Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

Foto’s: Waar’s my skape?

$
0
0
Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter)

Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter)

Liezel Kennedy, ʼn boer van Saskatchewan in Kanada, het Dinsdagoggend uitgery op die plaas om na haar ongeveer 500 skape om te sien. Toe sy egter by ʼn veldjie opdaag waar hulle veronderstel is om te wei, wou dit voorkom of haar skape oornag verdwyn het!

“Ek het aanvanklik reg verby hulle gery,” het sy aan BuzzFeed Canada gesê.

Kyk na die volgende paar foto’s – hulle is regtig daar! Op een van die foto’s is die skape ongeveer 15 meter ver. Liezel het glo dieselfde probleem in warmer maande.
Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter) Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter) Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter) Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter) Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter) Foto: Liezel Kennedy ‏(@pilgrimfarms, Twitter)


Gedagte vir die dag: Hanteer jou verlies korrek

$
0
0
vrou_sonsondergang_dink_see_staar.jpg

Foto: stringsofsoulfulness.com

Lees: Johannes 16:16-24

Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees. (Johannes 16:20, 22)

Jerry Sittser ’n Amerikaanse professor wat sy ma, vrou en dogtertjie in ’n ongeluk verloor het wat deur ’n dronk man veroorsaak is, skryf ’n boek ná sy nagmerrie-ondervinding. In hierdie boek met die titel A grace disguised vertel Sittser dat hoe ’n mens jou persoonlike trauma hanteer van drie faktore afhang: Die keuses wat jy maak, die genade wat jy kry en die manier waarop die verlies jou (meestal ten goede) verander.

Ons almal kry te kampe met verliese tydens die duur van ons lewe. Dinge wat ons so hartseer maak dat dit vir ons voel asof ons nie met ons lewe kan aangaan nie. Indien jy daarin kan slaag om jou verliese op die regte manier te hanteer, gaan jy heel waarskynlik ontdek dat die ervaring wat vir jou so moeilik was, uiteindelik tot jou beswil was. Jy gaan ’n veel sterker mens anderkant uitkom. Een met empatie vir ander mense en kennis wat jou in die toekoms sal help om mense wat deur ’n soortgelyke trauma moet gaan, by te staan.

Verlies kan jou baie seermaak, maar op die ou end rus dit jou toe om ’n meer simpatieke persoon te wees wat werklik ’n verskil in ander se lewens kan maak. Omdat jy in God glo, weet jy ook dat Hy op die ou end jou droefheid weer in blydskap sal verander.

Vader, wys my hoe ek my verlies positief kan verwerk omdat ek vir seker weet dat U weer my droefheid in blydskap sal verander. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

Vrystaat-pa en seun vas oor dagga-laboratorium

$
0
0
Foto verskaf deur die SAPD

Foto verskaf deur die SAPD

ʼn Pa en seun is Vrydag in Riebeeckstad buite Welkom in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat ʼn hidroponiese dagga-laboratorium op hul eiendom ontdek is.

“Die Thabong-polisie en Welkom se honde-eenheid het die oggend omstreeks 09:00 ʼn wenk ontvang oor ʼn dagga-laboratorium in ʼn huis in Riebeeckstad,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê.

Beamptes is na die huis in Jasonstraat en het toestemming versoek om die perseel te deursoek. “ʼn Hoëgraadse hidroponiese dagga-laboratorium was in die agterkant van die huis. Dagga is in die seun se kamer en onder ʼn boom in die erf geprosesseer.”

Die 52-jarige pa en sy 27-jarige seun is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van die besit, handeldryf en vervaardiging van “hoëgraadse hidroponiese dagga”, het Thakeng bygevoeg.
Foto verskaf deur die SAPD Hidroponiese dagga-laboratorium Foto: Vrystaat SAPD

Twee skuldig aan Sithole-moord

$
0
0
Die voorblad van die Sunday Times van 19 April 2015 met foto's van die aanval op Emmanuel Sithole. Die foto's is deur James Oatway geneem. Foto: http://www.thepaperboy.com/

Die voorblad van die Sunday Times van 19 April 2015 met foto’s van die aanval op Emmanuel Sithole. Die foto’s is deur James Oatway geneem. Foto: http://www.thepaperboy.com/

Twee van die vier mans wat tereg gestaan het op aanklag van die moord op die Mosambieker Emmanuel Josias Sithole, is skuldig bevind.

Sithole is op 18 April vanjaar dood nadat hy geld van die beskuldigdes geëis het, nadat hulle sigarette en lekkergoed uit sy stalletjie gevat het sonder om te betaal. Die aanval het tydens ʼn vlaag xenofobiese aanvalle in Alexandra, Johannesburg, plaasgevind en James Oatway, ʼn fotograaf vir Sunday Times, het dit op ʼn foto vasgevang.

Mhinto Bhengu (22)‚ Sizwe Mngomezulu (20)‚ Sifundo Mzimela (21)‚ en ʼn 17-jarige seun het in die Johannesburgse landdroshof skuld ontken op aanklag van diefstal en moord.

Landdros Lucas van der Schyff het Woensdag Mngomezulu ontslaan, nadat die landdros bevind het dat hy slegs ʼn omstander was toe die aanval plaasgevind het.

Van der Schyff het Vrydag in sy uitspraak gesê hy is tevrede dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat Mzimela die slagoffer met ʼn stuk gereedskap gedreig het. Hy kan egter nie bevind dat Mzimela hom wel daarmee aangerand het nie.

