Man gered tydens selfmoordpoging

$
0
0
Die man word van die spantoring gered (25 Februarie 2016) Foto: ER24

Die man word van die spantoring gered (25 Februarie 2016) Foto: ER24

ʼn Man is Donderdagoggend in Bloemfontein gered nadat hy by ʼn elektriese spantoring opgeklim het.

“Plaaslike owerhede het paramedici na die toneel ontbied,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. “Die man het ongeveer 40 meter hoog teen die spantoring opgeklim.” Die voorval het in Ryk Tulbachweg plaasgevind.

Volgens Meiring moes paramedici van ER24 en die Vrystaatse noodhulpkollege gespesialiseerde toerusting gebruik om die man te bereik. “Hy is in ʼn harnas geplaas en veilig na die grond gebring,” het Meiring bygevoeg. “Hy is op die toneel behandel en na ʼn Mediclinic geneem vir ʼn ondersoek.”

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dit was ʼn selfmoordpoging.
Die man word van die spantoring gered (25 Februarie 2016) Foto: ER24 Die man word van die spantoring gered (25 Februarie 2016) Foto: ER24

23 beseer toe skoolbus omslaan

$
0
0
Die ongeluk op die N5, ongeveer 30 km buite Bethlehem in die rigting van Kestel in die Vrystaat (25 Februarie 2016) Foto: Netcare 911

Die ongeluk op die N5, ongeveer 30 km buite Bethlehem in die rigting van Kestel in die Vrystaat (25 Februarie 2016) Foto: Netcare 911

Twee volwassenes en 21 kinders is Donderdagmiddag beseer toe ʼn skoolbus op die N5, ongeveer 30 km buite Bethlehem in die rigting van Kestel in die Vrystaat, omgeslaan het.

“ʼn Sewejarige dogtertjie en ʼn man, in sy 30’s, het kritieke beserings opgedoen,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, gesê.

Volgens Botha is paramedici omstreeks 15:40 na die toneel ontbied. “Die bus het op sy sy gelê toe paramedici van Netcare 911 en provinsiale nooddienste by die toneel opgedaag het. Ander pasiënte het geringe tot ernstige beserings opgedoen.”

Die pasiënte is na ʼn hospitaal in Bethlehem geneem vir verdere behandeling.

Plaaslike owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

Tuks-klasse hervat Maandag met ‘streng veiligheidsmaatreëls’

$
0
0
Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Lesings by die Universiteit van Pretoria (UP) sal volgende week hervat met verskerpte veiligheidsmaatreëls, het die instansie Donderdag gesê.

“Die universiteit het bykomende en strenger veiligheidsmaatreëls in plek gestel,” het Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, in ʼn telefoniese onderhoud met African News Agency gesê. “Ons werk ook saam met die polisie.”

Die universiteit se twee kampusse in Groenkloof en Hatfield bly hierdie week gesluit. “Ons maak Maandag oop. Ons sal ʼn plan beraam wat betref akademiese aktiwiteit wat vir hierdie week geskeduleer is. ʼn Hersiene skedule sal uitgereik word. Ons sal vandag of môre met die studente kommunikeer,” het Bouwer bygevoeg.

Sy het gesê daar is kommer oor die studietyd wat in die periode verlore gegaan het toe akademiese aktiwiteit opgeskort is.

“Die bestuur van die Universiteit vergader steeds met studenteleiers en ander belanghebbendes om ʼn pad vorentoe te beraam, gebaseer op die beginsels van nie-gewelddadige deelname, om die kwessies aan te roer wat tot die ontwrigting en opskorting van lesings op die twee kampusse gelei het.”

Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Honderde studente het Donderdag stil oor die geslote kampus heen beweeg, terwyl hulle gebid het vir ʼn oplossing vir die rassespanning wat die instansie hierdie week geruk het. Die studente van verskillende rasse het slegs een groot plakkaat gehad, waarop #PrayerWalk geskryf is.

Tobie Snyman, leier van die groep, het gesê hul samekoms is nie ʼn “vreedsame betoging” nie, maar ʼn “gebedsbyeenkoms”. “Die idee is net om op die kampus rond te loop en te bid. Ons wil hê God se beloftes vir hierdie land moet vervul word. Ons wil eenheid hê,” het hy gesê. “As ons verskillende plakkate het, het ons ouens wat een ding sê, en ouens wat ʼn ander ding sê. Dan sê hulle dalk dinge waarmee ons nie saamstem nie.”

Snyman het gesê net soos die mure van Jerigo in die Bybel, sal die studente se vurige gebed “die atmosfeer verskuif”.

Die groep vergader al sedert vroeg Maandagoggend en hoop om tot Sondag voort te gaan.

Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Verskeie motoriste in Lynnwoodweg het op hul toeter geblaas toe hulle verby die studente gery het, sommige wat loop en hande vashou.

Die studente het uiteindelik in ʼn oop ruimte langs die universiteit se hoofingang bymekaargekom, in kleiner groepies verdeel en saam gebid.

Verskeie veiligheidsbeamptes was op die kampus. ʼn Groep berede polisiebeamptes het ook die gebied gepatrolleer.

UP-studente en vriende Martin Nel en Martin Mushomba het gesê hulle glo hul deelname aan die #PrayerWalk is ʼn standpunt vir eenheid en verdraagsaamheid.

“Daar is tans baie onstuimigheid op ons kampus. Ek voel daar is ʼn skerp polarisering weens die rasseverdeling. Om een kant te ondersteun, kan slegs daartoe bydra dat die situasie opvlam. Om niks te doen nie, is ook ʼn standpunt op sy eie,” het Mushomba gesê.

“Hierdie is deel van ʼn groter probleem in ons land. Haat gaan net tot nog meer haat lei. Dit is soos om gif te drink en te verwag die ander persoon gaan sterf. As jy haat, maak jy jouself seer.”

Nel het gesê die rassespanning het die studente “stukkend” gelaat. “Die liefde van Jesus Christus gaan ons verenig. Ons kan nie op ons eie die pad vorentoe bepaal nie.”

