Quantcast
Channel: Maroela Media
Viewing all 80349 articles
Browse latest View live

UP-gebedsbyeenkoms: ‘Ons droom nie in swart en wit nie’

$
0
0

Foto: ANA

Foto: ANA

Honderde studente het Woensdag naby die hoofingang van die Universiteit van Pretoria (UP) bymekaargekom om te bid.

Die groep van sowat 400 studente het in kleiner groepe verdeel, hande vasgehou en gebid. Die studente het die “rasgedrewe voorvalle” wat die afgelope paar dae op hul kampus plaasgevind het ten sterkste veroordeel.

“Dit breek my hart elke keer wat ek mense sien veg. Ek glo God is die antwoord. Soos my vriend gesê het: ‘Ons droom nie in swart en wit nie, ons droom in kleur. Selfs as ons slaap sien ons nie net wit en swart nie’,” het Tamra Golob, ʼn 21-jarige derdejaarstudent gesê. “God het ons almal lief. Ons is almal kleurblind. Swart of wit, ons is almal een.”

Paige Leresche, wat BSc omgewingswetenskap studeer, het gesê sy het die gebedsbyeenkoms bygewoon “om met God te praat” oor die rasseverskille op die kampus. “Ons is hier om met God te praat en Hom te vra om ons gesond te maak en om herstel en vrede te bring. Die probleme kan vreedsaam opgelos word.”

Awelani Mudau het gesê dit is ʼn geleentheid om ouer Suid-Afrikaners te wys dat die jeug vorentoe beweeg. “Ons wil Suid-Afrika na ʼn nuwe vlak neem.”

Henrico Gouws, wat BSc aktuariële en finansiële wiskunde studeer, het gesê hy glo dat die huidige spanning sal oorwaai. “Ons kan nie sê ons is ʼn reënboognasie nie, want ons staan nie saam nie. Ons is hier om te bewys dat swart, wit, Indiër, Chinees of wie ook al saam kan staan om die reënboognasie te vorm.”

Foto: ANA Foto: ANA Foto: ANA

Swanger vrou se verkragter gevonnis

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat skuldig bevind is aan die brutale verkragting van ʼn hoogswanger vrou is in die Ladybrand-streekshof in die Vrystaat gevonnis.

Ramakone Tsoeu, ʼn burger van Lesotho, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die slagoffer, ʼn 22-jarige vrou, het op 6 Augustus 2015 huis toe gestap in Lipelaneng, naby Hobhouse, toe sy aangeval is.

Tsoeu het ʼn ent saam met die vrou gestap voordat hy haar met geweld na ʼn nabygeleë steengroef gesleep en verkrag het. Tsoeu het sy slagoffer hierna aan ʼn boom vasgebind en gevlug. Die vrou kon later daarin slaag om haarself te bevry waarna ʼn saak by die Hobhouse-polisiestasie aanhangig gemaak is.

Tsoeu is ʼn paar dae ná die voorval in hegtenis geneem. DNS-toetse het hom positief aan die verkragting verbind. Lt.genl. Thabethe Mpembe, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom en gesê misdadigers wat vroue en kinders mishandel “sal tronk toe gestuur word waar hulle hoort”.

[Foto’s] Chaos by NWU

$
0
0

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Chaos het Woensdag by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus uitgebreek te midde van berigte dat veiligheidspersoneel skerp ammunisie gebruik het en ʼn student dood is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn motor van ʼn veiligheidsmaatskappy en twee universiteitsgeboue is tydens die onluste aan die brand gesteek. “Niemand is al in hegtenis geneem nie en ons ondersoek die voorval.”

Volgens berigte is die administrasie- en wetenskapgebou aan die brand gesteek. Koos Degenaar, woordvoerder van die kampus, het vroeër gesê talle studente is beseer nadat hulle met veiligheidspersoneel slaags geraak het.

“Daar was vanoggend ʼn geleentheid gehou waartydens die nuwe studenteraad ingehuldig is,” het hy gesê. “Studente het die geleentheid ontwrig. Veiligheidspersoneel het rubberkoeëls en traangas gebruik om die studente uiteen te jaag.”

Degenaar het gesê berigte dat ʼn student tydens die onluste dood is, is onwaar. “Dit is nie waar dat iemand dood is nie. Die gerugte dat veiligheidspersoneel skerp ammunisie gebruik het is ook nie waar nie.”

Studente het veiligheidspersoneel glo met klippe bestook toe hulle versoek is om te verdaag. Die studente het glo bymekaargekom en geëis dat Benz Mabengwane, voormalige president van die studenteraad, hulle toespreek.

Degenaar het gesê klasse is Woensdag opgeskort weens die geweld op die kampus. Op die Mafikeng-kampus se Facebook-blad is studente aangeraai om onmiddellik die kampus te verlaat ter wille van hul eie veiligheid. “Die kampus sal onbepaald gesluit weens brandskade. Alle studente moet die kampus verlaat en huiswaarts keer aangesien dit moontlik ʼn aansienlike tydperk sal neem om bedrywighede te hervat. Studente sal minstens ʼn maand vooraf kennis ontvang van wanneer die kampus sal heropen.”

Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter

Totsiens, Aardklop

$
0
0
'n Vorige advertensie wat die kunstenaar Kobus Galloway (Idees vol Vrees) vir die fees ontwerp het

‘n Vorige advertensie wat die kunstenaar Kobus Galloway (Idees vol Vrees) vir die fees ontwerp het

Die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat sedert 1998 in Potchefstroom aangebied word, word met onmiddellike effek in die huidige formaat gestaak.

Die direksie van Aardklop het Woensdagaand dié aankondiging gemaak. Volgens ʼn verklaring sal die Aardklop Stigting voortaan fokus op “nuwe, innoverende modelle om te verseker dat die uitvoerende kunste wel suksesvol bevorder en ondersteun word”.

“Die fees het ’n ongelooflike bydrae gelewer om die uitvoerende kunste te bevorder, maar dit is nodig om binne die kunstebedryf dinamies en innoverend te werk te gaan,” het adv. Louise Barretto, voorsitter van Aardklop en die Aardklop Stigting, gesê. “Die vraag ontstaan of ’n fees, wat vir die afgelope 18 jaar aangebied is, binne die hedendaagse milieu die mees geskikte werktuig is om die kunste te ondersteun.”

Barretto het gesê in ’n bedryf waarin daar tans byna uitsluitlik deur feeste ondersteuning vir die uitvoerende kunste gebied word, het die Aardklop-direksie tot die besef gekom dat dit noodsaaklik is om te innoveer. “Daar word gekyk na die ontwikkeling van nuwe inisiatiewe wat ’n dinamiese bydrae kan lewer tot die behoud, ontwikkeling en ondersteuning van die uitvoerende kunste. Gehalte sal steeds ons maatstaf bly,” het sy gesê.

Barretto het namens die direksie al die feesgangers, kunstenaars, borge en ander vriende van Aardklop bedank wat dit sedert sy ontstaan geesdriftig ondersteun en bygewoon het.

Andries Vrey, uitvoerende hoof van die fees, het Potchefstroom bedank vir sy vennootskap die afgelope 18 jaar. “Danksy die legendariese gasvryheid van ons gasheergemeenskap het mense jaar na jaar na Aardklop gestroom om in dié vriendelike stad fees te vier,” het Vrey gesê.

Clover, wat in 2011 as naamborg aan boord gekom het, het ook besluit om hul borgskap voort te sit. “Dit is ʼn bewys van Clover se toewyding tot die plaaslike kunstebedryf dat hulle hierdie opwindende nuwe pad saam met ons gaan stap,” het Vrey bygevoeg.

Volgens Vrey sal daar binnekort inligting oor die nuwe model en inisiatiewe bekend gemaak word, wat reeds vanjaar sal afskop.

[Resep] Koeksisters met warm gemmerstroop

$
0
0
koeksisters

Koeksisters met warm gemmerstroop Foto: Woestynkombuis

Lewer 16 tot 18 koeksisters

Bestanddele:

Stroop

  • 8 k suiker
  • 4 kwater
  • 3½ e gouestroop
  • 3 stukkies heel gemmer
  • 1½ t kremetart
  • ½ t wynsteensuur

Deeg

  • 5 k koekmeel
  • 2 e bakpoeier
  • ʼn knippie sout
  • 4 e botter
  • 2 k karringmelk
  • 4 k kookolie om koeksisters in te braai
  • Mielieblom

Metode:

Stroop

  1. Verhit al die bestanddele vir die stroop totdat die suiker opgelos is.
  2. Sit die deksel op en laat vir 1 minuut kook.
  3. Haal die deksel af en kook vir nog 5 minute. Moenie roer nie.
  4. Verwyder van die stoof en laat afkoel tot heeltemal koud.

Deeg

  1. Sif die mee!, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter in.
  2. Voeg die karringmelk by die mengsel en knie goed totdat dit klein blasies vorm (vir sowat 20 minute).
  3. Bedek vir 15 tot 20 minute met ʼn klam doek.
  4. Strooi die mielieblom op ʼn werksoppervlak. Rol die deeg sowat 5 mm dik uit en sny dit in reghoeke van 5 x 8 cm.
  5. Sny elke reghoek in die lengte in drie vingers, maar nie regdeur nie.
  6. Vou die beentjies twee maal oormekaar. Knyp stewig vas aan die oop kante.
  7. Verhit die olie en toets met ʼn stukkie afvaldeeg.
  8. Laat sak die koeksisters in die warm olie en diepbraai aan albei kante tot goudbruin.
  9. Plaas op kombuispapier vir ʼn paar sekondes om van die olie ontslae te raak en doop dadelik in die yskoue stroop, sodat dit kan intrek.
  10. Plaas die koeksisters op ʼn afkoelrak bo-op ʼn bakplaat.