Hy het Mzimela en Bhengu tog skuldig bevind aan moord, en gesê hulle het met ʼn gemene doel opgetree om Sithole te vermoor.

Van der Schyff het gesê hy kan nie die tiener skuldig bevind aan moord nie, aangesien hy eers opgedaag het nadat Sithole gesteek is. Hy het bevind dat die minderjarige wel ten doel gehad het om Sithole met ʼn skerp voorwerp te steek, maar ʼn omstander het hom gekeer.

Die landdros het die drie mans vrygespreek op aanklag van roof met verswarende omstandighede, maar die tiener is skuldig bevind op aanklag van diefstal van die sigarette en lekkergoed uit die stalletjie. Hy het die tiener ook skuldig bevind op aanklag van aanranding.

Die tiener se ma het buite die hof om verskoning gevra vir haar seun se gedrag. Sy het gesê sy voel die pyn wat Sithole se familie oor sy moord deurgaan.

Die saak is tot volgende maand uitgestel vir vonnisoplegging.

Lees alle vorige berigte oor Emmanuel Sithole op Maroela Media.

Skietery by Kaapstad-winkelsentrum

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Een man is Vrydag dood en twee beseer tydens ʼn skietvoorval by ʼn winkelsentrum in Ottery in Kaapstad.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het Saterdagoggend aan Maroela Media bevestig die skietery het omstreeks 17:20 plaasgevind.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het in ʼn verklaring gesê paramedici en metro-nooddienste is na die toneel naby Sandfonteinweg ontbied. Een van die mans is noodlottig beseer en hy is op die toneel dood verklaar. “ʼn Tweede persoon was in ʼn kritieke toestand en ʼn derde persoon in ʼn ernstige, maar stabiele toestand,” het Vermaak bygevoeg. Hulle is albei op die toneel behandel en later na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Die oorsaak van die skietery is nog nie bekend nie. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord,” het Van Wyk bygevoeg. “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Crime Stop te skakel by 08600 10111.

Agoa sal ‘oukei’ wees, sê Davies

$
0
0
Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het Vrydag gesê die Amerikaanse handelsverteenwoordiger het hom verseker dat die dreigende opskorting van Suid-Afrika uit Agoa-voordele opgehef sal word sodra ʼn ooreenkoms op uitstaande sake bereik word.

Michael Froman het Davies Donderdag gebel voor pres. Barack Obama se brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, waarin hy ʼn waarskuwing uitreik oor die moontlike opskorting van Suid-Afrika uit die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa)- handelsooreenkoms.

Davies het Vrydag tydens ʼn dringende perskonferensie gesê onderhandelinge vind plaas tussen Suid-Afrika en Amerikaanse verteenwoordigers. “Ons glo ons is naby,” het hy gesê. Hy het toegegee dat onderhandelinge langer as wat aanvanklik verwag is, voortduur, en dat dit nie maklik is nie.

Hy het gesê die vraag oor invoere van vleis en pluimvee uit Amerika na Suid-Afrika wat nie geraak word deur siektes soos voëlgriep of malkoeisiekte nie, is gefinaliseer. Die enigste uitstaande kwessies is salmonella-besmetting van vleis en ʼn uitgangsklousule wat die vervaldatum van ooreenkomste betref.

Lees alle vorige berigte oor Agoa op Maroela Media.

60-jarige vrou vas oor dwelms

$
0
0
Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

ʼn 60-jarige vrou van Phoenix in Durban het Vrydag in die hof verskyn op aanklag van die besit van dwelmmiddels met ʼn straatwaarde van nagenoeg R400 000.

“Die polisie se openbare orde-eenheid het die vrou Donderdag in hegtenis geneem,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Polisiebeamptes het reageer op ʼn wenk en het die huis in die Greenbury-gebied begin dophou. Hulle het die perseel betree en toestemming gevra om dit te deursoek.”

Tydens die soektog het die polisiebeamptes beslag gelê op dwelmmiddels ter waarde van R400 000. “Die polisie het beslag gelê op 12 200 heroïenstrootjies, 336 mandrax-tablette, 46 foeliepakkies met ʼn poeier in, gebreekte stukkies pille, vermoedelik mandrax, en 10 rondes ammunisie,” het Zwane bygevoeg.

Die vrou is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelmmiddels. Sy het Vrydag in die Phoenix-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Betty Mmamonnye, provinsiale polisiekommissaris, het gesê sy hoop die verdagte sal suksesvol vervolg en gevonnis word.

[Video] Kersfeesadvertensie laat jou verlang

$
0
0
Skermskoot uit die advertensie

Skermskoot uit die advertensie

John Lewis, ʼn kettingwinkel in die Verenigde Koninkryk, se Kersfeesadvertensie laat jou verlang na geliefdes wat dalk ver is.

Dit is die verhaal van ʼn jong meisie, Lily, wat deur ʼn teleskoop na die maan kyk. Een aand sien sy vir die eerste keer ʼn man op die maan raak!

Sy hou dop hou hy sy dagtakies eensaam afhandel en raak vasbeslote om ʼn boodskap na hom te stuur, sodat hy kan weet iemand dink aan hom.

Die advertensie is binne twee dae reeds byna 6 miljoen keer op YouTube gekyk.