Geweld het Maandag op die universiteit se Hatfield- en Groenkloof-kampusse uitgebreek toe ʼn saak teen 27 UP-studente, wat van openbare geweld beskuldig word, uitgestel is tot 7 April vir verdere ondersoek. Die studente is vrygelaat op borgtog. Hulle is die vorige week Donderdag en Vrydag in hegtenis geneem tydens betogings oor die universiteit se taalbeleid.

Akademiese aktiwiteit is verlede Vrydag opgeskort.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

Vanderbijlpark-man weer in hof ná moord op gesin

$
0
0

Fanie du Preez Vrydag in die hof. Foto: Jacques Steenkamp/SAUK Nuus

Fanie du Preez Vrydag in die hof. Foto: Jacques Steenkamp/SAUK Nuus

Fanie du Preez (39), die Vanderbijlpark-man wat aangekla word van die moorde op sy vrou en twee kinders, het Vrydag weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

Du Preez word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Thea (41), en hul kinders, Carlia (17) en Phillip (14), in die vroeë oggendure van 3 Desember 2015 in die gesin se huis doodgeskiet het.

Volgens Jacques Steenkamp van SAUK-radionuus het die staat Vrydag sy getuielys by die hof ingehandig en is die saak tot 11 April uitgestel wanneer ʼn verhoordatum na verwagting vasgestel sal word. Steenkamp het berig Du Preez se vriende sal glo betaal sodat hy ʼn regsverteenwoordiger kan aanstel en nie meer van regshulp gebruik hoef te maak nie.

Du Preez sal tot sy volgende verskyning in die Leeuhof-gevangenis buite Vereeniging in aanhouding bly.

Die moorde op die drie lede van die Du Preez-gesin het verlede jaar wyd opslae gemaak. Du Preez het ten tyde van die moorde beweer hy was in die motorhuis besig toe hy skote in die huis gehoor het. Hy het beweer hy is daarna deur twee gewapende verdagtes gekonfronteer wat op vlug geslaan het, waarna hy ondersoek gaan instel het en die drie oorledenes se liggame in die huis aangetref het. Enkele ure daarna is hy egter in hegtenis geneem.

Du Preez het later sy weergawe van die gebeure verander en in die hof aangevoer twee Nigeriese dwelmbase het hom met ʼn vuurwapen gedreig en gedwing om sy gesin dood te skiet, nadat hy geweier het om dwelms namens hulle te verkoop.

Lees alle vorige berigte oor die Vanderbijlpark-moorde op Maroela Media.

[Luister] Kollig op SuperRugby

$
0
0
SuperRugby9.jpg

Foto: superxv.com

Hennie Koortzen se gas in vandag se Rugby-Radio is Willem Strauss, bekende sportpromotor en -administrateur en visepresident van die Blou Bulle.

Die twee kapteins, Adriaan Strauss van die Bulls en Francois Venter van die Cheetahs, kuier ook saam.  Daar word ook gesels met Jurgen Visser, heelagter van die Kings, en Springbokstut Vincent Koch.

Luister elke Donderdag om 19:15 na Rugby-Radio op Pretoria FM. Besoek ook Maroela Media se rugbyportaal, Pale Toe!

Redakteursbrief: Afrikaans groet drie reuse

$
0
0
susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Dit was ʼn hartseer week vir Afrikaans. Die skynbare geveg teen Afrikaans op sommige universiteitskampusse tersyde, het Afrikaans vandeesweek drie reuse gegroet.

Ons het afskeid geneem van die skrywer Leon Rousseau, wat in die ouderdom van 85 jaar oorlede is. Die meeste van ons, veral dié wat al ʼn raps langer in die tand is, het grootgeword met Storieman se klokkie-klank wanneer jy ʼn bladsy moet omdraai. Rosseau was die samesteller van dié reeks kinderboeke in druk en klank. Sy Fritz Deelman-boeke was die Harry Potter van ons jeugjare. Sy biografie oor Eugène Marais, Die groot verlange, is iets waarvoor Afrikaans hom altyd dankbaar sal wees. Ons treur oor hom, maar ons is dankbaar.

Dr Anton Prinsloo is ook oorlede, ná ʼn lang siekbed. Te danke aan dr. Prinsloo is duisende eg-Afrikaanse uitdrukkings, spreekwoorde en bygelowe opgeteken, om vir ons en ons kinders behoue te bly. Dr. Prinsloo se sin vir humor en sy passie vir dit wat eie aan Afrikaans is, het hom ʼn geliefde man in Afrikaanse taalkringe gemaak. Bundels soos Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Die aap in jou koffie en Bygelowe en waar hulle vandaan kom het in die afgelope klompie jaar uit sy pen verskyn – die produk van intense navorsing en ʼn amperse begogeldheid met die Afrikaanse taal en die oorsprong daarvan. Ons groet jou met dankbaarheid, dr. Prinsloo. Afrikaans is ryker te danke aan jou.

Ons groet ook vir Aardklop, een van die groot Afrikaanse kunstefeeste. Daar waar die plattelandse tannies vir vyf dae hul mans en kinders tuis kon los, hul vreemde klere uit die motbolletjies kon opdiep en saam met hul vriendinne kon kom fees hou, boeke koop, wyn drink en die kunste kon waardeer. Vir talle wat nie maklike toegang het tot die kunste en teaters nie, was dit soos ʼn oase waar hulle hul dors vir die fynere Afrikaanse dinge kon kom les, sodat hulle versadig is en kan deurdruk tot volgende jaar se fees. Maroela het self ʼn nederige begin by Aardklop gehad – vier jaar gelede toe Maroela in sy kinderskoene was, moes ons die feesbestuur mooi vra om Maroela-lipsalf en -sonskerm op die feesterrein te mag uitdeel. Verlede jaar, tydens die laaste Aardklop, was ons ʼn volwaardige mediaborg. Vir wat Aardklop vir Maroela Media beteken het, sal ons elke bestuurder, borg en organiseerder ewig dankbaar wees.

Ons groet drie reuse in die Afrikaanse taal-, kunste- en kultuurwêreld, maar ons weet hul nalatenskap gaan vir dekades nog in Afrikaans se groei gesien kan word.

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

Voorstelle oor UP-taalbeleid ‘ook nie dié van senaat’

$
0
0

Een van Tuks se ikoniese geboue, "Die Skip" Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Die voorgestelde wysigings aan die Universiteit van Pretoria (UP) se taalbeleid, waarvolgens Engels die primêre onderrigtaal sal wees, is nie die voorstelle van die taalbeleid-taakspan óf die senaat, soos die UP beweer nie.