Bron: Woestynkombuis 
Uitgewer: Fox and Raven Home

Begrafnis van die boer

$
0
0
droogte

Foto: Skymetweather.com

Deur Kallie du Plessis

Dit is met leedwese dat ek vandag moet aankondig my hoop en visie vir Suid Afrika het gisteraand om 7-uur met die uitsending van die nuusbulletin op TV gesterf. Met groot hartseer moes ek toesien hoe jong witmense veg om die behoud van hul taal en erfenis. Helaas was die oordonderende oormag te groot en die invloed van hogere magte, wat finansies en beleid orkestreer, is besig om die Afrikaanse taal en die geskiedenis daarvan te kelder. Daar word hard gewerk agter die skerms om die invloed en handhawing van alles wat na Afrikaans lyk en selfs net ʼn effense suggestie daarvan het, met die besem by die agterdeur uit te vee.

Die hartseer om ou historiese geboue te sien brand en duur onvervangbare skilderye in die vlamme te sien opgaan, saai verwoesting in my hart. Om te dink hoeveel studente hierdie paaie gestap het, hoeveel kennis oor die jare heen hier opgedoen en teruggeploeg is in die samelewing, die professors wat hier gedoseer het en die magdom boeke in biblioteke maak dat mens se gedagtes in ʼn malle rondomtalie wil gaan, dit is asof die brein weier om hierdie vernietiging te aanvaar.

Hoekom moet ons taal en erfenis die knie buig voor die aanslag van mense wat net wil hê, sonder om te weet wat dit geverg het om hierdie geboue, kennis en mense tot vandag toe hier te kry? Dit is oor dekades heen gevestig en briljante mense wat vandag hul plek in die samelewing volstaan, is die bewyse daarvan.

Mens kan nie net by bestaande opvoedingsinstansies instorm en eis alles moet oornag verander omdat jy ʼn taal en sy erfenis as jou mindere sien nie. Dit is om die wit Suid-Afrikaner weer en weer met ʼn spies in sy hart te steek, sy herkoms uit sy menswees te wil wring en hom te wil dwing om te vergeet waarvandaan hy kom. Dit kan mos nie!

Die SMS op my foon sê “Ons sien nie meer ʼn toekoms vir ons kinders in hierdie land nie”. My hart wil breek, want dit is my kleinkinders waaroor dit hier gaan.  Hoekom moet hulle weggejaag word, waarom het hul kultuur en erfenis die brandpunt van hierdie land geword?

My hart is bitter swaar vandag en daar is ʼn duisend hoekoms, soos met die afsterf van enige geliefde. Ek sal put uit my herinneringe, soos wat mens sal doen wanneer jy rou oor jou geliefde, want ek weet eendag sal die waaroms, daarom word.

Tot dan sal ek elke dag ʼn blom op my geliefde taal en erfenis se graf plaas, in die wete dat daar weer eendag ʼn “opstanding” sal wees, maar tot dan treur ek oor ʼn wonderlike taal wat ek bevoorreg was om lief te hê met my hele hart.

TUT-studente geskiet, gesteek langs kampus

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Drie studente van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hulle by die treinstasie langs die Pretoria-Wes kampus aangeval en onderskeidelik veelvuldige kere met ʼn mes gesteek en geskiet is.

Willa de Ruyter, woordvoerder van die TUT, het aan Maroela Media gesê in die eerste voorval is ʼn student verskeie kere met ʼn mes gesteek, vermoedelik in ʼn rooftog. “Hy kon daarin slaag om homself tot op die kampus te kry, waar die kampuskliniek hom gestabiliseer het voordat hy na ʼn hospitaal gehaas is,” het sy gesê.

Kort daarna is nog ʼn student, ook by die Metrorail-stasie, twee keer geskiet. Die student is ook deur die kampuskliniek gestabiliseer voordat hy met ʼn Netcare 911 helikopter na ʼn hospitaal vervoer is.

ʼn Derde student was die derde slagoffer van rowers by die stasie toe hy ook oorval en met ʼn mes gesteek is. Volgens De Ruyter is hy nie in ʼn kritieke toestand nie, maar moes hy ook gehospitaliseer word.

“Die universiteit is baie, baie besorg oor hierdie voorvalle en ons het dringend met die Metrorail-bestuur in verbinding getree oor die veiligheid van die studente by die stasie,” het sy gesê. “Hoewel die treinstasie nie deel van die kampus is nie en dus ook nie ons domein om te beveilig nie, het ons wel veiligheidswagte by die hek wat ook ʼn ogie oor die stasie kan hou. Hulle kan ongelukkig nie alles sien wat op die stasie gebeur nie.”