Die liedjie is “Half the world away”, oorspronklik deur Oasis, en dit word uitgevoer deur Aurora.
Kry die liedjie op Apple Music of iTunes.

Jy kan ook ʼn verwante app aflaai waar jy interaktief met ʼn maan-plakkaat kan speel, daagliks nuwe feite oor die maan kan leer en selfs ʼn speletjie kan speel om te kyk of jy self ʼn voorwerp tot by die maan kan kry.


Vrou en baba sterf in N4-ongeluk

$
0
0
Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Vrou, vermoedelik in haar laat 20’s, en ʼn sewe maande oue baba is Saterdagoggend oorlede in ʼn ongeluk naby die Doornpoort-plaza op die N4 buite Pretoria.

“Die ongeluk het ongeveer 2 km voor die Doornpoort-tolplaza in die rigting van Brits plaasgevind,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Paramedici het kort voor 10:00 by die toneel opgedaag en ʼn Volkswagen Polo het op sy sy gelê.”

Volgens Vermaak is die vrou en baba ʼn paar meter van die wrak af aangetref. Hulle het noodlottige beserings opgedoen en daar is niks wat paramedici vir hulle kon doen nie. “Hulle is op die toneel dood verklaar.”

Daar was glo nog ʼn vrou en ʼn driejarige kind in die motor ten tyde van die ongeluk. ʼn Ander ambulansdiens het hulle reeds weggeneem voor ER24 by die toneel opgedaag het. Hulle toestand is onbekend.

“Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in,” het hy bygevoeg.
Foto: ER24 Foto: ER24

Fietsryer op N4 aangeval

$
0
0
Deon van der Berg (Foto: Facebook)

Deon van der Berg (Foto: Facebook)

Deon van der Berg, aanbieder van die Huweliks- en Lewensverrykingseminare, is Saterdagoggend op sy fiets op die N4 buite Pretoria deur twee onbekende mans aangeval.

Van der Berg het omstreeks 07:45 alleen op sy fiets op die Bakwena-hoofweg naby die Rosslyn-afrit gery. Daar is ʼn groot geel skouer langs die pad waar fietsryers gemaklik kan ry. Hy het Saterdagoggend twee mans in die pad sien staan. “Een van die mans het sy arm uitgesteek, en die gewoonte van fietsryers is dat mens sommer so aan mekaar se hande raak om te groet,” het hy aan Maroela Media verduidelik. “Die man het my egter van my fiets af gepluk en dit is toe dat die tweede persoon my met ʼn stok slaan.”

Van der Berg het gesê hy kon vinnig opspring en die fiets tussen hom en sy aanvallers kry. “Ek het besef ek gaan myself moet verdedig. Daar het gelukkig motors begin stilhou en die twee het laat spaander.”

Die vermoede bestaan dat persone fietsryers teiken wat alleen ry, en dat hulle die fietsryers spesifiek daar inwag, om vinnig by die treinbrug teen die heuwel uit te vlug. “Hulle weet wat is mens se fiets werd, en dat mens gewoonlik ʼn selfoon en dalk kontant by jou kan hê.”

Van der Berg se arm is beseer, maar darem nie gebreek nie. “My vrou het gesê ek mag nie meer alleen ry nie!” het hy gesê.

Hy beplan om hierdie jaar weer aan die Argus-fietsrytoer deel te neem, ʼn wedren waarin hy baie ervare is en trots is om sy groen nommer te dra.

Van der Berg het in 2014 binne 12 dae 1 650 km afgelê en uiteindelik R180 000 ingesamel vir die bediening, Lewensverryking Seminare.

Deon skryf ook rubrieke vir Lig- en Intiem-tydskrifte. Hy bied binnekort ʼn reeks oor Huweliksverryking aan vir Maroela Media se radioproduksiehuis, Draadloos. Dié reeks sal op die webwerf beskikbaar wees en word op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai.

Dubbele standaarde en swart bevoorregting: Die nuwe storie van Suid-Afrika

$
0
0
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Argieffoto.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Argieffoto.

Hierdie is Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, se volledige toespraak wat hy Donderdag by die Mistra-konferensie gelewer het oor witheid, Afrikaans en Afrikaners by Konstitusieheuwel in Johannesburg.

“Jode is oneerlike diewe wat ander mense se geld steel.”

“Asiërs is onmenslik en hulle gee nie om vir hulle medemens nie.”

“Moslems is terroriste en hulle moet vir bomme deursoek word.”

“Indiërs kan nie ernstig opgeneem word nie, omdat hulle oneerlik is en verspotte aksente het.”

“Kleurlinge is gewelddadige bendelede wat altyd dronk is.”

“Alle witmense is kriminele en moet sodanig behandel word. Ons moet hulle eiendom vat, hulle van werksgeleenthede ontneem en hulle as tweedeklas-burgers behandel. Witmense is verkragters, honde en lafaards. Ons moet liedjies sing oor hoe hulle afgemaai en vermoor moet word. Volgens die witman se geloof is vrouens niks meer as eiendom wat aangerand en vermoor kan word soos hulle goeddink nie. Witmense is in die minderheid en dit beteken dat hulle minder regte as die res van ons moet hê… Absoluut, dit is hoe demokrasie werk. En indien hulle dit waag om teen hierdie sienings te protesteer, moet ons vir hulle sê om hul monde te hou, omdat hulle rassiste is wat maar net kry wat hulle verdien.”