ʼn Senior professor aan UP en lid van die senaat, wat anoniem wil bly, het gesê die wysigings wat deur die rektor deurgegee is, is nie die voorstelle van die taakspan of wysigings van die senaat nie.

Maroela Media het vroeër berig prof. Cheryl de la Rey, rektor, het per e-pos aan personeel, alumni en ander belanghebbendes gesê die taakspan het voorgestel Engels moet die primêre onderrigtaal by die universiteit wees en Afrikaans en Pedi sal gebruik word om bykomende steun aan studente te gee.

Verskeie lede van die taakspan het intussen aan Maroela Media bevestig dit is nie die geval nie. Die taakspan het veeltaligheid voorgestel en dat Afrikaans en Engels as voertale moet bly.

Prof. Norman Duncan, UP se viserektor: akademies, het in korrespondensie, wat Maroela Media onder oë gehad het, erken die voorstelle is nie dié van die taakspan nie, “maar eerder dié van die senaat”.

Volgens die senior professor, wat ʼn lid is van die senaat, is dit egter nie die geval nie. “Die senaat het ook gesê meertaligheid en Afrikaans en Engels moet bly. ʼn Konsultasieproses van ses maande is voorgestel. ʼn Taakspan vergader vir meer as ʼn jaar hieroor en dan word die besluit eensydig en outokraties verander. Dit veroorsaak ʼn vetrouensbreuk onder personeel. Dosente is te bang om hul opinies te lug as hulle pro-Afrikaans is. UP is ʼn nasionale bate en word tans van binne en buite aangeval, maar dit is die moeite werd om daarvoor te veg.”

Maroela Media het reeds vroeër ʼn versoek om kommentaar aan prof Duncan, wat tans in die buiteland is, gerig. Geen terugvoer is ontvang nie en nog ʼn versoek om kommentaar oor die nuutste verwikkelinge is aan die universiteit gerig.

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, het intussen bevestig ʼn spesiale spitsberaad is Woensdag gehou waar verskeie organisasies, waaronder lede van die ANC, die Solidariteit Beweging en studentegroepe, vergader het om ʼn ooreenkoms op te stel. ʼn Aankondiging sal na verwagting oor die naweek hieroor gedoen word.


Brandstofverbruik: Ligloop vir ‘valse feite’

$
0
0
petrolpomp 2

Argieffoto.

Deur Brendon Staniforth

Mislei en bedrieg motorvervaardigers ons dalk gruwelik? Ja en nee. Kom ek verduidelik ’n bietjie. Die ontwikkelde wêreld ondersoek tans elke moontlikheid om besoedeling te bekamp. Slim wetenskaplikes gaan na konvensies oor die hele wêreld en beraam planne vir strenger riglyne om motoruitlaatgas te verminder.

Die lidlande van die Europese Unie (EU) word gedwing om aan allerlei standaarde te voldoen, onder meer die EU5-regulasie. Die EU-regulasie, nommer 443/2009, stel ’n gemiddelde mikpunt van 130 gram uitlaatgas per kilometer vas. Dié maatreël is ingestel tussen 2012 en 2015. ’n Mikpunt van 95 gram per kilometer sal in werking tree vanaf 2021.

Dit plaas motorvervaardigers onder geweldige druk om voertuie so ekonomies moontlik te maak. Die eindverbruiker plaas die vervaardiger onder verdere druk om die koopprys van voertuie so laag moontlik te hou. Baie soorte tegnologie raak dan onbekostigbaar.

Bogenoemde regulasie bepaal ook dat ’n voertuig se brandstofverbruik en uitlaatgas bekend gemaak moet word aan die eindverbruiker. ’n Regulasie is ingestel sodat vervaardigers almal teen dieselfde riglyn gemeet kan word. Dit bring ons by die NEDC (New European Driving Cycle).

Die toetse word in ’n laboratorium gedoen om herhaalbaarheid te verseker in volmaakte toestande. Dit is dan waar die “valse waarheid” inkruip. In werklikheid kan geen mens so ry op openbare paaie nie. Die standaard is nou al oud en in 1997 laas bygewerk. Op die sogenaamde “bewegende pad” word baie faktore, soos windweerstand, uitgesluit.

Dus kan ’n mens nie die plakkertjie op die voertuig of die vervaardiger se geadverteerde syfer in goeder trou aanvaar nie. Die vervaardiger mag egter die syfer adverteer omdat die toets volgens die regulasies gedoen is, en die syfer wel bewys kan word. Die meeste vervaardigers plaas nou voetnotas op hul webwerwe waar die brandstofverbruiksyfer verskaf word, maar waarin die eindverbruiker in kennis gestel word dat daardie syfer moontlik onbereikbaar is in gewone toestande.

Die NEDC-regulasie is al geruime tyd in die sop oor die herhaalbaarheid en akkuraatheid (al dan nie) van die syfers wat dit verskaf. Daar is ook wel ’n paar verskillende regulasies in verskeie lande. Europa gebruik die NEDC, Amerika gebruik die EPA Federal Test en Japan die JC08. Suid-Afrika gebruik die meer gewilde NEDC. Dus word daar nou aan die WLTP (Worldwide Harmonized Light Vehicles Test Procedure) gewerk. Dit sal ’n internasionale regulasie wees waaraan alle lande sal moet begin voldoen.

Die WLTP behels ’n baie meer aggressiewe toets om meer betroubare, geloofwaardige “werklike” syfers te lewer. Dieselvoertuie kan baie nader aan die NEDC-syfer kom. Daarvan kan ek uit ondervinding getuig. Turbopetrol-enjins sukkel baie om by die syfers wat uitgereik en geplaas word te kom. Die tydskrif CAR se tegniese redakteur, Nicol Louw, sê dit is standaardpraktyk by CAR om 20% by die NEDC-syfer te voeg as hulle die padtoetssyfers plaas. CAR beskou dit as die mees realistiese persentasie om by te las. CAR is ook Suid-Afrika se oudste motortydskrif en sal vir seker die meeste ondervinding hiermee hê.