Sy het beklemtoon die aanvalle het niks met die betogings te doen wat vandeesweek op die Soshanguve-kampus gewoed het nie en al drie voorvalle was vermoedelik rooftogte of ʼn poging tot roof. “Ek weet in die een geval is die student se skootrekenaar en beursie gesteel. Dit is nie duidelik of iets by die ander twee studente gesteel is nie,” het sy gesê.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig hulle het ʼn 20-jarige student van TUT behandel. Sy het sy toestand as kritiek beskryf.

Man sterf ná perdebye hom op kleinhoewe steek

$
0
0
Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn Man in 60’s is dood nadat hy Woensdagmiddag op ʼn kleinhoewe deur perdebye gesteek is.

Volgens Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het die voorval in die Ixopo-omgewing, tussen Kokstad en Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal, plaasgevind.

“Die man is na bewering al voorheen deur ʼn by gesteek en het ʼn hewige allergiese reaksie gehad. Hy het medikasie gekry om by hom te hou ingeval hy weer deur ʼn by gesteek word,” het Botha gesê.

Die man se vrou het die medikasie toegedien nadat hy Woensdag gesteek is, waarna sy ʼn ambulans ontbied het. Sy het haar man in hul voertuig gelaai en met hom na die R612-pad gejaag, waar die ambulans hulle ontmoet het.

“Die man was bewusteloos toe paramedici hom ondersoek het. Hulle het langer as ʼn uur langs die pad probeer om sy lewe te red. Die pogings was egter vrugteloos en hy is dood verklaar.”


Skrywer Leon Rousseau oorlede

$
0
0

Leon Rousseau. Foto: NB Uitgewers

Leon Rousseau. Foto: NB Uitgewers

Leon Rousseau, samesteller van die uiters gewilde Storieman-versameling en skrywer van die jeugreeks Fritz Deelman, is in die ouderdom van 84 oorlede.

Leon Gerdener Rousseau is op 5 Maart 1931 in Kaapstad gebore. Volgens die uitgewer Human & Rousseau, het hy ʼn graad by die Universiteit Kaapstad verwerf, waarna hy by Die Burger begin werk het.

Rousseau en Koos Human het Human & Rousseau in 1959 begin. Een van Rousseau se bekendste werke is Die groot verlange, ʼn biografie oor Eugène Marais, wat in 1974 gepubliseer is. Hy is ook alombekend vir die jeugreeks Fritz Deelman. “Hy was net 25 jaar oud toe hy die eerste boek in die reeks in 1956 geskryf het.”

Hy het in 1984 ʼn Afrikaanse weergawe van die Britse Storyteller-reeks gepubliseer onder die naam Storieman. Dié uiters gewilde reeks het uit 30 boeke en 30 kassette bestaan. Dit word sedert 2012 heruitgegee.

Reuse kosskenking vir Witbank

$
0
0
Eiers

Die boer, wat verkies om anoniem te bly, het dadelik besluit om 18 000 eiers aan Solidariteit Helpende Hand se afleggingsnoodfonds te skenk. Foto: Verskaf

ʼn Goedhartige boer van Paulpietersburg in KwaZulu-Natal het deur sy kinders se sport te hore gekom van die krisis in Witbank ná grootskaalse afleggings by staalfabrieke in die gebied. Die boer, wat verkies om anoniem te bly, het dadelik besluit om 18 000 eiers aan Solidariteit Helpende Hand se afleggingsnoodfonds te skenk.

Mededinging in die Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskutterunie (SANSSU) is straf en leerders neem dit ernstig op. Daarom reël SANSSU jaarliks kompetisies tussen KwaZulu-Natal en Mpumalanga, maar vanjaar was daar min kinders van die Witbank/Middelburg-omgewing wat kon deelneem. Die boer se seun en dogter is albei kranige skuts en hy het by hulle gehoor van die situasie op Witbank.

Die boer, wie se familie al meer as 40 jaar in KwaZulu-Natal met pluimvee boer, het met Cornelius van Leeuwen, plaaslike Solidariteit-verteenwoordiger, in verbinding getree. Van Leeuwen het op 23 Februarie die vrag eiers op Paulpietersburg gaan haal en gereël dat die eiers verkoel word totdat dit uitgedeel kon word.

Nagenoeg 2 200 mense is deur die afleggings by Highveld Steel en Vanchem Vanadium Products geraak, van wie 300 Solidariteit-lede is. Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, moes baie van die afgelegde personeel sonder hul laaste maand se salaris en sonder ʼn skeidingspakket hul werkplekke verlaat.

Solidariteit Helpende Hand het op 19 Februarie bykans agt ton se kospakkies uitgedeel, in wat moontlik die eerste van vele uitdeelaksies in die gebied gaan wees.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het onlangs ʼn dringende beroep op die publiek gedoen om te help om die nood te verlig. “Ons het beslis die publiek se hulp nodig om hierdie mense by te staan en die onmiddellike nood te verlig. Ons is baie dankbaar vir die ruim skenkings wat ons reeds van die publiek ontvang het,” het Brink gesê.