Dames en here, ek stem nie met enige van die bogenoemde aanhalings saam nie. Ek glo dat die hele lot valse stereotipes en uiters rassisties is. Volgens die sienings van die Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC, kan al bogenoemde uitlatings egter as rassisties beskou word. Die hele lot, behalwe dié wat met witmense verband hou. Inteendeel, wat ek so pas oor witmense gesê het, is ʼn versameling ANC-aanhalings en -beleidstandpunte.

Ek glo dat die onderwerp van “witheid” ʼn misplaaste onderwerp is. Ek glo dat ʼn oplossing vir die sogenaamde probleem van “witheid” min sal doen om Suid-Afrika vorentoe te laat beweeg, aangesien witmense nie te blameer is vir Suid-Afrika se hedendaagse krisis nie.

Ek glo dat ons net sowel ʼn konferensie oor “swartheid” kan inisieer en hoe swartmense hulle denkwyse moet begin verander.

Maar indien ons “swartheid” bespreek, word ons slegs toegelaat om te bespreek hoe swartmense in die verlede uitgebuit is en nie hoe swartmense hulle denkwyse moet verander nie. Want laasgenoemde sal rassisties wees.

Indien ons egter “witheid” bespreek, word ons slegs toegelaat om te bespreek hoe witmense hulle denkwyse moet verander en nie hoe hulle tans uitgebuit word nie. Want laasgenoemde sal rassisties wees.

Dít, dames en here, is die verhaal van post-apartheid Suid-Afrika: ʼn Verhaal van dubbele standaarde. ʼn Verhaal waarin die president van die land in die Parlement kan argumenteer dat mense wat in die minderheid is, minder regte moet hê, en waar hy openlik argumenteer dat elke liewe ding wat in hierdie land foutief is, voor die voete van die witman se voorvaders gelê kan word.

Ek wil graag in die openbaar verklaar dat ek nie my identiteit as ʼn witman koester nie. Ek glo dat die kleur van jou vel veronderstel is om irrelevant te wees. Ek het ook nog nooit vantevore ʼn toespraak oor witmense gelewer nie, maar ek doen dit nou, omdat daar vir my gevra is om dit te doen. Ek beskou egter my godsdienstige identiteit as ʼn Christen as fundamenteel. Ek beskou my kulturele identiteit as ʼn Afrikaner as ʼn onlosmaaklike deel van wie ek is. Ek beskou my geografiese identiteit as ʼn Afrikaan as ononderhandelbaar.

Maar word ek toegelaat om ʼn Afrikaan te wees? Gedurende sy bekende “Ek is ʼn Afrikaan”-toespraak, het voormalige president Thabo Mbeki te kenne gegee dat ek mag wees. President Jacob Zuma het na Afrikaners verwys as die wit stam van Afrika. In daardie geval skat ek dat ek ʼn Afrikaan kan wees.

Maar volgens die wette van hierdie land en die manier waarop dit deur ons howe geïnterpreteer word, kan ek nie ʼn Afrikaan wees nie. Die Wet op Bevolkingsregistrasie – ʼn wet wat gebruik is om mense volgens die kleur van hulle vel te kategoriseer – is afgeskaf weens die rassistiese aard daarvan. Dit is dus ironies dat die wette wat sedertdien geïmplementeer is, voortgaan om op die basis van ras te diskrimineer. Daar is egter geen wet waarvolgens verskillende rasse gekategoriseer word nie. Want om só ʼn wet te hê, sal rassisties wees. Verder is dit presies waarteen die ANC geveg het. So wat doen ons? Ons skrap die wet, maar gaan voort om dit in elk geval toe te pas.

Tegnies gesproke is daar geen regsbasis waarvolgens my ras gedefinieer word nie. “Wit” word nie in die Wet op Billike Werksgeleenthede gedefinieer nie, ook nie in die Wet op Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtiging nie, ook nie in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie nie. “Swart” word egter gedefinieer as “’n generiese term wat na Afrikane, kleurlinge en Indiërs verwys”.

“Afrikaan” word egter nie gedefinieer nie. Volgens ons Grondwet het elke landsburger die reg tot vryheid van assosiasie en “onbillike” diskriminasie word verbied. Ek assosieer myself met die term “Afrikaan”. Beteken dit dat ek swart is?

Indien daar gekyk word na die manier hoe die wet toegepas word, is dit duidelik dat ek nie swart kan wees nie, bloot omdat ek nie ʼn Afrikaan kan wees nie, ten spyte daarvan dat ek verkies dat daar só na my verwys word. As prokureur kan ek ʼn deeglike argument maak dat dit onbillike diskriminasie en ongrondwetlik is. Maar ek weet dit is nie hoe die Grondwet vertolk word nie.

