![Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS]()
Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS
Pres. Jacob Zuma is bekend vir sy wilde uitsprake wat vir hom en die land groot skade berokken … én dat hy niks in die proses leer nie. Die naweek het hy weer sy voet vierkant daarin gesit, maar anders as net ontstellend of lagwekkend, dra die jongste wilde perde ook die kieme van groot gevaar.
By geleentheid was ’n beterweterige skoolseun van die Namakwaland af vreeslik verontwaardig toe ’n onderwyser vir hom sê: “As ’n donkie sy bek oopmaak, lô (loop) val daar kaf uit.”
Onse agbare president is nie skaam om te “lô” en kaf te verkoop nie. Hy het homself en sy land al telkemale in die skande gesteek. In die proses skep hy al meer die beeld van ’n politieke nar – ongelukkig ’n dodelik gevaarlike nar.
Politieke ontleders en politici, elk van sy eie invalshoek, trek tans sy jongste juweeltjie uitmekaar. Op die KZN-hoofraadskongres van die ANC het hy naamlik gesê hy meen dis belangriker om eerstens lojaal teenoor die party (ANC) te wees as teenoor die land.
Die diepgang van wat hy gesê het, strek veel wyer, maar sommer voor die hand liggend het hy sy ampseed (wat hy al twee keer self afgelê het) vir ’n ses geslaan. Tweedens word dit opnuut duidelik dat hy ná byna twee voltooide termyne as president, nie die vaagste benul van die ABC van staatkunde het nie.
Hy het dit immers al voorheen ook ten toon gestel toe hy pres. Barack Obama tydens oudpres. Nelson Mandela se laaste hospitaalopname in Pretoria ontmoet het, en in die mediakonferensie sy gas, Obama, in ’n verleentheid gestel het deur so voorbrand vir die ANC te maak dat hy eintlik in sy hoedanigheid as ANC-president moes opgetree het.
So ’n siening “regverdig” natuurlik ook ’n netwerk van nepotisme en party-voortrekkery in staatsdiensaanstellings (deployment) wat met enkele uitsonderings na uitdruklik deur die Grondwet en internasionale konvensie verbied word.
Omtrent al positiewe teken is dat hy nou weet om ’n onderskeid tussen land en party te trek. Tot betreklik onlangs was dit nie die geval nie, met verskeie ministers wat AfriForum van dislojaliteit, en amper sedisie teenoor die land beskuldig wanneer hulle brouwerk deur regeringsleiers uitwys. Dit is dikwels JUIS lojaal teenoor ’n land as uitgewys word hoe regeringslui die land skade berokken.
Maak hy nie dalk nou voorbrand vir die belangrikheid van sy amp as president van die ANC vir as, en wanneer, hy ’n derde termyn as president van die ANC pak, terwyl die Grondwet hom verhinder om ’n derde termyn as president van die land te dien nie? Dan het hy nou reeds gewys wie hy meen in werklikheid die baas gaan wees, en wie die marionetpresident.
Gaan Zuma, as net president van die ANC, verbaas wees as hy nie meer amptelik in die nuwe presidensiële straler wat nou vir R4 miljard aangekoop word, mag vlieg nie? Of gaan hy sy mag misbruik om te verseker dat hy na hartelus in amptelike afvaardigings opgeneem word om steeds die wêreld rond te rits (en die land se naam met ’n plank te slaan)?
Na berig word, het twee opposisiepartye, die DA en EFF, reeds op Zuma se stelling reageer. Die DA meen hy skend sy ampseed, en hy moet die stelling terugtrek en aan die land om verskoning vra. Die party meen ook dit skep die teelaarde vir magsmisbruik. Die EFF meen dit is ’n voorbode tot eenparty-denke en ’n diktatorskap.
Van die afgevaardigdes moes seker ook sukkel om hul lag te hou toe Zuma sê hy “hoor gerugte” dat hy ’n las vir die ANC is. Hieroor is hy erg omgesukkel.
Hy het dit waarskynlik teenoor mense binne die ANC wat hom as las beskou, terwyl die talle mediaberigte hieroor eintlik gaan oor mense buite die ANC wat meen Zuma is nie net ’n las vir die ANC nie, maar vas glo hy is ’n ramp vir die land. Nogtans was die kritiek van eerw. Frank Chikane en Kgalema Motlanthe nie die eerste van binne die ANC nie. Sowel oudpres. Thabo Mbeki as Winnie Madikizela Mandela het kort ná mekaar mond uitgespoel oor “tribalism” wat weer sterk in die ANC uitslaan, ’n duidelike verwysing na Zuma se Zoeloefikasie.
In sy redaksionele kommentaar stel Rapport dit dat Zuma ’n “nul op die kontrak-president” is. Rapport se wiskunde laat hom egter in die steek – nul is nié die laagste moontlike waarde nie. In die minus-gedeelte is daar net soveel opsies as in die positiewe gedeelte, en as al Zuma se flaters en skandes bymekaargetel word, sy verwoestende uitwerking op nasionale versoening (terwyl hy volgens ampseed die bindende faktor moet wees), die gehalte van sommige van sy ministers en vele meer in ag geneem word, oortref die negatiewe die positiewe baie ver.
Wat anders kan ’n mens sê as: “#Zumamustfall”?
Om ’n ou politieke grappie af te stof en ’n nuwe naam in te vul: Daar is nie meer Zuma-grappe nie … want alles is nou die waarheid.