In ’n neutedop beteken dit dat die eindverbruiker versigtig moet wees as dit kom by die aankoop van ’n nuwe voertuig. Gebruik die NEDC-syfer as riglyn – maar, dring daarop aan om vir ’n behoorlike toetsrit te gaan. Herstel die motor se rekenaar en kyk presies wat die brandstofverbruik is ná die toetsrit. Dit sal vir jou ’n baie beter prentjie gee van hoe lig of swaar die voertuig gaan wees wat brandstofverbruik betref.

Onthou, banddruk, lugversorging, ligte, wind en vrag is ’n paar faktore wat brandstofverbruik kan strem en heeltemal in die wiele ry. Bewapen jou eerder deeglik met die nodige inligting vir die koopproses en geniet die voertuig waarop jy finaal besluit.

Pukke: Tydelike sluiting oor moontlike protesaksie

$
0
0

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die bestuur van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het aangekondig ʼn gedeelte van die kampus is tydelik gesluit weens moontlike onwettige protesoptrede.

“Die gebied in en om die Studentesentrum (SS), die Kafeteria en die Draak is vanaf 12:00 tydelik gesluit weens ‘n moontlike onwettige protesoptrede wat georganiseer is deur ‘n nie-erkende liggaam met werknemers van diensverskaffers wat ‘n kontrak met die universiteit het,” het Fika Janse van Rensburg, rektor, in ʼn verklaring gesê.

“Almal wat by onwettige optrede betrokke is, sal ooreenkomstig die beleid en dissiplinêre prosedures aangekla en vervolg word. Indien die protesoptrede nie vreedsaam verloop nie, gee ek julle die versekering dat ons kampus gerat is om dit te ontlont en bestuur. Ons is voorbereid vir enigiets wat kan gebeur. Daarom moet studente en personeel níé betrokke raak nie. Goed-bedoelde ‘hulpverlening’ sal die teendeel bereik.”

Janse van Rensburg het ʼn beroep op studente gedoen om die spesifieke plek in hierdie tyd te vermy. Volgens Janse van Rensburg is die grootste probleem tans die verspreiding van vals boodskappe, wat paniek veroorsaak. “Ek doen ‘n beroep op elkeen: as jy ‘n berig kry wat jy nie kan bevestig nie, stuur dit na PukkePraat@nwu.ac.za, of na die klagte-gedagtelyn per SMS: 31750. Of jy kan telefonies met ons kontak maak by 018 299 2776 of 018 299 2712.”

Janse van Rensburg het gesê die bestuur sal studente op hoogte gehou van verwikkelinge. “Alle ander aktiwiteite op die kampus gaan normaal voort.”

Polisie móét plaasaanvalstatistiek bekendmaak, beslis hof

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag in AfriForum se guns beslis nadat die organisasie die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hof toe gesleep het oor hul weiering om die plaasaanvalstatistiek van 1990 tot 2015 bekend te maak.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie het in Mei 2015 ʼn formele versoek aan die voormalige nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, gerig om die SAPD se volledige plaasmoordstatistiek vir die tydperk tussen 1990 en 2015 aan hulle bekend te maak.

Die aansoek is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting gebring nadat die regering in 2007 bekend gemaak het geen verdere statistiek oor plaasmoorde sal ingesamel word nie. Phiyega het egter in Maart 2015 gesê die SAPD is nog al die tyd daarmee besig. Sy het beweer die syfers word om “operasionele redes” steeds bygehou, maar nie gepubliseer nie.

Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het Vrydag beslis die statistieke moet binne die volgende 30 dae aan AfriForum oorhandig word. Dit sluit die jaarlikse nasionale en provinsiale statistiek vir plaasmoorde en -aanvalle tussen 1990 en April 2015 in, asook die dokument waarin die metodologie vir die insameling  en verwerking van die data uiteengesit word.

“Ons beskou die uitspraak as ’n reusedeurbraak in die stryd teen plaasmoorde,” het Roets gesê. “Die polisie hou hierdie inligting by, maar weier sedert 2007 om dit aan die publiek bekend te maak. Uiteindelik gaan die publiek weet wat die polisie weet. Dit is egter tragies dat ’n mens tot in die hooggeregshof moes baklei om hierdie basiese inligting te bekom.”

Roets het bygevoeg die publikasie van dié statistiek is die eerste stap om plaasmoorde amptelik te prioritiseer.

Akademie veroordeel geweld: Afrikaans lyk na die slaansak

$
0
0
Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Studente wat aan die #PrayerWalk by die Universiteit van Pretoria deelneem (Februarie 2016) Foto: ANA

Deur Dr. Dioné Prinsloo

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is ernstig besorg oor die huidige vlaag van redelose geweld op kampusse en die skadelike uitwerking daarvan op gehalte-onderrig en navorsing in die nasionale tersiêre opvoedingsektor.

Geen Suid-Afrikaner, van watter kultuur, godsdienstige of politieke oortuiging ook al, ook die oproeriges, het belang by die aftakeling van ons universiteite nie. Sinnelose eise wat volgens berigte deur groepe ten koste van Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal gestel word, is klaarblyklik polities geïnspireer en alle aanduidings is daar dat rassisme (teen wit mense) ’n onderliggende faktor in die konflik is.

Dit getuig ook van totale onkunde oor Afrikaans as taal wat deur ’n meerderheid Suid-Afrikaners wat nie wit is nie, gebesig word.  Byna 7 miljoen Suid-Afrikaners is moedertaalsprekers van Afrikaans en miljoene Suid-Afrikaners gebruik Afrikaans in die werkplek as tweede of derde taal. Dit lyk of Afrikaans gebruik word as slaansak om ander doelwitte te bereik.

’n Dringende beroep word op leiers van alle politieke partye gedoen om hul faksies tot orde te roep en te sorg dat ’n kosbare bate – die tersiêre opvoedingsektor in Suid-Afrika – sy status van uitnemendheid in landsbelang behou.

Die regering van die dag, by name die minister van hoër onderwys, moet in hierdie geval sy magte gebruik en ’n sterk standpunt inneem en nie toelaat dat universiteitskampusse letterlik slagvelde vir ideologieë word nie.