Dit is hoekom ek sê dat dubbele standaarde die verhaal van Suid-Afrika geword het. Kom ons begin met ʼn paar voorbeelde van hoe ons met ons geskiedenis handel:

  1. Witmense word uitgekryt as “gronddiewe” omdat hulle ander mense se grond gevat het. Vreemd, want dit is presies wat Shaka gedoen het en dit is presies wat Mzilikazi gedoen het. Mzilikazi, wat die grootste volksmoord in Suid-Afrikaanse geskiedenis gepleeg het, word egter uit die geskiedenisboeke geskryf en Shaka word as ’n held voorgehou. Dit wil dus voorkom dat in gevalle waar swartmense mekaar vermoor het, mekaar se grond gevat het en selfs volksmoord gepleeg het, maak dit nie saak nie, omdat hulle swart was. Dit blyk dat #blacklivesmatter, maar slegs wanneer die moordenaars wit is. #peopleswar #ANCvsInkatha #StompieSeipei.
  1. Die gruweldade wat deur die witmense van die Vlakplaas-eenheid van die voormalige SAP gepleeg is, word in geskiedenisboeke benadruk as ’n voorbeeld van wit wreedaardigheid. Terselfdertyd word die martelings van swartmense deur die ANC by Quattro en ander ANC-kampe in Afrika geïgnoreer.
  1. Ons word vertel dat name soos “Kerkstraat” in Pretoria verander moet word omdat name wat aanstoot gee, nie verdra moet word nie. Intussen word Amanzimtoti se hoofstraat, Kingsway (beswaarlik ’n naam wat aanstoot gee), na Andrew Zondostraat verander. Andrew Zondo, ’n ANC-jeugligalid ten tyde van die voorval, is slegs bekend vir een ding. Op 23 Desember 1985 het Zondo ’n bom in ’n winkelsentrum geplant en sodoende een wit baba, een wit dogtertjie en twee wit vrouens vermoor. Sommige van die families van hierdie vermoorde slagoffers wat steeds in Amanzimtoti woon, kan nou werk toe ry in ’n straat wat na die man vernoem is wat hulle geliefdes vermoor het. Maar in die Suid-Afrikaanse verhaal van dubbele standaarde is dit nie aanstootlik nie en die moordenaar word as ’n held beskou, oënskynlik omdat hy swart was en sy onskuldige slagoffers wit.

Kom ons kyk nou na hedendaagse voorbeelde van dubbele standaarde:

  1. Toe twee damestudente van die Universiteit van Pretoria (UP) hulleself swart geverf het by ʼn privaat partytjie, is hulle summier uit hulle koshuis geskors, selfs nog voordat enige ondersoek na die voorval afgehandel kon word. SASCO het gedreig om universiteite regoor die land lam te lê. Die Menseregtekommissie (MRK) het ’n ondersoek na die “skandaal” geloods. Nie lank daarna nie is nóg ’n foto gesirkuleer. Hierdie keer het twee wit studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) hulle gesigte swart geverf tydens ʼn fantasiekostuumpartytjie. Hulle het soos Venus en Serena Williams aangetrek. Die media het weereens hul hande vinnig op die storie gekry: “Black face scandal hits Stellenbosch,” het een mediahuis berig. Soos verwag, het die universiteit dié keer weer in die openbaar aangekondig dat ʼn ondersoek gedoen word en die studente is gedwing om in die openbaar om verskoning te vra vir hulle “wangedrag”. Kort voor lank het die debat in ’n groot grap op sosiale media ontaard. Talle foto’s van swart studente wat hulleself wit geverf het of soos wit boere aangetrek het, het skielik te voorskyn gekom en die algemene vraag was waarom hierdie mense nie ook van rassisme beskuldig is nie. Die kort antwoord: Omdat hulle swart was.
  1. Verlede jaar het twee wit studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in ʼn swart student vasgery. Die studente is daarvan beskuldig dat hulle dit met opset gedoen het, en verder dat hulle die swart student aangerand het. Dit is beskryf as ’n daad van rassisme. Die studente is deur die universiteit geskors sonder ʼn verhoor, op aandrang van die visekanselier, en hulle is verskriklik in die openbaar beledig. ’n Hof het hulle egter vrygespreek van al die aanklagte teen hulle en die MRK het bevind dat die voorval geensins rassisties van aard was nie. Kort ná hierdie voorval het basies dieselfde ding gebeur, maar die rassesituasie was omgeswaai, toe ’n wit student deur ’n swart student van sy bromponie gegooi en aangerand is. Hoewel ’n klagte ook teen die swart student gelê is, het die universiteit in die openbaar geswyg, en die saak is kort daarna laat vaar.
  1. Die minister van hoër onderwys het op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit ingegryp ná gerugte van sogenaamde “Nazi-aktiwiteite” op kampus. ’n Onafhanklike ondersoek het bevind dat daar geen teken van Nazi-aktiwiteite voorgekom het nie, maar dit het egter nie die minister ontmoedig nie. Hy het verklaar dat hy nie omgee oor enigiemand se opinie nie, want hy is reeds oortuig dat die studente met Nazi-aktiwiteite besig was. Valse beskuldigings van Nazisme is as ’n groen lig gebruik om die kampus “radikaal te transformeer”, wat in praktyk beteken dat daar te veel witmense is.

Kort daarna het ʼn rassistiese pamflet op die kampus verskyn met die woorde “Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans”. Die nuwe visekanselier, prof. Dan Kgwadi, het gesê dat die universiteit ʼn ondersoek na die bron van hierdie pamflet aangevra het, en het onmiddellik bygevoeg dat die moontlikheid nie uitgesluit word dat die pamflet in werklikheid deur witmense versprei is nie.