Helpende Hand versoek die publiek om hulp aan te bied deur “Witbank” na 38969 te SMS om R10 aan die afleggingsnoodfonds te skenk, of deur www.helpwitbank.co.za te besoek vir Helpende Hand se bankbesonderhede as jy ʼn groter bedrag wil skenk . ʼn Lys van voorgestelde voedselskenkings is ook beskikbaar.

Beurse vir Afrikaansgrammatikawerkswinkel in Amsterdam

$
0
0
Argieffoto (Foto: fill, Pixabay)

Argieffoto (Foto: fill, Pixabay)

ʼn Internasionale Afrikaansgrammatikawerkswinkel word op 25 en 26 Augustus 2016 deur die Universiteit van Michigan, die Universiteit van Cambridge en die Meertens Instituut in Amsterdam aangebied.

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) stel reisbeurse beskikbaar vir magister- en doktorsgraadstudente en postdoktorale genote wat ʼn aanbieding by hierdie geleentheid wil doen.

Die werkswinkel verwelkom bydraes oor enige aspek van die Afrikaanse grammatika – hetsy vanuit ʼn beskrywende of ʼn teoretiese perspektief. Moontlike onderwerpe sluit in, maar is nie beperk nie tot die volgende:

Fonetiek
Fonologie
Morfologie
Sintaksis
Semantiek
Pragmatiek
Geskiedenis van Afrikaans
Sosiolinguistiek van Afrikaans
Verskillende variëteite van Afrikaans
Lees meer oor die werkswinkel

Doen nou aansoek vir die reisbeurs
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Mei 2016.

Boelie is nie net kinderspeletjies nie

$
0
0
boeliebeleid-boelies

Foto: Argief.

Die nooddiensorganisasie, ER24, het in ʼn onlangse verklaring gesê ouers moet kinders wat geboelie word, meer ernstig opneem ná ʼn jong seun byna sy eie lewe geneem het as gevolg van boelies by die skool.

Die 15-jarige seun het in ʼn brief aan sy ouers gesê hy neem sy eie lewe omdat hy geboelie word. Sy ouers het dié brief gelukkig vroegtydig gekry en kon die seun met behulp van berading anders oortuig.

Henning Jacobs, trauma ondersteuningskoördineerder van ER24, sê ouers moet aandag gee aan die gedrag van hul kinders om te bepaal of hulle geboelie word.

“Ouers moet bewus wees daarvan dat boelies in elke graad is. Die intensiteit neem toe met ouderdom. Dit is noodsaaklik dat stappe onmiddellik geneem word om ʼn kind wat geboelie word, te help. Dit is ook noodsaaklik om onmiddellik en effektief stappe te doen teen die boelie,” het hy gesê.

Jacobs het ook gesê kinders se persoonlikhede kan verander weens boelie by die skool. ʼn Kind wat altyd borrelend en gelukkig was, kan stil en depressief raak weens boelies. Ouers moet ook op die uitkyk wees vir leidrade soos ʼn verandering in skoolpunte of kinders wat paniekerig raak wanneer hulle moet skooltoe gaan.

“In uiterste gevalle kan dit veroorsaak dat die kind selfmoord pleeg. Afknouery kan selfs ook lei tot moord. Dit is noodsaaklik dat ouers ʼn vertrouensverhouding met hul kinders het. Ouers en onderwysers moet verseker dat kinders weet hulle mag hulp vra wanneer iemand hulle afknou,” het Jacobs gesê.

Jacobs sê boelie kan enigiets insluit soos dreigemente, terg of beswaddering, die verspreiding van gerugte of om ʼn persoon fisies skade aan te doen.

“Emosionele afknouery is outomaties deel van die trauma wat ervaar word wanneer kinders fisies geboelie word. Boelie gaan altyd gepaard met emosionele afknouery. Dit begin gewoonlik verbaal en emosioneel en dan loop dit oor na fisiese wangedrag,” het Jacobs gesê.

Jacobs herinner ouers ook daaraan dat boelie verskeie negatiewe effekte oor die langtermyn het. “Boelie kan sommige mense vir die res van hul lewe emosioneel beskadig. Kinders kan slegs die emosionele skade van boelie oorkom wanneer dit stopgesit word. Ouers moet net besef hoe ernstig dit is.”

Besoek ER24 se webwerf.

Só bly Afrikaans lewendig

$
0
0
afrikaans scrabble

Argieffoto

Jy kry ‘n heele aantal woorde n leer hulle speling n ook wt hulle biteekin n dan kompiteer jy met jou maaikies om te kyk wie se gehee die besti is. Kort voor lank spel jy hu hont yte bosyt! Om goet te kan spel, help natierlik ook om woordi se biteekinise te firstaan. So dis somer twiee flee mit een klap!
Dis nou wt ‘n mens ‘n intrisante proejek noem.