Die SA Akademie besef dat besture van universiteite, by name die rektore, onder geweldige druk verkeer en nie in werklikheid toegerus is om bogenoemde konfliksituasies te hanteer nie. Daarom is dit des te meer die regering se taak en plig om dissiplinêr in nasionale belang op te tree.

  • Dr. Dioné Prinsloo is die uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die boelie kry die “limelight”

$
0
0
'n Gebou in vlamme gehul Woensdagaand op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Twitter

‘n Gebou in vlamme gehul Woensdagaand op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Twitter

Deur Juran van den Heever

My vrou kyk my gisteraand bekommerd aan toe die nuus deurkom:  “die Mafikeng kampus brand af”.  Ek was toe al lankal bewus daarvan en reeds besig om op epos met kollegas daaroor te praat.  My vrou wil weet hoe kom hierdie betogers daarmee weg, hoe kry hulle dit reg? Hoekom keer niemand hulle nie?  Hoekom berig die media net oor die een kant?  Hoekom swot hulle nie net nie?

Dit is vrae wat oor die meeste normaaldekende Suid-Afrikaner se lippe kom, maar die begrip lê verder as wat ons dink.

Ek gebruik ʼn metafoor wat my sommer daar in die badkamer byval om dit aan my vrou te verduidelik.  Daar is ʼn skool in die stad met 1200 kinders en 50 van hulle is groot boelies waarvan al 1200 kinders weet.  Sodra die 50 boelies om ʼn hoekie die geleentheid kry om ʼn kind by te kom en te boelie, drom almal saam om dit te sien, almal praat daarvan en almal bespreek dit.  Maar nie een van die 1200 kinders doen iets nie.  Die hoof vind later daarvan uit, maar het nie konkrete bewyse nie.  Hy sal die boelies moet betrap, maar hy is ook besig met ander sake.  Die boelies kom elke keer daarmee weg.

Die boelies skep sensasie, die boelies het sekere denkwyses en die boelies is so groot gemaak.  Jy sal hulle nie sommer verander nie, maar jy moet hulle in ʼn stelsel probeer inwerk.  ʼn Boelie kan ophou boelie as jy hom sekere verantwoordelikhede gee.

Iemand het nou die dag ‘n ware ding op Twitter getwiet. Hy het getwiet die antwoorde van die kampusgeweld lê eintlik op die kampus self.  Daarmee bedoel hy die hoogste gekwalifiseerde mense in ons land woon en werk op die kampusse en hulle is veronderstel om die antwoorde te hê.  Navorsing word gedurig gedoen oor al hierdie kwessies wat rondom ons afspeel. Waarom pas hulle dit nie in praktyk toe nie?  Dit is tog sekerlik nie ʼn nuwe kwessie nie.

Ek sukkel om in my kop telling te hou van hoe ver die boelies nou al voorloop en met hoeveel punte die kampusbesture agter is.  Die ding wat my egter die meeste pla, is as die boelies te veel raak, begin die slagoffers ingee en ʼn vreeslike ding gebeur.

Kampusbesture, die antwoorde lê in jul geledere.  Gaan dink bietjie, stof daardie navorsing af.  Ons kon nog altyd met planne vanuit ons akademici iets regkry. Doen dit weer.

  • Juran van den Heever is verbonde aan Solidariteit en bestuur nuus, inhoud en sosiale media vir die vakbond.

Akademia: ‘ʼn Verbintenis met die gemeenskap’

$
0
0
Marthinus Visser van Akademia. Foto: Cyril Blackburn

Marthinus Visser van Akademia. Foto: Cyril Blackburn

Akademia se amptelik bekendstelling van sy nuwe perseel in Centurion is beskryf as die begin van groot dinge vir dié hoëronderwysinstelling, gemeenskapsuniversiteite en Afrikaans.

“Alle universiteite het klein begin, met hul eerste gebou en was een keer vyf jaar oud. Ons klink die glasie op meer as ʼn perseel, maar op ʼn fondament waarop ons ʼn toekoms wil bou. Ons beskou onsself as deel van ʼn groter geheel,” het Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, het Vrydag tydens die bekendstelling gesê dié instelling leen hom tot ʼn verbintenis met die gemeenskap en ʼn oopheid om aktief aanknopingspunte in die internasionale kennisgemeenskap te vind.

Le Roux het gesê dít is die belangrike elemente waarop die universiteit gaan fokus, maar met die erkentlikheid aan sy eie lewensbeskoulike vertrekpunte.

“Henk Schalekamp, voorsitter van die direksie, sê ons is Afrikaans in ʼn oop, Christelike tradisie. Ons wil graag aktief aanknopingspunte in die internasionale kennisgemeenskap vind en beskou onsself as deel van ʼn groter geheel, maar sonder om onsself in die proses te ontken. Ons wil by Akademia deel van ʼn groter internasionale kennisgemeenskap wees, maar met erkenning aan wie ons is,” het Le Roux gesê.

Hy het vertel die universiteit is eintlik ʼn omgekeerde weergawe van baie hoër instellings in Suid-Afrika. “Daar is internasionale vrae oor die aard en wese van die universiteit. Akademia is in ʼn sekere sin nie tradisioneel nie, want ons gebruik die nuutste tegnologie, soos optiese vesel en videokonferensies. Maar die universiteit wil tradisioneel wees in sy idees, sy verhouding met die gemeenskap en die res van die wêreld. In ʼn sekere opsig is ons die teenoorgestelde van baie ander instellings waar daar tradisionele geboue is, maar weggedoen is met die tradisionele idee dat die gemeenskap belangrik is.”

Tydens die bekendstelling van die nuwe perseel is ʼn hoeksteenlegging gehou ter ondersteuning van die oprigting van die nuwe universiteit deur die Solidariteit Beweging, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, FAK, ATKV, SAOU en die Afrikaanse Taalraad.

Buys het tydens sy toespraak die oprig van ʼn privaatinstelling vergelyk met ʼn resep. “Neem een groot krisis. Pak dit met leierskap en visie. Voeg ʼn paar stewige skote wilskrag by. Versterk die mengsel met kinderlike geloof. Verdun dit met helpmekaar-energie. Klits hope harde werk by. Versoet met ʼn strewe na uitnemendheid. Bak dit in ʼn groot bak vir sowat ʼn dekade met volharding,” het hy verduidelik.