  1. Toe die sogenaamde Rhodes Must Fall-veldtog in volle swang was, het die leier van hierdie veldtog klasse ontwrig, wit lektore geïntimideer en gesê dat witmense doodgemaak moet word. Hierdie veldtog is egter steeds as heldhaftig deur die regering beskou, en ons hoor steeds dat sy ideale nierassig is.
  1. Toe swart studente wit studente by die Elsenburg Landboukollege met swepe en sambokke aangeval en aangerand het, het die visekanselier en bestuur van die Universiteit van Stellenbosch hul daarvan weerhou om uitsprake te maak oor wat gebeur het. Toe AfriForum Jeug egter betrokke raak en verklaar dat hulle privaat sekuriteitsfirmas gaan aanstel om onskuldige studente te beskerm teen die aanvalle van betogers, het dieselfde universiteitsbestuur klaarblyklik gereageer en gesê dat AfriForum Jeug se optrede (nie die optrede van betogers wat mense aangerand het nie) besig was om die universiteit te polariseer.
  1. Wanneer witmense die uiters verkleinerende sogenaamde “k-woord” gebruik, argumenteer ʼn baie klein groepie van hulle dat die woord ʼn historiese betekenis het wat niks met rassisme te doen het nie en om daardie rede kan die woord nie as rassisties beskou word nie, en dat swartmense se gevoel oor die woord dus irrelevant is. Dit is natuurlik ’n belaglike argument. Maar wanneer swartmense sing oor hoe witmense honde en verkragters is en hoe hulle geskiet moet word, gebruik dieselfde mense wat kwaad word wanneer witmense oor die k-woord argumenteer, vinnig presies dieselfde argument om hierdie rassistiese liedjies te beskerm. Hulle argumenteer dan dat die liedjies ’n historiese betekenis het wat anders is as wat die woorde daarvan aandui. Hulle argumenteer dat witmense se gevoel hieroor irrelevant is. Die ANC was bereid om hof toe te gaan om hulle sogenaamde reg om die liedjies te sing wat daaroor handel om witmense te vermoor, te beskerm.

Ek kan voortgaan om nóg voorbeelde te noem, maar weens tydbeperkings sal ek nou afsluit.

Hierdie verskynsel, dames en here, kan dubbele standaarde genoem word. Dit kan ook as swart bevoorregting (black privilege) beskryf word.

  • Swart bevoorregting is die voorreg om rassistiese beleide te implementeer en dit dan “transformasie” te noem.
  • Dit is die voorreg om in staat te wees om op ʼn verhoog voor die staatspresident te staan en te sê dat alle witmense kriminele is en sodanig behandel moet word, sonder dat hy ʼn oog knip.
  • Dit is die voorreg om deur potensiële kandidate te sif vir die aanstelling van regters gebaseer op hulle gewilligheid om die ANC se politieke ideologie uit te voer.
  • Swart bevoorregting is die voorreg om te bepaal wie wettiglik toegelaat mag word om hulleself Afrikane te noem en wie nie.
  • Dit is die voorreg om teen apartheid uit te vaar omdat rassistiese beleide geïmplementeer is, maar om dan om te draai en presies dieselfde ding te doen en daarmee weg te kom.
  • Dit is die voorreg om aanvaar te word om medies te studeer en ʼn dokter of ʼn chirurg te word, ten spyte daarvan dat jy nie aan die minimum vereistes voldoen het om in die eerste plek toelating tot ʼn mediese fakulteit te verkry nie, terwyl wit kinders wat wel die vereistes gehaal het, afgekeur word, omdat hulle wit is en vir jou moet plek maak.
  • En die ergste van alles: Swart bevoorregting is die voorreg om te argumenteer dat jou ras só superieur is, dat jy uitgesluit word van die basiese definisie van rassisme en dat jy nooit rassisties kan wees nie, bloot omdat jy swart is. Dít, dames en here, is die uiterste vorm van rassisme.

Ek glo dat ek sommige mense moontlik kwaad gemaak het met hierdie toespraak.

Indien dit wel die geval is, sal ek nou doen wat van wit mans verwag word: Ek sal om verskoning vra en gaan sit. Maar moenie bevrees wees nie, want hierdie is ’n demokrasie. As julle wil kan ons nou stem of my argumente geldig is. Dan kan julle, as die meerderheid, my uitstem.

Maar dít, glo ek, is die nuwe verhaal van Suid-Afrika.

Gewapende roof by Centurion-winkelsentrum

$
0
0
Heide Marie Meier-juweliers (Foto: Mall@Reds)

Heide Marie Meier-juweliers (Foto: Mall@Reds)

Gewapende rowers het Saterdagmiddag toegeslaan op ʼn juwelierswarewinkel by die Mall@Reds in Centurion, Gauteng.

Volgens die bestuur van die sentrum het die rooftog by Heide Marie Meier-juweliers plaasgevind.

Konstabel Moloto, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig beamptes is steeds op die toneel. “Daar is nog nie besonderhede beskikbaar van die toneel nie. Die beamptes is steeds besig met die ondersoek,” het hy gesê.

Dit is nie duidelik of enigiemand in die voorval beseer is nie en Maroela Media kon nog nie bevestig of enigiets gesteel is nie.

Meer inligting volg.

23-jarige sterf in PE-vliegtuigongeluk

$
0
0
Argieffoto van 'n Cherokee-vliegtuig (Foto: PiperPA-28-236DakotaC-GGFSPhoto4 deur Ahunt via Wikimedia Commons)

Argieffoto van ‘n Cherokee-vliegtuig (Foto: PiperPA-28-236DakotaC-GGFSPhoto4 deur Ahunt via Wikimedia Commons)

ʼn 23-jarige vlieënier is Saterdag dood ná ʼn ligte vliegtuig by ʼn lughawe in Port Elizabeth neergestort het.