As jy dalk nie kop of stert van bogenoemde paragraaf kan uitmaak nie of dit dalk komies vind, sal jy
verstaan hoekom die ATKV graag mense wil help om beter te kan spel. “’n Mens wat goed kan spel, is iemand wat nog iets tot sy/haar mondering van ‘n ‘volledige mens’ kan voeg,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Opvoedkundiges raak liries oor dié onderwerp. Die ATKV stem saam … en wil help!”

ATKV-Spelathon 2015 was ‘n reusesukses. “Ons nooi graag skole om weer in 2016, of dalk vir die
eerste keer, deel te neem.”

Volgens die ATKV is die doel van die projek om geletterdheid in skole te bevorder, spelvaardigheid te onderlê, regverdigheid te beklemtoon en gesonde kompetisie aan te moedig. “Moedig gerus leerlinge aan om aan hierdie kompetisie deel te neem of om sommer net spel te begin geniet en word so deel van die groeiende getal mense wat opnuut die vreugdes van taal ontdek,” lui die verklaring.

ATKV-Spelathon is ‘n nasionale spelkompetisie vir moedertaal en niemoedertaalsprekers en word aangebied vir graad 6 tot 10 in Gauteng en graad 9 tot 10 in die res van die provinsies. Die inskrywingsfooi is R160 per twee leerlinge, per vlak. Dubbelmediumskole kan tot 4 leerlinge (Graad 9 en 10) per vlak laat inskryf.

Tans word ‘n opwindende nasionale finaal vir leerlinge in graad 9 en 10 aangebied. Bekendes in die mediawêreld soos Riaan Cruywagen en Ivor Price was al van die persoonlikhede wat kleur aan die geleentheid verleen het.

“Die skole hou hulle eie uitdunne om te besluit wie die skool gaan verteenwoordig by die provinsiale uitdunne,” het Tina Mashobane, projekorganiseerder, gesê. “Ons moedig onderwysers aan om die spellys onder al die grade wat deelneem, te versprei. Hulle kan die spellys as deel van taalonderrig aanbied. Leerders kan leer hoe om ‘n woordeboek te gebruik en die betekenis van die woorde na te slaan, hoe om woorde te gebruik om verskillende tye aan te dui, sinne op te stel of die sinne te gebruik vir kreatieweskryfwerk en mondelinge werk. Sodoende bly Afrikaans lewendig en relevant.”

Die sperdatum vir inskrywings is 29 Februarie 2016.
Vir meer inligting kontak Tina Mashobane by 011 919 9018, e-pos TinaM@atkv.org.za of besoek die ATKV se webwerf.

Boer, seun in hof na moord op medeboer

$
0
0

Schalk Myburgh en sy seun Schalk jr. Donderdag in die hof. Foto: ANA

Schalk Myburgh en sy seun Schalk jr. Donderdag in die hof. Foto: ANA

ʼn Boer van Noordwes en sy seun het Donderdag vlugtig in die Brits-landdroshof verskyn in verband met die moord op ʼn ander boer.

Schalk Myburgh en sy seun Schalk jr. word aangekla van die moord op Muraga Mavula, wat in Desember in Sandrift buite Brits vermoor is. Die pa en seun word daarvan beskuldig dat hulle Mavula voor sy 12-jarige seun doodgeslaan het.

Mavula is glo aangeval toe hy sy dooie bok naby ʼn waterkanaal in die area gaan haal het. Myburgh en sy seun het glo met ʼn bakkie oor Mavula gery nadat hulle hom aangerand het. Die saak teen pa en seun is tot 4 April uitgestel en hul borgtog van R500 elk is verleng.

Mukondi Mavula, die oorledene se dogter, het gesê hulle verstaan nie waarom hy vermoor is nie. “Ek verstaan nie waarom hulle op borgtog van R500 vrygelaat is nie. Hoe sal die landdros voel as dit sy pa was wat vermoor is en die beskuldigdes word op borgtog van R500 vrygelaat? Beteken dit my pa se lewe was net R500 werd?”

Boere en gemeenskapslede het buite die hof saamgedrom. Portia Duba, voorsitter van die vereniging van swart boere (Afasa), het gesê die moord op Mavula was rasgedrewe. Duba het gesê swart boere is bekommerd oor die persepsie dat daar verontwaardiging is wanneer ʼn wit boer vermoor word, maar wanneer ʼn swart boer vermoor word, is daar ʼn “oorverdowende stilte” van organisasies en groepe wat hulle beywer vir die regte van boere.

Jong seun vasbeslote om droom te bewaarheid

$
0
0
Tristan

Foto: Facebook/Tristan’s-wish.

Tristan Moore (12), ʼn kranige skopbokser van Velddrif aan die Weskus, is vanjaar vir ʼn derde keer na Amerika genooi om deel te neem aan die NMA-ISKA Skopboks-wêreldkampioenskap in Orlando, Florida. Hy kon die vorige kere nie die reis bekostig nie, maar is vasbeslote om Suid-Afrika vanjaar te verteenwoordig.