Hy het gesê dié resep is een van sukses wat die projek tot dusver soveel laat bereik het. “Die omstandighede kan mens verlam met magteloosheid, of dit kan gebruik word om oplossings te skep. Ons voorouers was gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone dinge gedoen het. Van ons grootste prestasies was in tye waar ons nie politieke mag gehad het nie, maar gemeenskapskrag. Jy kan met gemeenskapsenergie baie bereik. Ons as gemeenskap kan dit doen – ons het dit al voorheen gedoen en ons kan dit weer doen.”

Akademia het tans sewe studiesentrums en meer as 400 studente in twee graad- en etlike diploma- en sertifikaatprogramme dwarsdeur die land. Die Virseker Trust het tydens die bekendstelling van die perseel ʼn tjek ter waarde van R9.3 miljoen aan Akademia geskenk vir verdere uitbreiding en opleiding.

Lees ook oor die nuwe kursusse wat Akademia aanbied.

Besoek Akademia se webwerf.

 

Dr. Dirk Hermann. Foto: Cyril Blackburn Flip Buys. Foto: Cyril Blackburn Die tjek word oorhandig. Foto: Cyril Blackburn Flip Buys teken sy klip tydens die kliplegging. Foto: Cyril Blackburn Die kliplegging. Foto: Cyril Blackburn Akademia (6) Solidariteit Beweging, Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die FAK, die ATKV, die SAOU en die Afrikaanse Taalraad. Foto: Cyril Blackburn Die dosente se kantoor. Foto: Cyril Blackburn Die raadsaal by die instelling. Foto: Cyril Blackburn Die klaskamers by Akademia. Foto: Cyril Blackburn Hiervan saai die dosente na sewe sentrums uit. Foto: Cyril Blackburn Die kliplegging. Foto: Cyril Blackburn Akademiese hoof, Piet le Roux. Foto: Cyril Blackburn

TUT sal Maandag heropen

$
0
0

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Argieffoto van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) het Vrydag aangekondig aktiwiteite op sy Soshanguve-kampusse word Maandag hervat.

Willa de Ruyter, woordvoerder van die universiteit, het gesê die besluit is Donderdag geneem na ʼn vergadering tussen die TUT-bestuur en studenteleiers om ʼn memorandum te bespreek wat aan die universiteit oorhandig is.

Bedrywighede op die kampusse is opgeskort nadat geweld Dinsdag en Woensdag uitgebreek het onder die vaandel van die #FeesMustFall-veldtog. ʼn Groep studente bestaande uit lede van onder meer die Pan Africanist Student Movement of Azania (Pasma), die IVP se studentebeweging (Sadesmo) en die EFF se studentekommando, het Dinsdagoggend begin om aktiwiteite op die kampus te ontwrig.

“Dit is noodsaaklik dat aktiwiteite op die kampusse so spoedig moontlik hervat en daarom sal die Soshanguve-kampusse vanaf Maandag weer aan die gang wees,” het Ruyter gesê. “Die sperdatum vir registrasies by hierdie kampusse sal tot Vrydag, 4 Maart verleng word om op te maak vir die tyd wat verlore gegaan het weens die opskorting van bedrywighede. Die verlenging is slegs van toepassing op die Soshanguve Noord en Suid-kampusse.”

Volgens Ruyter is eksamens wat Vrydag geskryf sou word, uitgestel tot volgende Woensdag. Lesings vir BTech-studente wat vir Saterdag geskeduleer is, sal steeds voortgaan.

“Die direkteurs van inkomste en finansiële bystand sal vanaf Maandag op die Soshanguve Suid-kampus beskikbaar wees om studente te help om finansiële kwessies wat hulle ondervind, op te los,” het sy gesê. “Bykomende personeel sal ook rondom die kampus ontplooi word om studente wat geblok is maar steeds vir die 2016 akademiese jaar moet registreer, by te staan.”

In ʼn poging om die registrasieproses te bespoedig, sal personeel van die finansies-afdeling en kantoor vir finansiële bystand aanstaande week heelweek by die Studentesentrum beskikbaar wees.


Drie argumente vir Afrikaners in ʼn krisis

$
0
0
Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Deur Charl Oberholzer

  1. Jy mag aan jou eie kant wees

Dit is ʼn grondwetlike reg om vír jou taal, jou kultuur, jou opinies en jou geloof te wees. Menswaardigheid is selfs groter as slegs ʼn grondwetlike reg, dis ʼn hoeksteen van internasionale mensereg. Vir die voortbestaan van enige mens, moet hy behoudend wees oor sy taal, kultuur en geloof, selfs al is jy liberaal op enige ander gebied.

  1. Ras is nie gelykheid nie

Gelykheid is nie hoeveel mense van elke kleur in elke organisasie, instelling, kantoor of vriendegroep moet wees nie. Gelykheid is bloot wanneer almal ʼn gelyke geleentheid het om mee te ding vir skaars geleenthede en hulpbronne.

Die konsep van “verteenwoordiging” is ʼn valse maatstaf vir gelykheid. Dit is abnormaal vir enige instelling om die rassedemografie presies te verteenwoordig. Te veel faktore bepaal waar mense hulself bevind, soos persoonlike potensiaal, belangstelling, gesindheid, geld, agtergrond, waardes, etiek, ensovoorts.

Om voor te hou dat dit verkeerd is as meer Indiër-vroue entrepreneurs is as wit vroue, is absurd. Dit is onbehoorlike regulering van die samelewing.

Die doel moet eerder wees om meer ryk mense te skep en minder arme mense te hê. Welvaart moet geskep word, nie net verdeel word nie. Die probleem is nie dat daar so baie ryk mense is nie, maar wel dat daar soveel arm mense is.

Diversiteit is nie rasseteikens nie. Diversiteit in instellings beteken dat mense van verskillende agtergronde en verskillende idees saam moet meeding. Om instellings streng volgens rasteikens in te deel is apartheid.

  1. Dubbelle standaarde

Daar is geen rede waarom Afrikaners skaam hoef te wees om hul plek en regte in instellings op te eis nie. Van die bestaande 26 universiteite, gebruik net 2 (7%) Afrikaans as kommunikasietaal. Boonop is 100% van die klasse ook in Engels beskikbaar en daar is dus geen struikelblok tot “toegang” nie. UCT is 100% Engels, sowel as die Universiteit van KZN. Waarom is daar nie opstande teen daardie ongetransformeerde kampusse nie?