“Paramedici is omstreeks 12:50 na die toneel ontbied,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, in ʼn verklaring gesê. “Die Cherokee-vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het, by die grensdraad neergestort en aan die brand geslaan.” Die man het beswyk aan sy beserings.

Volgens Botha is die oorsaak van die ongeluk nog nie duidelik nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

Maroela Media het Vrydagaand berig ‘n man is dood nadat sy mikrovliegtuig naby Randburg in Gauteng neergestort het.

Gedagte vir die dag: Laat God toe om jou lief te hê

$
0
0
vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Lees: Romeine 8:31-39

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Romeine 8:38-39)

Paulus verseker die gemeente van Rome dat niks hulle ooit van Christus se liefde vir hulle kan skei nie. In Romeine 8:35 lys hy traumatiese gebeure wat ons dalk aan God se liefde vir ons kan laat twyfel: lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar en die swaard. In ons kernverse beklemtoon hy vir die tweede keer dat heeltemal niks ooit tussen ons en God se liefde vir ons kan inbeweeg nie, selfs al voel dit soms vir ons so.

Jerry Sittser, die Amerikaanse professor oor wie ons gister gesels het, vertel hy was so getraumatiseerd ná die ongeluk waarin hy soveel van sy hartsmense verloor het, dat hy dit net nie kon regkry om te bid nie – al wat hy kon doen, was om God toe te laat om hom lief te hê. Hy kon skaars glo dat God mense kan liefhê en steeds soveel pyn in hul lewens kan toelaat. Dit is juis deur hierdie ervaring dat hy ontdek het heeltemal niks kon hom van God se liefde skei nie, getuig Sittser, nie eers sy eie onvermoë om Hom lief te hê nie.

God se liefde vir jou bly konstant, selfs in daardie tye wanneer jy twyfel aan jou liefde vir Hom.

Hemelse Vader, ek wil U nou toelaat om my lief te hê, selfs al verhinder my omstandighede my om U lief te hê. Ek weet dat niks my van u liefde kan skei nie. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

Boek:  Die Bybel –  met Grassroots-oordenkings deur Angus Buchan

$
0
0

Die-Bybel_Angus-Buchan.jpgAngus Buchan

Angus Buchan se boodskap is duidelik en op die man af – en dit kom direk uit die bladsye van die Bybel.

Die Bybel – met Grassroots-oordenkings deur Angus Buchan kombineer die volledige teks van die Nuwe Lewende Vertaling met die insig van 366 uitgesoekte oordenkings deur Angus. Angus se eenvoudige, praktiese voorbeelde sal lesers uitdaag om te groei en te leef na God se welbehae.

Lesers kan nou saam met Angus deur die Bybel stap. Dié Stiltetydbybel bevat ’n Bybelleesplan vir een jaar, teksverse vir spesifieke behoeftes en ’n lys Bybelse beloftes wat hulle sal help om God se beginsels vir die lewe te ervaar.

Die Bybel – met Grassroots-oordenkings deur Angus Buchan help gelowiges om terug te keer na God se beginsels. Dit is hier waar die belofte van ’n Geesvervulde lewe begin.

Oor die outeur

Angus Buchan het die roeping ervaar om die evangelie te verkondig, en in 1980 stig hy Shalom Ministries in Suid-Afrika. Hy skryf, neem TV-boodskappe op en reis om die woord van God aan mense wêreldwyd te bring. Hy is voltyds evangelis en ’n gewilde spreker. Angus en sy vrou, Jill, bly op die plaas Shalom in die KwaZulu-Natalse Middelland.

Uitgewer: CUM-Uitgewers
Prys: R459,95 (Hardeband)* / R559,95 (Luukse leer)*
*Prys onderhewig aan verandering


Ma, pa verdrink naby Zimbali

$
0
0
Argieffoto van die strand by Zimbali Foto: Zimbali Ocean Villas

Argieffoto van die strand by Zimbali Foto: Zimbali Ocean Villas

ʼn Ma en pa is Saterdag dood en hul dogters word in die hospitaal behandel ná ʼn verdrinkingsvoorval op die strand naby Zimbali-noordhek in KwaZulu-Natal.

“Ooggetuies het verduidelik die ma en haar twee dogters, onderskeidelik 23 en 16 jaar oud, het in die water in die moeilikheid beland en die pa is agterna om hulle te probeer help,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, in ʼn verklaring gesê. “Die pa het ook in die moeilikheid beland en lewensredders het hulle uit die water gehaal.”

Die ma en die pa was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. “Die 23-jarige dogter was in ʼn ernstige toestand en die 16-jarige was kritiek. Hulle is op die toneel gestabiliseer voordat die 16-jarige met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem is,” het hy bygevoeg. Die 23-jarige is met ʼn ambulans na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

Alberton-ongeluk eis 3

$
0
0
Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Drie persone is Saterdagaand in ʼn trompop botsing op die R59 in Alberton, Gauteng, oorlede.

“Paramedici is laat Saterdagaand na die toneel ontbied,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, in ʼn verklaring gesê. “Drie persone het reeds aan hul beserings beswyk. Een persoon het ernstige beserings opgedoen en hy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem.”