Volgens Tristan spaar hy elke moontlike geldjie en verkoop elke Vrydag worsbroodjies by sy skool om geld in te samel. “Ek het al omtrent R2500 gespaar.” Volgens ʼn vriend van die gesin maak Tristan baie opofferings om te spaar vir dié groot droom. “Hy spaar elke sent van sy sakgeld, hy het omtrent nie meer ʼn sosiale lewe nie en hy bestee gladnie meer geld aan rekenaarspeletjies nie.”

Volgens Tristan se Facebook-blad het sy gesin selfs DSTV prysgegee om te spaar. “Dit was moeilik om televisie op te gee, maar ek wil so graag Amerika toe gaan. Ek doen alles wat ek kan en my ma en haar wonderlike vriende help ook om my droom waar te maak. Selfs my 80-jarige ouma help ook!”

Tristan beoefen dié intense sport al vir 5 jaar en mens kan hoor dat dié kind ʼn absolute passie daarvoor het. ”Skopboks leer my om myself te verdedig – ek geniet dit vreeslik baie.”

Besoek gerus Tristan se Facebook-blad vir meer besonderhede.

Tristan Tristan

Pukke: ‘Gerugte van geweld onwaar’

$
0
0

'n Gebou in vlamme gehul Woensdagaand op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Twitter

‘n Gebou in vlamme gehul Woensdagaand op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Twitter

Die Noordwes Universiteit (NWU) het Donderdag gerugte ontken dat die Potchefstroom-kampus se hekke gesluit moes word uit vrees dat die geweld van die Mafikeng-kampus daarheen sal oorspoel.

Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die Potchefstroom-kampus, het aan Maroela Media gesê hulle is bewus van die dreigemente wat op sosiale media die rondte doen, maar geen voorvalle van geweld of betoging is by die Potchefstroom-kampus aangemeld nie. “Die hekke is geensins gesluit nie, almal kan kom en gaan soos hulle wil. Bedrywighede gaan voort soos normaal,” het sy gesê.

“Ons het ʼn hoër sigbaarheid van veiligheidspersoneel op die kampus aangesien ons bewus is van die dreigemente, maar alles is rustig en kalm hier.”

Die NWU se Mafikeng-kampus moes onbepaald gesluit word nadat betogers Woensdagaand verskeie geboue op die kampus aan die brand gesteek het, voertuie vernietig het en die kafeteria geplunder het. Traangas en rubberkoeëls moes gebruik word om die betogers onder bedwang te bring en hulle het gereageer deur veiligheidspersoneel met klippe te bestook.

Koos Degenaar, woordvoerder van die NWU Mafikeng-kampus, het Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê die kampus is stil nadat al die koshuise ontruim is. “Ons het die studente gevra om ter wille van hul eie veiligheid die kampus te ontruim. Die meeste studente is reeds weg.”

Op ʼn vraag of gerugte waar is dat die kampus vir die res van die jaar gesluit sal moet wees, het Degenaar gesê daar is nog nie besluit wanneer die kampus sal heropen nie. “Die institusionele bestuur van die universiteit is tans in ʼn vergadering en hulle sal hieroor besluit.”

Beide Degenaar en Scheppel het bevestig daar was navrae van studente van die Mafikeng-kampus om tydelik op die Potchefstroom-kampus gehuisves te word. Die bestuur sal ook hieroor besluit en later meer inligting gee.

Lily-myn: 3 werkers ná 20 dae steeds vasgekeer

$
0
0
'n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die lot van die drie werkers wat sedert 5 Februarie ondergronds by die Lily-myn in Barberton in Mpumalanga vasgekeer is, is steeds onbekend.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, sou Donderdag besoek by die myn aflê, maar moes dit met ʼn dag uitstel.

Zwane het Woensdag lede van die parlement oor die Lily-mynramp toegespreek en die pogings genoem wat aangewend word om die drie werkers, Solomon Nyerende, Yvonne Mnisi en Pretty Nkambule, te red.

Zwane het bevestig boorwerk aan ʼn tweede skag het weer begin, nadat dit oor die naweek gestaak moes word omdat ʼn boormasjien gebreek het. Die tweede skag sal as ʼn ontsnappingsroete vir reddingswerkers dien.

Die reddingspoging by die myn is vir twee tot drie weke vertraag na verdere insinkings. Gesondheids- en veiligheidsregulasies verhoed reddingswerkers om ondergronds te gaan voordat die ontsnappingsroete nie voltooi is nie.

Zwane behoort teen Vrydag ʼn opdatering oor die reddingsproses te kry.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

Supermark-brand: ‘Ons sal herbou’

$
0
0
Jumbo Cash & Carry brand. Foto: Via Intelligence Bureau SA op Facebook.

Jumbo Cash & Carry brand. Foto: Via Intelligence Bureau SA op Facebook.

Die brand by Super Jumbo Cash & Carry in Crown Mines in Johannesburg is geblus, maar brandbestryders is nog op die toneel om dele wat smeul, nat te spuit.