Hoe moet jy die aanslae op Afrikaners hanteer?

  1. Voer debat

Soek argumente waarmee jy saamstem en maak seker jy ken dit. Ideologiese verskille is onafwendbaar, maar idees word gestoomroller as die argument nie goed gevoer word nie, ongeag hoe eties jou opinie is.

  1. Moenie terugstaan nie

Om jou kop in die grond te druk vererger sake. Die EFF maak staat op volstruis-tegnieke. As jy in ʼn ideologiese stryd toegee, beteken dit nie dit word beëindig nie. Dit beteken jy het jou pion verloor en die aanval gaan voort tot al jou stukke van die tafel af is.

  1. Behou die morele gesagsposisie

Moenie rassisties wees nie, moenie haat kweek en net negatief wees nie. Weet wat aangaan maar moenie die negatiewe opblaas omdat dit nuuswaardig is nie (dit geld vir koerante ook). Om die waarheid te soek is om God se eer te soek. Maak seker jy weet wat die verskil is tussen die waarheid en koerantstories. Doen self ondersoek.

  1. Kry gemeenskaplike terrein

Geen konflik word opgelos sonder gemeenskaplike terrein nie, of dit nou geloof, welvaart, groei of respek is. Die realiteit is wel dat ektremiste nie op soek is na ʼn middelgrond nie, maar die doel van gemeenskaplike terrein moet altyd in die visier wees.

  • Charl Oberholzer is ʼn kommunikasie-spesialis, oud-studente aktivis en voomalige president van UP se studenteraad.

Onteiening: Kring veel wyer uit as net plase

$
0
0
grondwethof2

Foto: Reint Dykema

Deur Armand Greyling en Stefan Pieterse

Die Wetsontwerp op Onteiening is sekerlik een van die gevaarlikste wetsontwerpe sedert die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika. Dit magtig onteiening van enige bate van enige persoon solank dit maar in openbare belang of openbare doel volgens die staat is.

Die parlement se Nasionale Vergadering het amptelik op 23 Februarie 2016 hierdie wetsontwerp aanvaar, wat beteken dat die volgende drie stappe nou nodig is voordat die wetsontwerp ʼn geldige en afdwingbare wet sal word, naamlik:

  1. Die debattering en aanvaarding van die wetsontwerp deur die Nasionale Raad van Provinsies;
  2. Aftekening deur die president;
  3. Promulgasie in die staatskoerant.

(Die wet tree gewoonlik in werking op die datum waarop dit in die staatskoerant gepromulgeer word, maar die president mag dit in ʼn latere stadium eers in werking laat tree.)

Volgens AfriSake kan die Wetsontwerp op Onteiening binne die volgende twee maande wet in Suid-Afrika word.

Die wetsontwerp in sy huidige formaat beoog om grond te onteien op grond van die openbare  belang of openbare  doel. Openbare belang is breed onderhewig aan wye interpretasie. Openbare doel is meer spesifiek en nouer. Onteiening kan egter ingevolge albei plaasvind volgens artikel 25(2)(a) van die Grondwet.

Volgens artikel 25(1) mag niemand eiendom ontneem word nie, “behalwe ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre onteiening van eiendom veroorloof nie”.

Artikel 25(4)(b) van die Grondwet bepaal spesifiek dat eiendom nie tot grond beperk is nie.

Die gevolge hiervan is dat die wetsontwerp in sy huidige formaat ook ʼn persoon se aandele in ʼn maatskappy, intellektuele eiendom soos patente en enige ander roerende of onroerende mag insluit; solank dit maar vir ʼn openbare doel of in openbare belang plaasvind.

Ook Suid-Afrika se armste mense kan hierdeur benadeel word, byvoorbeeld waar die houers van regte in eiendom soos plaaswerkers aan wie okkupasieregte toegeken is, onteien kan word.

Die grootste teikens van die Onteieningswet sal volgens AfriSake boere met plase wees;  veral groot plase. Plase sal onteien kan word onder “openbare belang” om grondhervorming te bevorder volgens artikel 25(4) van die Grondwet, wat ʼn groot gevaar vir voedselsekerheid in Suid-Afrika sal inhou, veral in die lig van die groot droogte wat boere tans ervaar, en ook omdat van Suid-Afrika se grootste boerderye die meeste bydra tot ons voedselsekerheid.

Volgens artikel 25(3) van die Grondwet moet die vergoedingsbedrag “regverdig” en “billik” wees en ʼn ewewig gevind word tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak kan word, met inagneming van onder meer die volgende faktore: huidige gebruik van die eiendom; die geskiedenis en die verkryging van die eiendom; markwaarde van die eiendom en die doel van die onteiening.

Goeie nuus is dat die wetsontwerp nou ʼn bepaling bevat in artikel 21 (wat dit nie voorheen bevat het nie), naamlik dat grondeienaars wel die onteiening in ʼn hof mag betwis.

Elke feitestel het sy eie meriete, en moet deur die hof getoets word om sekerheid oor eiendomsregsekerheid in SA te verkry. AfriSake sal sy lede bystaan om met verskeie hofsake die grondwetlikheid van die nuwe wetsontwerp te toets.

  • Armand Greyling is regs- en beleidsanalis by AfriSake en Stefan Pieterse is die organisasie se woordvoerder.

Klipkouers: Jacques gesels met Hendrik van Vuuren

$
0
0
Klipkouers-logo-03

Grafika: Verskaf.

Hendrik van Vuuren, die medestigter van Ekosto, gesels met my oor onder meer die 500 eiendomme wat hulle tans bou en hoe die werkskultuur tussen die Suid-Afrikaners en Texane verskil.

ToekomsVenster: Onderdanig aan mekaar

$
0
0
deernis

Argieffoto.

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. – Ef 5:21

Onderdanigheid is nie ’n gewilde begrip nie. Daar is heelwat bruidspare wat deesdae vra dat ons asseblief nie die woord sal gebruik nie. Ek onthou hoe ek die dag voor hulle troue met ’n paartjie deur die beloftes gegaan het wat hulle sou herhaal. Sonder dat die bruid daarvan bewus was het ek grappenderwys ’n paar woorde in haar beloftes verander en dit aan haar voorgelees. Sy het dit herhaal en toe byna verstik op die woorde dat sy aan haar man ‘gehoorsaam’ en ‘onderdanig’ sal wees. Dit was natuurlik net ’n grap.