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

Supermark-rowers nog op vrye voet

$
0
0
Montana Crossing (Foto: Mall Guide)

Montana Crossing (Foto: Mall Guide)

Ses gewapende mans wat Donderdagaand op die Pick n Pay by Montana Crossing in Pretoria toegeslaan het, is nog op vrye voet.

Die mans het Donderdag die supermark betree toe kassiere besig was om vir die dag af te sluit, het die polisie Saterdag gesê. Hulle het die kassiere gedwing om kontant in sakke te druk en hulle het ook van die geldlaaie van die kitsbank in die winkel gebuit.

Hulle het die werknemers, wat agter die toonbank werk, gedwing om op die vloer te lê en sigarette gebuit, het die polisie gesê. Hulle het twee skote buite die winkel gevuur voor hulle in ʼn BMW en Audi gevlug het.

Die polisie het die verdagtes agternagesit en beamptes het die BMW van die pad afgedwing. Die verdagtes het te voet gevlug.

Die polisie het beslag gelê op kontant, kasregisterlaaie, selfone, ʼn hamer en klere wat in die motor agtergelaat is.

Die polisie het lede van die publiek gewaarsku die verdagtes is gewapen en gevaarlik en om hulle nie te konfronteer nie.

Noodlanding op Richardsbaai-strand

$
0
0
Foto: Zululand Observer via NSRI

Foto: Zululand Observer via NSRI

ʼn Ligte vliegtuig het Saterdag ʼn suksesvolle noodlanding op die strand by Richardsbaai uitgevoer nadat die skroef afgeval het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

“Die NSRI is omstreeks 11:15 ontbied ná berigte oor ʼn vliegtuig wat ʼn noodlanding op die strand by Richardsbaai gedoen het,” het Mike Patterson, adjunk stasiebevelvoerder van NSRI Richardsbaai, gesê. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en uMhlathuze se brand- en reddingsdiens het ook reageer.

“Niemand is in die voorval beseer nie,” het hy gesê. “Die ligte vliegtuig het ʼn suksesvolle noodlanding uitgevoer met ʼn plaaslike egpaar aan boord.” Die twee persone het nie enige mediese behandeling benodig nie.

Volgens Patterson het die skroef van die vliegtuig na bewering tydens die vlug afgeval.

Die burgerlike lugvaartowerheid is oor die voorval in kennis gestel.

*Maroela Media het Saterdag berig ʼn 23-jarige is dood toe sy ligte vliegtuig by Port Elizabeth neergestort het
*Maroela Media het Vrydag berig ʼn man is dood nadat sy mikrovliegtuig naby Randburg in Gauteng neergestort het.

[Foto’s] John Lennon-kitaar vir R33.9 miljoen verkoop

$
0
0
John Lennon en die akoestiese kitaar wat vir R33 miljoen verkoop is Foto: Julien's Auctions

John Lennon en die akoestiese kitaar wat vir R33 miljoen verkoop is Foto: Julien’s Auctions

ʼn Akoestiese kitaar wat John Lennon gebruik het om “Love me do”, “I want to hold your hand” en ander treffers te skryf en op te neem, is vir $2.4 miljoen op ʼn veiling verkoop.

Volgens Julien’s Auctions is die Gibson J-160E-kitaar Saterdag aan ʼn anonieme koper verkoop.

Die afslaers het gesê die kitaar is een van slegs twee van sy soort wat in 1962 van Amerika na Engeland vir Lennon en George Harrison gestuur is. Lennon het die kitaar vir ongeveer ʼn jaar lank gebruik voordat hy dit met Harrison uitgeruil het. Die kitaar het egter tydens ʼn Kersfeeskonsert in 1963 verdwyn.

Meer as 50 jaar het verloop voordat John McCaw van San Diego in Kalifornië verlede jaar ontdek het dat ʼn kitaar in sy besit moontlik historiese waarde het. McCaw het die kitaar in die laat 1960’s vir $275 gekoop en het verlede jaar ʼn tydskrifartikel oor Harrison gesien met ʼn foto waarop ʼn kitaar verskyn – met soortgelyke merke.

ʼn Kenner kon die kitaar se reeksnommer, houtgrein en merke vergelyk met die kitaar wat Lennon in die vroeë 1960’s gebruik het, het die afslaers in ʼn persverklaring bevestig.

Julien’s Auctions het bygevoeg ʼn vel van die drommestel wat die Beatles in hul veelbesproke vertoning op The Ed Sullivan Show (video volg onderaan die foto’s) gebruik het, is Saterdag vir $2.1 miljoen verkoop.

John Lennon se voorgeskrewe bril is Saterdag by dieselfde veiling vir $25 000 (meer as R350 000) verkoop.

John Lennon se akoestiese kitaar wat vir R33 miljoen verkoop is Foto: Julien's Auctions John Lennon en die akoestiese kitaar wat vir R33 miljoen verkoop is Foto: Julien's Auctions Die Beatles Foto: Julien's Auctions John Lennon se voorgeskrewe bril wat vir meer as R350 000 verkoop is Foto: Julien's Auctions Die Beatles Foto: Julien's Auctions Die dromvel wat vir byna R30 miljoen verkoop is Foto: Julien's Auctions John Lennon en die akoestiese kitaar wat vir R33 miljoen verkoop is Foto: Julien's Auctions
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>