“Die winkel het erge skade opgedoen, waaronder strukturele skade en sal herbou moet word. Ons verwag die winkel sal teen die einde van die jaar heropen word,” het Gordon Letsoalo, woordvoerder van Massmart, die supermark se bedryfsmaatskappy, gesê.

Hy het gesê werkers sal intussen elders in die groep geakkommodeer word.

“Ons is besig om reëlings te tref om ons kliënte deur alternatiewe kanale te bedien. Jumbo Cash & Carry se pakhuis is daarnaby en sal hiervoor ingerig word.”

Die oorsaak van die brand is nog onbekend en sal ondersoek word sodra die gebou veilig verklaar is. Die brandweer, polisie en versekeraars sal die ondersoek behartig.

Die maatskappy het die Johannesburgse brandweer, onder leiding van die waarnemende distrikshoof, Jacque Malan, bedank vir hul “ongelooflike poging” om die brand te blus.

Maroela Media het vroeër berig goedere van omstreeks R100 miljoen het in die slag gebly nadat die brand omstreeks 05:00 by die supermark uitgebreek het.

Alle aandskofpersoneel is veilig ontruim. Niemand is vermis of beseer nie.

Klik hier om foto’s en ʼn video van die brand te sien.

ToekomsVenster: Hartlike diensknegte

$
0
0
drukkie-kyk-goed-na-ander

Argieffoto.

Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. – Rom 12:10

Ek het gister gesê dat diens aan mekaar ietwat strydig is met die idee van ’n slaaf. ’n Slaaf het sy of haar heer gedien – nie andersom nie. In die Christelike geloofsgemeenskap is ons almal dienaars. Almal dien mekaar. Dis nie ’n eensydige verhouding nie, maar wederkerig.

In hierdie vers in Romeine word die idee van ’n gesin opgeroep. Dit gaan in hierdie vers oor die hartlike onderlinge liefde van lede van een gesin, skryf Otto Michel. Alle gesinne het egter ’n rangorde – die oudste en die jongste, pa, ma, middel kind en witbroodjie!

Om seker te maak dat ons nie hierdie orde in die gemeente oordra nie, moet ons die hele vers lees: ‘bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.’ Hier is geen rangorde nie. Inteendeel, hier kom die ander persoon altyd eerste. Ons is voorbeelde van hoe ons die kroon op iemand anders se kop hou. Ons bewys eerbied. Ons gee die eer wat iemand toekom. Vir ons is die ander persoon se waardigheid van allergrootste belang.

Miskien was daar mense in die gemeente wat hulleself belangriker as ander geag het. ’n Verwysing hierna kry ons vroeër in die hoofstuk: ‘Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het’ (Rom 12:3). As jy dus na ander kyk, moet jy hulle die plek gee wat hulle toekom, omdat God ook aan hulle ’n sekere ‘maat van geloof’ – gawes – gegee het. As iemand dus die gawe het om te leer of te dien of te bemoedig of om leiding te gee (12:7,8), eer ons daardie gawes waarmee hulle die geloofsgemeenskap verryk.

Ek het een van die wonderlikste kollegas in my eerste gemeente gehad. Hy het hierdie vers van Paulus baie goed verstaan. Hy het die vermoë gehad om elke mens te laat voel dat hulle geëer word. Hy het die kroon op my en ander se koppe gehou. Vir hom het dit om Christus gegaan, nie om homself nie. Hoe vaar jy daarmee?

Enige Sanral-boete sal onwettig wees, sê VF Plus

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Dreigemente van organisasies wat Sanral se e-tolgeld moet invorder oor die moontlike vervolging van nie-betalers, kan in Sanral se gesig ontplof, het die VF Plus Donderdag gesê.

“Die VF Plus het reeds bewys dat die meetinstrumente wat in die e-tolstelsel gebruik word, nie gesertifiseer is soos die wet vereis nie,” het Anton Alberts, woordvoerder van die party, gesê.

Alberts het hom aangesluit by OUTA deur daarop te wys dat ʼn enkele mislukte poging tot vervolging in die hof, Sanral se totale kaartehuis in duie kan laat stort aangesien die presedent dan geskep sal wees.

Hy het bygevoeg die VF Plus het Sanral reeds daarop gewys dat hy nie aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voldoen nie.

Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het aan die VF Plus bevestig dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie.

“Dit is daarom duidelik dat enige poging van Sanral om geld in te vorder, bloot op grond hiervan onwettig sal wees,” het hy verduidelik. “Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus ongrondwetlik is. Die VF Plus het op aanbeveling van die Verbruikerskommissie ʼn afspraak vir 3 Maart vanjaar met Sanral gemaak om die onwettigheid van die meetinstrumente met hulle te bespreek.”

Alberts het gesê indien die party nie bevredigende antwoorde kry nie, sal hy voortgaan met stappe teen Sanral ingevolge die Wet op Verbruikersbesteding.

Viewing all 80349 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>