Wat hierdie bruid en baie mense wat hierdie woord hoor, nie verstaan of raaklees nie, is dat Paulus ’n totaal nuwe inhoud aan die woord gee. Net soos die woord ‘dien’ veronderstel die woord ‘onderdanig’ ook eenrigting verkeer. Dit veronderstel ’n meerdere en ’n mindere. ’n Mindere is onderdanig aan ’n meerdere. Nou skryf Paulus dat ons ‘aan mekaar’ onderdanig moet wees. Onderdanigheid se skerp kante word onmiddellik deur die woorde ‘aan mekaar’ stomp gemaak. Niemand is uitgesluit nie. Elkeen moet aan die ander onderdanig wees! Dis die lewenstyl van Christene: onderdanigheid aan mekaar.

As ons die konteks van hierdie vers in gedagte hou, word die betekenis van die woord nog duideliker. Eerstens voeg hy woorde by wat ons maklik miskyk: ‘Wees uit eerbied vir Christus’ aan mekaar onderdanig. Die woord ‘eerbied’ kan ook met ‘vrees’ vertaal word. In 1 Kor 5:11 verwys dit na die diens aan (vrees vir) die Here in die lig van sy wederkoms. Christus is regter wat sal oordeel (Sien ook 2 Kor 5:10). Daar is alle mense gelyk. Ons is aan Hom verantwoordelik. Dit verwys ook na die werk van Christus. Sodat Hy sy bruid, die kerk, se liefde kon wen, het Hy homself opgeoffer. Wanneer ons aan mekaar onderdanig is, volg ons Christus in sy selfopoffering. Ons gee ons eie posisie van mag prys.

Tweedens het Paulus pas verwys na die lewe onder beheer van die Gees (Ef 5:18). Dit is die onmiddellike konteks. Om deur die Gees vervul te wees is om onder die heerskappy of beheer van die Gees te wees. Ons is dus nie in beheer nie. Ons lewe deur die Gees van God. Dit lei tot gewoon tot eerbied vir Christus en onderdanigheid aan mekaar.

Derdens is onderdanigheid aan mekaar die sleutel tot alle verhoudinge, nie net die huwelik nie (Ef 5:21-6:8). Dit sluit die verhouding tussen gemeentelede, mans en vroue, ouers en kinders en werkgewer en werknemer in. Oral waar daar eerbied vir Christus is, waar mense onder beheer van die Gees lewe, sal daar hierdie gesindheid van onderdanigheid aan mekaar wees.

Hierdie woord is nie ’n skande vir die Christelike lewenswandel nie. Dis nie ’n woord waarvoor ons skaam hoef te wees nie. Dis die styl van mense wat Christus volg en eer. As daar meer onderdanigheid in die Christelike geloofsgemeenskap en gesinne was, sou daar ook minder konflik en meer liefde wees.

Bestuurder val na sy dood by myn

$
0
0

Len Aucamp

Len Aucamp

Len Aucamp, ʼn geliefde produksiebestuurder by die Tau-ystermyn in Kathu in die Noord-Kaap, is Donderdag by die myn dood nadat hy sowat 100 m ver in die oopgroefmyn geval het.

Connie Prinsloo, sektorkoördineerder van die vakbond Solidariteit, het Vrydag aan Maroela Media gesê volgens inligting wat hy ontvang het, het Aucamp die oggend 05:00 by die werk ingeklok.

“Sy kollegas het deur die dag agtergekom hy is weg en het na hom begin soek. Daar is ʼn spesifieke hoogte langs die oopgroefmyn wat Aucamp glo gereeld besoek het om mynbedrywighede dop te hou. Sy bakkie is naby dié plek gevind en sy liggaam is omstreeks 13:00 opgespoor.”

Die aanvanklike ondersoek dui daarop dat hy op die wal gegly en toe sowat 100 m ver na sy dood geval het. Reddingswerkers het tussen 19:00 en 20:00 by sy liggaam uitgekom en dit na die oppervlak gebring.

“Die myngroep se veiligheidskomitee, departement van arbeid en polisie ondersoek die voorval,” het Prinsloo gesê.
Volgens Adele Rossouw, Solidariteit se organiseerder in Kathu, wat nou saam met Aucamp gewerk het, is Aucamp se dood ʼn groot skok vir die klein gemeenskap omdat hy baie geliefd was onder die werkers.

Lt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoeder, het aan Maroela Media bevestig die liggaam van ‘n 39-jarige man is by die myn gevind en ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

Afleggings het aan die einde van Januarie by Kuma Iron Ore se Sishen-myn, aan wie die Tau-myn uitkontrakteer, begin weens die lae ysterertsprys. Nagenoeg 2 633 van Sishen se 5 830 werknemers word hierdeur geraak. Nog 1 300 uit sowat 3 000 kontrakwerkers se poste is in gedrang.

Solidariteit het op 27 Januarie bekend gemaak drie mynmaatskappye, wat almal in Kathu gevestig is, het aangekondig hulle doen aansoek om herstrukturering. Sowat 175 werkers by Tau word hierdeur geraak. Aucamp het nie onder dié werkers getel nie.

Volgens Deon Reyneke, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die energiebedryf, is die vakbond bekommerd oor die vlaag afleggings wat die Noord-Kaap getref het. “Die Noord-Kaapse myne verkeer onder geweldige druk en hierdie myne is nie die enigste wat moontlike afleggings moet hanteer nie,” het Reyneke destyds gesê.

“Die afleggings gaan ’n geweldige impak op die sosio-ekonomiese welstand van die werknemers in die Noord-Kaap hê. Gevolglik sal Solidariteit alles in sy vermoë doen om die werkers met raad en daad by te staan,” het Reyneke gesê.
Medianavrae oor Aucamp se dood is na Anglo American, ’n sake-eenheid van Kumba Iron Ore, verwys en Maroela Media wag nog vir terugvoer.

Aucamp laat sy vrou en twee kinders agter.

Viewing all 80349 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>